Archive | Oktober, 2009

Die Week in ‘n Neutedop….

30 Oct

Die Weeklikse Neutedop Drukpers is bietjie gebreek. Die drukpers moet uitmekaargehaal word, deur my, en mag dalk ‘n rukkie neem om weer al die skroefies in die regte plekke te kry met die aanmekaarsit. Die Neutedop begin voel soos werk elke Vrydag…. en enigiets wat soos werk voel is nie meer lekker nie.

Julle raak egter nie so maklik van my ontslae nie, en sal nog vir ‘n baie lang tyd met my ander skrywes moet saamleef. Daar is nog te veel dinge wat in die Demoerinbrein aangaan wat moet UIT!!

Die Curriebekerfinaal naweek het uiteindelik aangebreek!! HEEEHAAAA

6BullsWP1009_800

www.thebulls.co.za

Al my beste wense aan die Bulspan. Sal dit darem maar nie lekker wees om die Super14 EN Curriebeker titels te hou nie – IN EEN JAAR!

En natuurlik net so ‘n ietsie om ons te herinner dat dit nie net oor die outjies op die veld gaan nie…. maar ook die koeitjies langs die wit lyne:

Babes09_1

www.thebulls.co.za

En dan natuurlik my beste wense aan elke Bul-ondersteuner vir die beste, sluwe, onderwater, oorwinnaarsseks more aand…. en ‘n heerlike lekker oorwinnings babelaas Sondagoggend!

Contestants… ARE YOU READY!!

29 Oct
514px-Michelangelo_Caravaggio_007

Bacchus Deur Caravaggio

Groot was my verbasing (en tot my lewer se onmiddelike spyt) toe ek die uitnodiging van my vriende Bacchus en Dionysus ontvang vir ‘n bietjie middel van die week buitemuurse aktiwiteite. Ek was vas beslote, hierdie keer gaan ek hulle wys hoe Dawid die wortels versuip het. Gewapen met ‘n potlood, proe-notaboekie en ‘n glas het ek probeer om ongesiens in te sluip en rustig van ‘n hoekie af aan die spel te begin deelneem.

My onder-die-dekmantel, agter die skerms deelname was egter van korte duur, want toe Bacchus my eers gewaar, merk ek toe hoe hy knipoog in Dionysus se rigting…. en toe is dit verby. Bacchus speel sy troef en gooi meer as ‘n duisend uitstekende Suid-Afrikaanse wyne op die tafel. As dit strip-poker was het ek kaalgat daar uitgeloop.

Of jy nou van wyn hou of nie, die verskeidenheid wat by WINEX aangebied word is ongelooflik. Ek het probeer hou by die minder bekende, kleiner kelders of die boetiek-kelders, maar daar was selfs te veel van hulle, en die ongelooflike verskeidenheid, en die feit dat ek nie regtig voorkeure het as dit by Droë wit of rooiwyn kom nie, maak die proses net soveel makliker. Die ander pluspunt is dat jy natuurlik ook die kans kry vir proetjies uit die duurder bottels uit.

Life-From-Stone-2009Na al die geproe moet ek erken Springfield se “Life From Stone” bly nog een van my groot gunstelinge. Tee R80+ per bottel is dit seker bietjie duur vir ‘n Sauvignon Blanc, maar glo my as ek sê dit is elke sent vir elke milliliter werd.

Daardie quartz-klip hange waar hierdie wingerde staan verleen net op ‘n manier ‘n baie unieke smaak aan hierdie wyn…. in tweede plek sal ek Diemersdal se “8 Rows” ingooi, maar slegs tweede omdat dit nog duurder is.

Vir ietsie meer bekostigbaar, kan Bellevue Estate: Morkel se Sauvignon gerus probeer word – Ook met ‘n baie unieke smaak.

Sover dit die rooies aangaan het ek probeer (lees hard probeer) om by die versnittings te hou. Ek geniet op die oomblik die versnittings meer aangesien dit aan my ‘n baie meer “smooth” smaak gee. Daar was ‘n hele paar gunstelinge, maar ek wil graag die “Z” en “Fushion V”, beide van De Toren, en dan “Atticus”, weereens van Morkel uitlig.

As jy jouself in Jozi bevind, die WINEX is nog aan tot Vrydag aand by Sandton Convention Centre, en definitief die ingangsfooi en die hoofpyn werd.

PS. En Gelukkige verjaarsdag aan die Suid-Afrikaanse Wynbedryf – ‘n Volle 350 jaar oud!

WEW….42/52

28 Oct

Lees ek toe nou hierdie oor die waarde van ‘n geelwortel. Dit het my so bietjie aan die wonder gesit. Heel moontlik as ‘n plantaardige gewas, besef die geelwortel nie watter bydrae/verskil hy tot die haas se lewe maak nie. Dit het my aan hierdie laat dink:

Jy moet elke dag daarna streef om die beste mens te wees in alles wat jy doen, want jy weet nie altyd van ander in wie se lewens jou doen en late waarde toevoeg nie.

Dink bietjie daaroor: Klein dingetjies wat jy doen, of woordjies wat jy spreek mag dalk ‘n groot verskil in iemand anders se lewe maak. En omdat jy nie altyd daarvan weet nie, moet jy poog om in alles wat jy doen of sê – Net die beste te offer.

Wees elke dag iemand anders se 

“Beginning of the month Salticrax”

Dagdroom

27 Oct

DSCN0066

Ek gaan vandag hierdie foto my rekenaarskerms se agtergrond maak.

Dan kan ek myself die hele dag verbeel ek staar na die wolke by my venster uit.

Spiderman se nemesis….

26 Oct

Ons het ‘n wonderlike ding ontvang…. die brein. Hy kan onthou, hy kan dink, hy kan bereken. Hy werk op ‘n manier wat ek glo nie een van ons werklik ooit gaan verstaan nie. Hy is noodsaaklik vir menswees – maar die brein kan jou ook terughou. Te veel dink, te veel analiseer. Die brein kan jou superglue wees, wat jou op ‘n stadium van “Tevrede” vasplak. Die brein span dan ook partykeer saam met die psige en vrees om jou dinge wys te maak wat nie so is nie – Jy verkies om in jou gemaksone te funksioneer, want dit is wat jy ken.

En tog bied die wêreld soveel uitdagings en opwindende geleendhede wat nie net van jou fisies (dit is ‘n bykos), maar ook psigologies (dit is die hoofmaal) ’n baie sterker persoon kan maak. Dit is een van die redes hoekom iemand heel moontlik een keer na my Bucket List as Die Death List verwys het. Hoekom? Want vrees vir die onbekende maak jou dinge wys wat nie waar is nie. Dit is makliker om jouself wys te maak dat jy dit nooit sal kan doen nie, as om te probeer en dan die besluit te maak.

Ek het dit al een keer voorheen gedoen – En na gister glo ek die gradering van daardie enkele klim was moontlik iets soortgelyk aan die klimraam in die speelpark. Ek het al ‘n paar abseils gedoen….. maar tot gister nog nooit ‘n regte egte rockclimb nie… wonder wat is die Afrikaans – Klipklim?

DSCN0410

Kyk, ons spook al vandat ek hierdie mense laas jaar ontmoet het, om by ‘n klipklim sessie uit te kom. Dit het gister. Die truuk lê daarin om jou brein te uitoorlê, die harnas aan te gooi en dan sommer net te begin, voor jou brein ‘n kans kry om ‘n struikelblok in jou pad te gooi. Hulle sê “Mind over Matter” wat waar is, maar dan moet jy seker wees die “Mind” gedeelte is ook reg.

Ek sal nou nie sê ek gaan oornag in die beste klimmer ooit verander nie, maar die saadjie is geplant en die klim is uitstekende medisyne vir die psige…. en ek wil binnekort terug om daardie laaste klim wat ek nie kon voltooi nie te gaan klaarmaak.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 44 other followers