Archive | Julie, 2009

Die Week in ‘n Neutedop….

31 Jul

IMGP0838-1

Sjoe, 31 Julie, dit voel of dit net die ander dag 30 Junie was. Die jaar is besig om sommer vinnig-vinnig einde se kant toe te staan, en dit is belangrik dat elke dag moet tel. Dink aan die feit dat elke dag ‘n herinnering in die toekoms gaan wees. Ongelukkig is die werklikheid dat nie alle herinneringe mooi gaan wees nie, party gaan lelik en hartseer ook wees (en ander gaan sommer net snaaks wees). Die truuk is om aan hierdie te kan terugdink as gebeure wat jou as mens help vorm het. ‘n Mes wat jou gekerf het in die strewe om die beste mens moontlik te wees.

Jy moet vrede maak met, en aanvaar, dat dood jou konstante metgesel is. Dit kan enige tyd, enige plek binne sekondes gebeur. En slegs as jy vrede hiermee gemaak het kan jy waarlik begin lewe, want as jy die grootste vrees, dood, oorkom het – kan enigiets maar oor jou pad kom.

Hier is dan ‘n geskenkie aan die mans om die naweek af te skop (tesame met my voorspelling vir nog ‘n bok oorwinning) en ietsie aan die dames (‘n betroubare bron sê hy dink aan plase en hoenderkos). Ek wil ook aan elkeen ‘n gedig opdra die week. Gaan kies sommer jou eie een, en gaan lees hierdie juweeltjie wat ek daar raakgelees het.

Sonder enige verdere tydmors dan – Skep die mood, of dit nou Kurt of die tromslae van jou hart is. Ons soek koerantopskrifte hierdie naweek, en jy kan selfs jou eie prys kies – Goue Horing  of Platinum Doos. Alles “fake” natuurlik, maar gaan groot met die beste, sluwe, onderwater, gutterseks moontlik!

Poepholle Galore

30 Jul

Verdraagsaamheid kom al hoe moeiliker. Dit raak ook al hoe moeiliker om nie te veralgemeen nie. Ek lees gister ‘n verslag van Dr. Rudolph Zin, van die kriminologie departement van UNISA. Hy het oor ‘n tydperk navorsing gedoen oor misdaad en die misdadiger. Hy het ook die geleendheid gehad om heelwat gearresteerde en gevonnisde misdadigers te ondervra. Feit is dat huisbrake met 13.5% toegeneem het, en dat ten minste 30% van die geondervraagdes moord gepleeg het, of erken het hulle sou dit doen indien nodig.

90% is werkloos, en die ander 10% het hulle werk gelos omdat die lewe van ‘n inbreker meer lonend is. Die gemiddelde inbreker sal 103 inbrake oor ‘n sewe jaar periode doen voordat hy gevang word, waarvan omtrent slegs 8% uiteindelik gevonnis word. 65% sê hulle doen dit vir die geld om te spandeer op klere, karre en elektroniese luukshede. Slegs 35% sê dit was ter wille van oorlewing.

Feit is, die inbrekers raak nie net meer gewaagd nie, maar ook al hoe meer geweldadig. Alhoewel uitsprake soos “shoot to kill” van die nuwe kommisaris van die polisie, Cowboy Cele, heel moontlik dalk bietjie meer verduidelikend moet wees, veroorsaak daai klein flikkerende vlammetjie van onverdraagsaamheid amper dat daar ‘n bietjie hoop onder die emmer uit wil ontsnap dat dit meer letterlik, as wat dit bedoel was, opgeneem word.

Elkeen wat geweldadige misdaad al gepleeg het, of wat dit oorweeg, of wat dit beplan….. Jy kry ‘n ereplek HEELBO op die POEPHOL EREROL.

WEW….28/52

28 Jul

Ek wonder of ek ‘n goeie staker sou kon wees?

Ek twyfel, want staakseisoen is in die middel van die winter, net mal mense dans en sing op straathoeke in die winter. En ek sou nie so stupid kon wees om die strate met gemors te bestrooi nie. Gemors wat ek weer gaan moet skoonmaak nie.

Ai-toggie-toggie…

27 Jul

Eintlik moet ek maar liewer nie koerante lees nie – Nie die on-line of gedrukte tipe nie. Ek is naderhand so ontsteld dat die koerant nie eers meer goed genoeg is om my kaggelvuur aan die brand te steek nie. Ek wil graag 4 van die stories uitlig -

  1. ‘n Enorme onwettige aborsie ring is in Durban ontbloot. Mense doen hulleself voor as dokters, en doen onwettige aborsies met gesteelde instrumente en medikasie uit die hospitale. Die vrouens word gemiddeld so R1,500 gevra – en dit maak ook nie saak of jy al meer as 12 weke swanger is nie. Die een vrou beweer dat hulle haar R6,000 wou vra, R1,000 vir elke maand wat sy al swanger is. Is dit nie verniet by staatshospitale en klinieke nie? Wel tot op 12 weke ten minste, en daardan met spesiale toestemming?
  2. Ons, die goeie en getroue belastingbetalers betaal amper R10 miljoen jaarliks aan salarisse vir die verskillende koningshuise. Dit sluit natuurlik al die ander voordele uit. Koning Goodwill Zweletini kry byvoorbeeld R40 miljoen per jaar vir huishoudelike uitgawes – en dan gaan die koninklike paleise teen ongeveer R60 miljoen opgeknap word?
  3. Daar is ongeveer 4,000 geregistreerde taxis op die pad, wat onwettige veranderde Toyota Quantum paneelwaens is. Die tipe wat bedoel is vir die aflewering van bokse en grassnyers – nie passasiers nie. Die snaakse is dat ‘n groot gros van hierdie van die taxis is wat spesiale toestemming gekry het om passasiers tydens die Konfederasie Beker te vervoer, met die oog op die 2010 Wêreldbeker volgende jaar.
  4. Die ANC blyk vuur-en-vlam te wees met die beoogde nasionale mediese versekering. Hulle het Vrydag amptelik bekend gemaak dat hulle voortgaan met witskrifte ens. Die plan is om dit teen 2014 te implimenteer, sodat hulle darem seker EEN van die millenium doelwitte kan bereik. Dit blyk dat die enigste manier wat ons regering iets kan regkry is om nog tonne geld in daardie rigting te kanaliseer. DIT WERK NIE. Die Gesondheidsdepartement kry elke jaar meer fondse, en elke jaar gaan die hospitale en dienste net verder agteruit. Maak oop julle oë – die probleem is duidelik nie geld nie. Ek wil nou ‘n klip in die bos gooi, maar vir my is dit so duidelik soos die skrif teen die muur – Die (voorheen) private hospitale gaan oorval word met pasiënte, sodat jy nie eers ‘n pleister vir jou pinkie gaan kan kry nie, want hulle val darem nog nie uitmekaar uit nie. En as ek kyk na die bestuur van die Werkloosheidsversekering Fonds, gaan die Nasionale Mediese Fonds dieselfde paadjie loop, en uiteindelik nie die geld hê om die dokters en klinieke te betaal nie. En dan – Het Suid-Afrika GEEN gesondheidsdienste nie. Ai toggie, daar is darem nog hoop dat ek verkeerd is – maar geskiedenis is moontlik die finale spyker in die doodskis.

Die Week in ‘n Neutedop

24 Jul

IMGP0838-1Dit is nogal snaaks om daaraan te dink dat daar net 160 dae in hierdie jaar oor is. Nog so baie om te doen, en die tyd lyk so min. Ek het ook op ‘n Bosparra post gesien hoeveel Afrikanse blogs daar is wat ek nog nie gelees het nie….. ek dink ek gaan die grootste gedeelte van vandag spandeer om bietjie te gaan loer.

Ek kan op die oomblik twee probleme identifiseer waaraan daar nog hierdie jaar gewerk moet word.

Nommer 1 is die feit dat ek net nie kan ophou dink nie. Ek is permanent besig om dinge te probeer uitpluis, oordenk en weer bedink. Nie noodwendig sleg nie, maar somtyds parkeer ek die motorjie by die huis – en ek kan glad nie die rit van die werk af onthou nie. DIT kan ‘n potensiële GROOT probleem wees. Hierdie week was ek weer aan die dink oor die doodstraf, en hoeveel van my gevoelens daaroor moontlik gevuur kan wees deur ‘n persoonlike  ondervinding. Ek het wel tot ‘n halwe konklusie gekom dat my gevoelens oor die doodstraf baie langer as die vier jaar terug al gevorm was…. so tot nou toe het ek ook nog nie my siening verander nie.

Nommer 2 is gedeeltelik wel aangevuur deur omstandighede wat in September, vier jaar terug gebeur het. Ek het nog altyd ‘n probleem met commitment gehad, en nou sit ek nog met ‘n verskriklike vrees vir verlies ook. Nie nodig om te sê, hierdie gaan ‘n langer termyn plan wees. Wat wel interessant was, was die groot aantal posts in die blogosfeer juis oor verhoudings die week. Party bietjie tong-in-die kies en ander dan weer baie meer ernstig en oor gewigtige sake. Daar is ook die allerbelangrike bedsake bespreek, maar die mees aangrypendste vir my was die waarhede opgesluit in hierdie uitnodiging. Ek is nog steeds confused, maar nou ja – ons hou dit ‘n langtermyn projek.

Mag die volgende 160 dae van 2009 ‘n onvergeetlike Joyride wees. Dit is lekker koel buite – kry daardie kaggels aan die brand, gooi die kussings en komberse daarvoor, en mag jy hierdie naweek die mees romantiese sluwe onderwater, gutterseks ooit hê.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 48 other followers