“History is a guide to navigation in perilous times. History is who we are and why we are the way we are.’
- David C. McCullough -
Ek weet nie of daar in Afrikaans so ‘n beskrywende, rollende van die tong af woord soos “profound” is nie. 20 Mei in geskiedenis blyk profound te wees!
Nie net het Levis Strauss en Jacob Davis ‘n patent in Amerika geregistreer vir blou denims met klinknaels nie, maar die eerste gevangenes het ook by Auschwitz konsentrasiekamp opgedaag. Op 20 Mei 1983 is die eerste publikasie oor die vind van die HIV virus gemaak. Drie gebeure wat ‘n ongelooflike groot invloed op ons lewe, soos wat ons dit vandag ken gehad het.

foto: confusedvision @ flickr.com
Ons kan verder dan ‘n paar honderd jaar terug gaan. Name soos Christopher Columbus en Vasco da Gama het letterlik in hoofopskrifte verskyn rakende hulle ontdekkingsreise. Op 20 Mei 1506 is Christopher Columbus oorlede, en op hierdie selfde dag in 1498 het Vasco da Gama die eerste Europeër geword om Indië per see te bereik.
Ek dink die mens het altyd nog die gogga gehad om rond te beweeg en bietjie avontuur te ervaar. Vandag wel in ‘n kleiner mate as voorheen, as ons byvoorbeeld op vakansie gaan, of dit nou in jou eie land of oorsee is – met natuurlik heelwat makliker maniere van reis byvoorbeeld die vliegtuig wat jou in minder as ‘n dag van Suid-Afrika na Europa kan neem, waar dit skaars 100 jaar terug maande per skip geneem het.

foto: caveman 92223 @ flickr.com
En om ons nog verder met ons reise en planne te help, is die eerste moderne Atlas op 20 Mei 1570 deur Abraham Ortelius uitgereik.
Party van dit klein stappies, maar wat die fondament vir verdere en grotere werk deur ander gelê het, om ons lewens vandag beter, en gemakliker te maak as wat dit selfs 50 jaar gelede was.
En hoekom weet ons dit alles – Want iewers het iemand besluit om dit op te teken, en behoue te laat bly vir die nageslagte. Herodotus was ‘n Griek wat ongeveer in die 5de eeu BC geleef het. Hy het lang reise onderneem om die Meditereense en Swart See – en die moeite gedoen om alles neer te skryf wat hy ervaar en gehoor het. Hy word deur baie as die “Vader van Geskiedenis” beskou en is heel moontlik die eerste opskrywer van geskiedenis gebeure in so ‘n volledige en gedetailleerde vorm.
Voorwaar ‘n merkwaardige dag in geskiedenis – Maar ek wil vandag vir Herodotus salueer, en al die geskiedkundiges na hom, wat die moeite gedoen het om die geskiedenis op te skryf sodat ek en jy ook kan verstaan hoe die wêreld gekom het tot waar ons vandag is…. en dan natuurlik die nuuskierigheid te prikkel om self ook daar ‘n draai te gaan maak!
“Anybody can make history, only a great man can write it”
- Oscar Wilde -
Onlangse ondersteuners: