Archive | Augustus, 2009

Klein Dingetjies

31 Aug

IMGP1391Klein dingetjies my vriende, klein dingetjies. Dit is al wat dit vat om my gelukkig te maak. En tog ontspoor die trein partykeer en kan ek so maklik saamgesleur word in die klastroom. En as jy eers in die klastroom is word jou geluk verskans.

Sit rustig terug en dink aan al die wonderlike boustene wat JOU lewe opmaak. Die seëninge wat daagliks ons lewe verryk. Ek het definitief meer as vele ander oor die wêreld. As jy dit wat jou beskore is vir jouself opnoem, lyk dit wat jy nie het nie klein en nietig. Dan voel ek soms ek moet my naam ook op die Poephol Ererol plaas.

Moenie bekommer oor die 10 dinge wat jy nie het nie, voor jy jouself nie verheug het in die 100 dinge wat jou wel beskore is nie. Met ‘n goeie gemoed kan jy dan die drome waarna jy nog streef een vir een aanpak.

Die Week in ‘n Neutedop

28 Aug

IMGP0838-1Ek hou nie van kerm en kla nie. Veral nie in ‘n week waar ek my tweede piekieverhaaltjie neergepen het, en agtergekom het hoeveel pret ek kan hê as ek net probeer onthou wat in my kop aangaan. Maar dan kom daar weke waar my verdraagsaamheid ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Ek wens daar was ‘n maklike manier om hierdie man stil te hou.

Julius Malema is besig om Suid-Afrika soos poepholle te laat lyk. En Liewe tannie Winnie moes natuurlik haar straaltjie ook kom bypis. Hierdie hele Caster Semenya sage is nou in ‘n politieke sirkus verander. Ek probeer regtig so verdraagsaam moontlik te wees, maar hierdie man is ‘n klip met ‘n groot mond en geen brein nie. Jy kan nie sulke kaf wil kwytraak nie, en ek kan nie verstaan dat die ANC bestuur dit net laat gaan nie. (Miskien sal dit veiliger wees om hom te verbied om enigiets anders as die WEER te bespreek) Ons is deel van die IAAF, wil hulle hê Suid-Afrika moet weer uitgeskop word? Ons is onderworpe aan hulle reëls en regulasies. Maar dit blyk duidelik weer dat reëls vir sekere mense min beteken, want dit het NIKS met rassisme te doen nie (Gelukkig het hy nie apartheid blameer nie, want dan was ek seker vandag opgesluit). Kan die man nie verstaan dat solank as wat jy die rassisme kaart speel, gaan dit definitief in ons samelewing bly voortleef (Hy was hierdie week definitief die houtkapper gereinkarneer)? En dit is eintlik belaglik snaaks dat hy nou eweskielik vir die vrou se regte opstaan!!

En dan kon Tannie-Winnie-Ek-Leef-Op-My-Eie-Planeet en sy bulder voor die wêreld uit dat sy nie sal toelaat dat Caster aan die toetse onderwerp word nie. Weereens geen bekommernis oor regulasies nie…. EN NOG ERGER – Die flippen toetse was al klaar gedoen. Net ‘n bewys dat sy nie ENIGSENS die atletiek of die sage om Caster gevolg het nie, en dat daar idiote in hierdie land is wat nie my verdraagsaamheid verdien nie. Dit sal tog so lekker wees as mens net jou vingers kan klap…. en POEF!

Goed, noudat ek klaar gevent het…. kan ek hierdie week rustig en met ‘n goeie gemoed afsluit. Ek sal vandag die hele dag my theme song neurie, en uitsien na die rugby more – En ek dink sommer ek sal ‘n varktjoppie op die kole gooi. Lente is in die lug! Ek kan dit sommer ruik! En dalk is dit nou die tyd om van daardie winter padding ontslae te raak. Terwyl oefening en reg eet seker die enigste beproefde manier is, kan jy dit blybaar ook deesdae doen deur slegs lip-ice aan jou lippe te smeer. Ai, die geldmakertjies darem maar!

Blykbaar moet die leer en boeie weggegooi word, wel miskien kan jy die whip hou… en moet jy nou ‘n saal aanskaf. En sonder enige verdere nonsens-praat van my kant af – ‘n Wonderlike naweek aan een en elk gevul met ongelooflike sluwe, onderwater, gutterseks – Rodeo-style – HEEEEEHAAAAAA.

Kortverhaal: 15:50 Op Die Platform

26 Aug

Ek het ‘n nuwe kategorie begin – Woordspel – Waar ek met woorde gaan speel. Hier volg dan nou die tweede kortverhaaltjie….

14:55 Op Die Platform

 Op die platform sit ‘n middeljarige dame met ‘n blommetjiesrok, sykouse en hakskoene op die enigste houtbankie wat nog heel is. Sy sit reg in die middel, arms uitgestrek na die kante toe, met hande wat op die rooi houtplankie, die een tussen die groene en bloue, rus. ‘n Statige vorm in ewewig. Sy is nie haastig nie. Die trein bring ‘n man wat vreemd is van aangesig, maar bekend in woorde. ‘n Hoekie-vir-eensames ontmoeting deur ‘n brief in die VroueKeur bewerkstellig. Die trein is cupid se vlerke.

 Op die platform, leunend teen die enigste koelteboom, staan ‘n jongman en suig aan ‘n Camel. Hy staar nikssienend na die rookdampe wat hy uitblaas. Hierdie dorpie het te klein geword om hom en sy jarelange boesemvriend te huisves. Dit is nou die vriend wat hy gisteroggend in ’n vurige omhelsing met sy verloofde op sy eie bed betrap het. Hulle het nie klere aangehad nie. Die trein is die deksel op sy liefdesverhaal.

 Op die platform is ’n stel tweeling-dogtertjies met blonde wipstert-poniesterte. Hulle hou hande vas en sukkel om hulle bene van die opwinding stil te hou. Uit hulle onsamehangende gebabbel en gelag skyn hulle opwinding helder deur. Hulle is geklee in enerse somerrokkies met wit sokkies en blinkswart Sondagskoolskoene. Hulle pa was vir ’n hele week lank weg na die groot stad toe vir besigheid. Die trein is die draer van geskenke.

 Op die platform staan ‘n jong dame half verskans agter die Stasiemeester-rooibaksteen-kantoortjie se muur met ‘n swart wye-randhoed op, laag oor haar oë getrek. Die hoed het ‘n groot geel sonneblom op. Sy loer kort-kort senu-agtig heen en weer onder die hoed uit. Sy wil tog net ongesien hier wegkom. Vader en Moeder mag nie weet van die baba nie. Vader is ten minste die Dominee, en die floute sal Mevrou Dominee oorval oor die skaamte. Die trein is haar silwerspoor-ridder.

 Op die platform staan ’n bejaarde man met die blou uniform van ’n posman aan. Sy gesig is vriendelik en sy wit baard lyk soos die van Kersvader. Hier staan hy week in, en week uit, jaar in en jaar uit, elke Maandag vir die possak en wag. Dit is nou al 50 jaar, en vandag is die laaste keer. Hy tree af. Later vanmiddag nog sal hy die pos sorteer, sodat hy dit more nog kan aflewer. Hy probeer altyd vooruit skat. Vandag dink hy 25 briewe en 5 pakkies. Die trein is die dorp se boodskapper.

 Op die platform, met voete geplant op die laaste rytjie bakstene staan ’n man geklee in ’n withemp en denimbroek, met wit Nike drafskoene. Dit is sy doodspak. Hy het vandag die moed opgebou om hom voor die trein se rollende ysterwiele neer te vel. Een dag lank gelede was hy die bankbestuurder. Toe was hy die bankrower. Toe was hy die tronkvoël. Nou is hy die verwerpte alkoholis. Hy het niks meer om voor te lewe nie. Hy voel leeg. Die trein is sy doodsengel.

 Op die platform staan ‘n paartjie hand-om-die-lyf en giggel soos pasgetroudes. Hy met sy deftige bruin pak klere en blinkgepoetsde leerskoene, en sy in haar ligblou boetiek-pakkie, wit polvye en wit somershoed. ’n Wye verskeidenheid bagasie staan soos ’n vesting om hul gepak. Die portier staan soos ’n opgewende wekker en wag om te help met die oplaai.  Saterdag is hulle 25ste huweliksherdenking, en hulle spaar nou al vir 25 jaar vir hierdie oorsese vakansie. Die trein is hulle weer-begin.

 Op die platform staan ‘n nors man met ‘n swart pak en swart pet en silwer sakhorlosie in die hand. Hy loer eers na die sakhorlosie, en dan na die horlosie op die paal in die middel van die platform, reg langs die bankie met die blommetjies-rok dame. Hy doen dit ’n paar keer gevolg deur die skud van sy kop. Dieselfde paal het twee luidsprekers net onder die horlosie. Die een wys Noord en die ander een wys Suid. Hy is die Stasiemeester en glo aan stiptelikheid. Die telefoon is sy kantoor lui skril en hy verdwyn ongeerg by die deur in. Die trein is nooit op tyd nie. Die trein is sy weeklikse opwinding.

 Op die platform kom ’n geruis oor die luidsprekers. Dit is nou 15:05. Almal op die platform kyk op, en in die rigting van die luidsprekers. Selfs die jong dame met die swart-sonneblomhoed. In ‘n baie offisiële Stasiemeester-stem galm dit luid oor die platform: “Die trein is gekanselleer, want die steenkool het natgereën. Kom weer volgende week terug.”

 Op die platform staan daar ‘n paal met ‘n blink, witgesig horlosie op, bokant twee luidsprekers. Dit is nou 15:10. 

WEW….31/52

25 Aug

Ek wonder waar de hel die volgende sy oorsprong het. Dit is nou al letterlik so in mense inge-superglue dat die kultuurstatus bereik het. Onthou julle die speletjie “follow-the-leader”? Miskien was dit die begin, en nou sit ons met miljoene mense wat nie verantwoordelikheid kan vat vir dade nie…….

“Maar almal doen dit”

penguin

Die WIL, bo alles…

24 Aug

800px-Flag_of_the_United_States_svg

Die Verenigde State van Amerika het ‘n populasie van 300,000,000. Die GDP per capita is ongeveer $45,000. Amerika het 22 medaljes op die IAAF kampioenskappe gewen, 1 vir elke 13,6 miljoen inwoners. 10 van daardie medaljes was goud, of 1 vir elke 10 miljoen populasie.

600px-Flag_of_Jamaica_svg

Die Karibiese eiland, Jamaica het ‘n populasie van amper 3,000,000 mense, 100 maal minder as Amerika. Die GDP per capita vir Jamaica is ongeveer $7,500 (6 maal minder as Amerika). Jamaica het 13 medaljes gewen, ongeveer 1 vir elke 230,000 inwoners. 7 van hierdie was goud, dus ongeveer 1 vir elke 428,000 inwoners. Twee van hierdie goues is dan ook natuurlik gekoppel aan wêreldrekords in die 100m en 200m vir mans.

Amerika het al die geld EN al die fasaliteite, tog kan ‘n klein Karibiese eilandnasie hulle ore aansit.

Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Mens moet nooit moed opgee, nog voordat jy probeer het nie. Die mens is ‘n ongelooflike komplekse wese, met  die regte gesindheid en die wil kan wondere verrig word. Medaljes is die viagra vir nasietrots, en nasietrots is aansporing vir die jeug. As Jamaica jeug-atletiek kampioenskappe elke jaar hou, is daar ten minste 30,000 inskrywings!

(PS. Ek moet ook net noem dat Suid-Afrika se twee goue, en 1 silwer medalje ons negende op die medalje-lys plaas, 1 plek BOKANT Australië!)

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 44 other followers