Archive | 7:26 vm

Vroegste Herinneringe….

24 Feb

Johan het hierdie wiel aan die rol gesit met sy geel mure. Ek het nou bietjie gedink gister en kon nie besluit watter een van 2 herinneringe die vroegste sou wees nie…. so ek deel maar albei wat moes gebeur het toe ek ongeveer 2 jaar oud was.

A

My neef van so 3 jaar ouer en ek was altyd saam. Het regdeur ons voorskoolse, laerskool en hoërskool dae gesorg vir menigte van die grys hare wat op ouers en grootouers se koppe verskyning gemaak het. Gooi dan nog die 2 niggies by en daar is stories wat nou nog hoogs geheim hanteer word……. en hier is waar dit heel moontlik begin het.

Ouma en Oupa het ‘n wonderlike groot erf met groot bome gehad. Op warm Somersondae na die tradisionele middagete is daar dikwels buite op die stoep gesit en kuier. Die kinders was toegelaat om op die gras rond te hardloop en hulleself met speletjies soos Wegkruipertjie, Koljander-Koljander, Balle ens. te vermaak.

Almal behalwe ek, ek moes by myself in my playpen onder die boom speel met my loodverf plastiek en yster speelgoed. Ek was nog te klein om saam met die ander rond te hardloop, met die moontlikheid dat ek in die strate mag beland. Nou van die jongere lesers sal dalk nie eers die speelhokke (of playpens) ken nie, niks so fancy soos wat vandag gevind word nie. Dit was maar ‘n traliewerk van hout wat aanmekaargesit word en dan ‘n sirkel vorm…. soos ‘n kraal.

Een van my vroegste herinneringe is dus as my neef my kom red het. Letterlik die een kant van die playpen opgelig het, sodat ek kon onderdeur kruip en saam rondhardloop.

En dit is waar Ma, Pa, Tannie, Oom, Ouma en Oupa se gryshaartelling begin het!

B

Die agtergrond: Ma, Pa, Ouma en Oupa…. en dan ek en my teddie in my stootkarretjie was op besoek aan die slangpark by Hartebeespoort. Daar was ook verskeie diere soos een spesifieke tier daar op hok. Hierdie tier is blykbaar altyd deur een van die personeel geterg…. en op die mooi dag besluit die tier toe nou genoeg is genoeg.

Toe die hokdeur oopgemaak word vir voertyd besluit Mnr. Tier toe nou die sekere personeellid lyk na ‘n beter middagete opsie as die stuk dooie rooivleis! In die warboel is die tier toe nou uit sy hok uit (seker iets soortgelyk aan my speelkraal – maar met glasvensters).

Daar was blykbaar chaos soos mense rondgehardloop het en oor mure wat met glasskerwe (die ou elektriese heinings) bedek was gesklouter het. Dit was net bloed en drama in ‘n egte Tarantino styl!  Pa en Oupa het gehelp met noodhulp vir die bloeiendes en kalmerende suikerwater vir die tannies. Ma en Ouma het saam met vreemdelinge in hulle kar gespring om weg te kom van Mnr. Tier af. Almal het gedink ek was saam met een van die ander…..

My tweede vroegste herinnering dus – Die trio van Ek, Teddie en die Pram – alleen –  met tientalle gillende en rondharlopende mense omring. ‘n Weerlose middagete op ‘n bord vir ‘n demoerin Mnr. Tier (wat ek gelukkig nie toe al besef het nie).

En dan wonder hulle waar my voorliefde vir skop, skiet, bliksem en emmers vol bloed flieks vandaan kom!

Deel met ons jou vroegste herinnering hier, of daar by Johan – of maak soos ek ‘n post daarvan!

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 48 other followers