Archive | 7:08 vm

The Truth, and Nothing But….

11 Sep

UPDATE : DONE!

Goed, lyk vir my tag-seisoen het saam met lente aangebreek… maar hierdie een kan nogal interressant wees – en dit raak dalk net van die onweerswolke in my gemoed ontslae…..

PJ het dit begin en Sonkind het gevolg en toe Girlie en nou is dit voor my voordeur.

Blykbaar werk dit so -

Jy mag my enigiets vra, wat ek dan op die post moet antwoord. As ek dit nie wil antwoord nie moet ek ‘n snaakse storie in die antwoord se plek opmaak. Party lesers voel dalk bietjie skaam – so julle mag maar onder skuilname ook vra – laat waai!!

(Maar as ek by die ander plekke na van die vrae kyk, is niemand baie skaam nie!)

Ek gaan hierdie naweek bietjie my muisneste en kopgoggas van hierdie week onder beheer kry…. maar belowe antwoorde Maandag!

O ja – Amper vergeet ek – Ek daag Boervrou en die Werwers uit om dieselfde te doen.

 

My Week in ‘n Neutedop….

11 Sep

Vandag gaan dit oor my. My week. Wat my geraak het hierdie week. Ek is nie in die beste van gemoede nie, en die oorsaak is tweeledig.

Saterdag is ‘n ou varsity-vriend en klerkskap kollega oorlede. Dit was skielik. Dit is hartseer. Dit is altyd ‘n skok as die oorledene in jou eie ouderdomsgroep val. Maar ek het gister met mooi herinneringe my ander oud-kollegas vergesel na die begrafnis. Een ding was ons almal van bewus, hy was ‘n ongelooflike man, vriend en pa. Hy was die persoon wat my altyd kon laat lag.

Ek was nog altyd oopkop. Kan na enigiets kyk, na enigiets luister of enigiets lees en dan my eie besluite maak of ek daarvan hou of nie. Ek is sekerlik een van die verdraagsaamste persone wat ek ken. Ek probeer vooroordeel soos die pes te vermy.

Ek was nog nooit so naby, soos ek gister was om uit ‘n kerk uit te stap nie. Ek probeer nou nog verstaan wat die pastoor se hele idee met sy preek was. Dit was nie net totaal en al onvanpas nie, maar deurdrenk met wilde aannames en ek gaan dit nou reguit sê (want ek kan aan geen ander beskrywing dink nie), bullshit.

Sy preek het heel skaflik begin met die idee dat mens nie weet wat die dag van more inhou nie, dit is God se wil dat daar ‘n more, volgende maand, of volgende jaar in jou lewe gaan wees. Daarmee kan ek nog saamleef, maar dit is toe dat die trein ontspoor.

Hy het voortgegaan deur te sê hoe ons vir ons leiers moet bid, want hulle maak nie net besluite wat ons almal raak nie, God sien ook die besluite as deur jou, in jou naam gemaak. God kyk kollektief na die dinge, en nie net na die spesifieke sondaar nie. (Op hierdie stadium was ek nog nie seker of ek dalk verkeerd hoor nie, want dit was definitief ook nie net my interpretasie van sy woorde nie – hy het dit reguit SO gesê). Toe begin daar ‘n relaas oor die tipe boeke wat ons leiers toelaat om die land binne te kom, en dat hierdie boeke die mense sleg beinvloed en dan die Bybels lê en stof vergaar. Ek probeer nou nog die lyn verstaan… maar hy het op ‘n manier hierdie euwel boeke deurgetrek tot by aborsie. Ons moet bid vir ons leiers, want God sien hierdie besluite as kollektief deur ‘n land gemaak….. en daarom straf God ook kollektief. Kollektiewe weerwraak. Ons moet bid vir ons leiers sodat ons ons Afrikaner Suid-Afrika kan regstel. (I kid you not)

Teen hierdie tyd het ek al amper tien hartaanvalle gehad. Maar wag…. dit raak beter.

Daar is bewyse van die kollektiewe, weerwraak straf.

‘n Paar jaar gelede het die Amerikaners een oggend nog lekker in hulle beddens, sonder enige bekommernis gelê. Die lewe was goed, en hulle het geld, en hulle gee nie om nie. Die volgende oomblik vlieg daar toe 2 terroris vliegtuie in die 2 pragtigste toring-geboue in. Duisende sterf. God straf die Amerikaners vir hulle kapitalistiese geldgierigheid. WAG! Dit raak beter!

Dogtertjies word opgesluit deur mense en as prostitute uitverhuur. Jy kan enige tyd van reg oor die wêreld soontoe gaan en die kinders seksueel gaan molesteer teen betaling. Kinderprostitusie. Die land. Indonisië. En ja julle raai reg…. hulle word gestraf met ‘n Tsunami en 250,000 mense sterf.

Ek was totaal en al stomgeslaan. Uitgeslaan. Platgeslaan. Ek glo nie ek het al so baie verskillende emosies op een slag ervaar nie.

Ek is bitter teleurgesteld dat die man, ‘n herinnerings kerkdiens van ‘n wonderlike man, met so ‘n klomp drek kon besoedel het…….

Oseas 2 143

Slaap rustig ons vriend…. jou lewe was kort, maar vol. Die mooi herinneringe van jou lewe sal vir lank wees.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 46 other followers