Archive | 10:50 vm

Woordspel…. ‘n Emmerlysie

7 Oct

Emmer

‘n Emmerlysie

Die verwronge hande lê styf teen sy sye vasgedruk. Asemhaling is diep en oneweredig. Elke moeilike leweteug bring pyn en lyding oor sy oë. Elke sekonde lewe verdrink in ‘n pynpoel. Die liggies op die monitors flikker soos laas Kersfees se kersboom. Die ritmiese klank van toerusting versteur die stilte…. En verleng ‘n lewe.

’n Dame kom die kamer binne. Sy dra die uitrusting van iemand soos ’n kunstenaar. Eintlik is sy ’n prokureur. Haar oupa se lewe het haar baie geleer. Haar oë is nog rooi van die huil in die kar. Haar grimering gesmeer oor haar wang waar ’n traan ’n hartseer pad gelos het. Sy het egter ’n groot glimlag op haar mond, maak nie saak wat nie – Sy sal vir Oupa opbeur.

Sy gaan sit eenkant op die bed en leun oor om hom ’n sagte kus op die voorkop te gee, terwyl sy saggies sy een hand druk. ”More Oupa” ”Lekker geslaap?”

Daar is geen antwoord nie, want die pyp in sy keel af verhoed enige vorm van gesprekvoering. Die verskyning van die lagplooitjies om sy oë is egter al antwoord wat sy nodig het.

Dit is nou tyd vir die aanvang van hul daaglikse roetine. Net hulle twee. In privaatheid. Gedeelde siele. Die album word uit die kassie nadergetrek, en sy begin by bladsy een. Elke dag by bladsy een. Sy gaan lê langs Oupa op die bed, en hou die album skuins dat hy ook kan sien. Een vir een maak sy melding van elke foto. Vertel sy weer aan hom die stories, wat hy die afgelope dertig jaar geduldig aan haar vertel het.

”Kyk Oupa, jy en Ouma op Everest se piek. Julle het mos amper daardie aand verkluim van die koue.” ”En hierdie een waar julle die Harley in Kaapstad gehuur het, en met groot gesukkel aan die maatskappy moes verduidelik hoe die motorfiets oor die afgrond onder in die see beland het.” ”Oooo, en hier is die een van my vyfde verjaarsdag. Ma was so kwaad omdat Oupa vir my ’n tattoo gekoop het. Al was dit een van daardie wat kan afwas.” ”En hier…… ”

Die herinneringe speel soos ’n strokiesprent voor sy oë af. ’n Vol lewe. ’n Lewe gevul met avonture. ‘n Lewe gevul met vriende en familie. Herinnering wat prysloos is.

”En hier is waar Oupa vir Oom Jan moes saamsleep na die Bungi jumping daar by die Stormsrivierbrug. Dit was net nadat Ouma oorlede is.”

“Oupa se bucket-list was sekerlik ‘n bucket-boek gewees om te kon onthou van al die dinge wat jy wou doen!” “Ek moet my lysie begin maak van al die dinge wat ek noeg moet doen.”

“En hier is die foto van Oupa se 80ste verjaarsdag laas jaar. Kyk net hoe het ons almal op die springkastele gebaljaar.”

Met die omblaai na die laaste bladsy in die album val ’n koevert uit wat nie gister daar was nie. Haar naam staan daarop. Dit is met die dat sy agterkom die dokter en verpleegster staan voor die bed. Jammerte oor hul gesigte ge-ets. Die ritmiese maat van die masjinerie is stil. Dit is die einde van Oupa se pyn. Dit is die einde van Oupa se lyding. Dit is die einde van Oupa se avontuur.

Die trane los ’n hartseerspoor oor haar wange terwyl sy die koevert met haar naam op oopskeur. Selfs in sy swak toestand, het hy sy laaste bietjies krag bymekaargeskraap om hierdie nota gisteraand aan haar te skryf.

”My liefste kleinkind. Jy noem al elke dag die laaste twee weke hoe jy jou bucket-list moet opstel, want myne was seker lank. Myne was glad nie lank nie. Dit het uit ’n paar reëltjies bestaan:  Moenie alles wat jy nog wil doen najaag nie. Dit gaan veroorsaak dat jy nie die huidige avontuur geniet nie. Maar, as ’n nuwe avontuur jou pad kruis, moenie hom laat verbygaan nie. Dit is hoe jy die boustene vir ‘n vol lewe en mooi herinneringe lê, sonder om te bekommer oor wanner jy die emmer omskop.”

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 48 other followers