Laat ons begin deur die Blitsbokke hartlik geluk te wens. Met nog 2 reekse oor is hulle al so ver voor dat ek dit betwyfel of een van die ander spanne hulle op die log sal kan inhaal! Die Proteas verdien ook natuurlik ‘n kloppie op hulle skouers, nadat hulle na Vrydagaand se loesing teruggekom het en gister Aussie gat geskop het!
Met beide van hierdie wedstryde was dit wonderlik om te sien hoe vol daardie pawiljoene was. Ek het natuurlik bietjie laat geslaap en kon nie kaartjies vir gister se wedstryd kry nie, en dit sou so lekker gewees het om daar te wees, want die Proteas het mos gewen.
Dit het my net laat wonder. Hulle sê daar is geen meer demoerin as ‘n vrou wat tenagekom is nie…. ek wil verskil – Erger is die ondersteuner wie se span nie wen nie. Ek was laas week Saterdag op uitnodiging by Coca-Cola Park, voorheen bekend as Ellispark. Ek is nie eers ‘n Leeus ondersteuner nie, maar dit was bitter hartseer oor hoe min mense daar was. Die Leeus het nou wel nie gewen nie, maar dit was ‘n wonderlike spanningsvolle wedstryd. ‘n Ongelooflike game rugby om te kon kyk, en die Leeus het hulle harte uitgespeel vir die paar ondersteuners wat wel opgedaag het. Presies dieselfde hierdie Saterdag in Bloem, splinternuwe opgegradeerde stadion. Eerste wedstryd na die opknappings, en NOG minder mense as wat by die Leeus wedstryd was.
Ek probeer om elke Super 14 wedstryd op televisie te kyk. Dit is wonderlik om daardie spanne, en spelers met hulle besonderse skills dop te hou. Ek het al bittermin leë stadions in die oorsese wedstryde gesien, maak nie saak waar die tuisspan op die leer lê nie.
Is die kaartjies net te duur in Suid-Afrika? Sal mense dus eerder betaal om hulle span te ondersteun as daar ‘n goeie kans is dat hulle aan die wenkant gaan wees? Sal dit nie beter vir die unies wees om vol stadions te hê teen ‘n laer prys, as leës teen ‘n duurder prys nie?
Daardie spelers speel nog steeds hulle harte uit, en ek is seker hulle sou daarvan hou as dit met ‘n volgepakte tuisskare is.
Onlangse ondersteuners: