Archive | December, 2009

2009 se laaste asem….

28 Dec

2009 is besig om sy laaste asem uit te blaas…. en daarom is dit tyd om bietjie blogvakansie te neem… die brein bietjie te stofsuig, en die kopgoggas te doom sodat 2010 weer vars en uitgerus kan begin.

Die einde van enigiets, ja selfs ‘n jaar soos 2009 is hartseer, want ek dink aan al die dinge wat ek hierdie jaar wou doen, en nooit by uitgekom het nie. Die jaar het ultimately net 365 dae, en soos ek aangegaan het het ek meer items by my bucketlist bygevoeg as wat ek doodgetrek het… so my geliefde vriend dood moet maar nog so bietjie aan ‘n tak hang… Ek het nog tyd nodig!

Maar voor ons by 2010 kom, moet ons eers lekker partytjie hou die 31 Desember 2009. Geniet julle nuwejaarspartytjies. Gaan groot of bly by die huis. Wees tog asseblief net verantwoordelik en moenie jouself en ander padgebruikers in gevaar stel as jy ‘n paar drankies inhet nie, bly liewers oor, kry ‘n bestuurder (natuurlik een wat nie gedrink het nie) of bel ‘n taxi (Daardie paar honderd rand is niks in vergelyking met die waarde van ‘n lewe nie). Die lewe kan in ‘n oogwink verander. Maak seker jy is wakker met sonsopkoms 1 Januarie 2010 om die nuwe jaar te begroet.

Ek hoop jou 2010 is so voorspoedig dat jou geluk jou gaan begin verveel. Ek hoop dat daar talle geleendhede in jou skoot gaan val, en dat jy elke uitdaging sal aanneem, sonder om te bekommer of jy gaan slaag of nie. Dit is belangriker om te probeer, al slaag jy nie, as om op te gee nog voor jy begin het. Die mens se brein is wonderlik, maar kan ook jou eie grootste vyand wees. Jy sal verbaas wees met die dinge wat jy kan vermag, wat jy jouself wil wysmaak is onmoontlik.

Leef elke dag van 2010 ten volle, met geen spyt en verwyte as iets nie geslaagd was nie. Want jy het ten minste probeer. Mag julle elkeen die geleendheid kry om in 2010 ten minste 2 uitdagende items op julle emmerlysies dood te trek.

Goodbye, Totsiens, Farvel, Au revoir, Shalom, Ciao, Vale, Adeus, Sala hantle, Kwa heri, Go siame, Sala kakuhle, Hamba kahle….

 

….sien julle die 4de Januarie….

My Kerswense….

24 Dec

 Van kindsbeen af was my assosiasie met 25 Desember nie noodwendig slegs die viering van die Christusfees nie, maar ook die viering van saamwees. Tyd deurgebring saam met familie en vriende. Soos die jare aanstap, bly die groep nie noodwendig soos wat hy laas jaar was nie. Van die gesigte is nie meer om die tafel nie, want hulle het gesterf…. en daar is dalk nuwe gesiggies van babatjies wat gedurende die jaar dalk hul opwagting gemaak het. Kersfees is dus vir my ‘n mengelmoes van blydskap en hartseer.

Juis oor hierdie feit, wil ek aan een en elk hierdie 25 Desember tonne vol saamwees toewens. Lag, wees bly… koester familie, geliefdes en vriende. Maak kontak met die waarmee jy kwaai gevoelens het, dit is die beste tyd ooit om te vergewe. Onthou, dood is ons konstante metgesel, en volgende jaar sit jy dalk met verweite aan die etenstafel. Vergifnis kos niks nie, in teenstelling met al die rande wat op geskenke spandeer is.

Ek het 2 gunsteling Kersliedere, O Holy Night en dan natuurlik When A Child Is Born.

En die woorde:

A ray of hope flickers in the sky,
A tiny star lights up way up high,
All across the land dawns a brand new morn -
This comes to pass when a child is born.
 

A silent wish sails the seven seas,
The winds of change whisper in the trees
And the walls of doubt crumble tossed and torn -
This comes to pass, when a child is born.

A rosy hue settles all around,
You got the feel you’re on solid ground,
For a spell or two no one seems forlorn -
This comes to pass when a child is born.

It’s all a dream, an illusion now.
It must come true sometime soon somehow.
All across the land dawns a brand new morn -
This comes to pass when a child is born. 

 

*****

My wens vir die wêreld is geluk en vrede aan elk. As dit op een dag van die jaar kan gebeur, wat keer ons om dit elke dag te doen? Die boodskap van saamwees, eenwees, vreugde, vrede en liefde kan elke dag gevier word. Dit is my hoop, my wens en my gebed.

Geseënde Kersdag

PS. En doen my asseblief ‘n guns: Ons Kersete-tafels staan gewoonlik bakbeen onder die gewig van al die kos. Daar is altyd oorskiet. Partykeer gaan dit asblik toe, ander kere gaan dit eers yskas toe en dan asblik toe. As die ete verby is, en almal is dik en gelukkig, pak die oorskiet in pakkies, en geen dit vir jou gaste soos hulle vertrek. Ry verby die supermark waar jy inkopies doen en gee dit vir die sekuriteitsman/vrou wat aan diens is, of die hekwag van die kompleks, of die wag in die straat, of die man op die hoek wat bedel of pak dit in ‘n bord uit en geen dit vir die tannie onder in die straat wat alleen was (nog beter, nooi haar vir die maal). Om te gee, is altyd beter as om te ontvang, glo my, ek deel elke jaar so kos uit.

Woordspel…. Skaakmat

23 Dec

OK, dit is nou my een kans hierdie jaar om my eie ego te streel. So just live with it! Ek was die gelukkige wenner van Die Werf se skryfkompetisie (Vir lekker leesstof kan jy ook die bundel met al die inskrywings hier aflaai). Dit was groot pret, en hier kan julle die wenstukkie lees. Dankie aan Pagoda vir ‘n cool idee en al die moeite.

Hier is die ander woordspel wat ek ingeskryf het….

Skaakmat

Dit is nou week nommer twee, dag nommer tien en skuif nommer agt. Die statige Eikeboom bied ’n bietjie verligting met die blareplafon wat hy oor ons sprei, terwyl die somer oggendson ongenaakbaar neerbrand op almal en alles wat nie in skadu skuil nie. Dit is nou al die tiende keer dat ons teenoor mekaar sit, en die ondersteuners raak elke keer meer.

Die toeskouers is in twee duidelike kampe verdeel. Die wat my ondersteun en dan die wat my teenstaander, Pieter, ondersteun. Daar is nou al so tien gereeldes in elke groep, met ’n paar draadsitters wat elke dag van kamp verander. Elke oggend arriveer hulle met hulle kampstoele, leeswerk en breiwerk. Daar is varsgebak en piekniekmandjies. Daar is flesse moerkoffie en rooibostee, en flesse met ietsie sterkers in vir later.

Ek merk nou eers op hoe my ondersteuners almal in blou t-hemde geklee is, en die van Pieter in groen. Dankie tog daarvoor, ek haat groen. Miskien kan ek hulle aanspoor om more swart hemde aan te trek; dit is natuurlik as daar ’n more gaan wees.

Dit is Pieter se skuif. Hy neem sy tyd. Daar is baie op die spel. Ek wonder wat die groepies mense sal dink as hulle die volle agtergrond van die spel ken. Wat sal hulle dink as hulle weet waaroor dit gaan, as hulle besef wat op die spel is?

Definitief swart hemde vir more. Die tante met die geel opvou-stoel se grys-pers hare bots lelik met die blou t-hemp. Miskien moet sy maar liewer net nie in t-hemde probeer inwurm nie. Ek gaan dit definitief nie aan haar sê nie, want ek wil nie die beste melktertjie-maker aan die ander span verloor nie. Ek wonder of sy weer vandag van daardie tuisgemaakte gemmerbier saamgebring het?

Pieter sit agteroor uitgestrek en word deur ’n jongerige dame gelawe. Sy vee die sweet pêreltjies sorgvuldig van sy voorkop af. Die bliksem, ek wil ook ‘n jong dame in my rasie-span hê. Volgende hou sy die water-botteltjie met strooitjie uit na sy lippe sodat hy net hoef te suig. Ek bekak myself net hier toe as sy nou nog sy lippies ook gaan afvee.

Ek maak so effens keel skoon, net om die aandag weer op die bord voor ons gevestig te kry. Tien dae, en net sewe skuiwe later. Dit is minder as een per dag, en dit is Pieter se skuiwe wat dikwels so oor twee dae strek. Ek dink ons moes die reëls anders gemaak het, maar dit is ongelukkig nou te laat. Pieter moet egter besef dat ons net vier dae van die verlof oorhet wat ons by ons onderkeie werkplekke geneem het om hierdie spel te voltooi. Net vier dae oor om die oorwinnaar te kroon.

Pieter tel versigtig die Ruiter op. Die spanning is tasbaar as albei die groepies, ek inkluis, effens vorentoe leun in afwagting vir die plasing. Hy loer so half skuins na my, terwyl hy die stuk oor ‘n wit blokkie hou, met die hoop dat ek vir ‘n oomblik ‘n emosie op my gesig sal toon. Ek doen nie. My poker-gesig is goed ge-oefen. Mens kan bespeur dat Pieter ongemaklik is. Sweetdruppels versamel op sy voorkop en loop in klein stroompies langs sy gesig af. Dit is moer warm. Sonder om my oë van die bord af te haal, tel ek die glas yskoue gemmerbier langs my hand op waar die tante dit nou net neergesit het. Hemelse koel, verfrissende lafenis.

Die oom met die pyp het nie vandag sy skootbrakkie saamgebring nie. Sy rum-en-raisin tabak geur die warm lug om ons. Op sy skoot het hy ’n houtbord in die plek van die wollerige wit hondjie, en hy is besig om behendig met ’n knipmes ’n stuk biltong op te kerf en dit so bietjies, bietjies met die ander mense te deel. Almal in ”ons” span natuurlik. Ek neem ingedagte ’n stukkie van die kurkdroë kudubiltong en plaas dit in my mond. As hy die Ruiter op daardie wit blokkie plaas, het ek alreeds my volgende twee skuiwe vooruit beplan.

Pieter plaas die stuk. Almal se oë verskuif onmiddelik na my toe. Die helfte van die oë op my gesig gevestig en die ander helfte op my hand. Asems word vir die moment ingehou, in afwagting vir ‘n moontlike vinnige skuif van my kant af. Miskien het Pieter iets misgekyk. Nog nie. Hierdie kat geniet die speletjie met die veldmuis te veel.

Alhoewel my volgende skuif alreeds beplan is, voel ek tog dat ek moet bydra tot die afwagting, en moet ek maar ook bietjie toneelspel inspan om die gehoor, by wyse van spreke, waarde vir hulle geld te gee vir die opkoms na die teater. Hulle kon wel voor die televisies plaasgeneem het elke dag om derderangse oggendseepies te  kyk, eerder as om hier in angst onder die bome vasgenael te sit. Ek sien die senuagtige tannie met die diklensbril in die groenspan is weer verwoed aan die brei. Haar senuwees moet erg pla, want ek dink sy het al twintig serpe in die laaste tien dae gebrei. Totaal en al belaglik, want dit moet seker ons warmste somer in die laaste dekade wees.

Ek sit vorentoe en beweeg my wysvinger in sporadiese bewegings oor die swart en wit blokkies. Dit wil voorkom asof ek besig is om ’n groot aanslag te beplan en talle pare oë volg my vingerpunt. As hulle maar net geweet het hoe snaaks die kort heen-en-weer oogbewegings lyk, grynslag en in my binneste vir myself. Daar is een paar oë merk ek op wat iewers anders gevestig is.

Dit is die oom met die spierwit hare en Jan Smuts-bokkie baard; wat so links van my sit met ‘n blou t-hemp aan. Die bokkapater! Hy is besig om ogies te maak vir die tante met die breiende hande. Die vyand! Dit is verraad! Ag tog, miskien kom daar ten minste iets goeds uit hierdie oorlog uit. More is hy seker in die groenspan, met ’n groen trui aan wat sy sommer nog vanmiddag uit daardie breinaalde gaan optower. Sy nek gaan ten minste nie koud kry die komende winter nie. Die idee laat my glimlag en die toeskouers verwag natuurlik dadelik weer ’n doodslag. Laat ek tog net my skuif maak.

Ewe traak-my-nie-agtig tel ek die Loper op en plaas hom in ’n swart blokkie. ”Skaak” kom dit oor my lippe, net om die spanning so bietjie dikker aan te maak, en die dag-uitstappie vir die mense die moeite werd te maak. Pieter is visueel geskok en die jong dame lawe vir al wat sy werd is. ‘n Lang, maer tannie met hoerrooi lipstiffie plak ‘n ham-en-kaas broodjie voor kom neer. Die versterkings word nou uitgepak, en ’n oom daar in die groenspan agterhoede neem ’n teug uit ’n verdagte silwerflessie uit.

Net vir die effek trek ek my lippe in ’n skewe glimlaggie. Die tannie met die pers-grys hare verstaan heel duidelik nie die spel ten volle nie, en het met ’n spontane gejuig uit haar stoel opgespring, gereed om die oorwinning te vier. Dit het ’n groot en sterk ou oom gevat om haar terug te kry in haar stoel, en ’n oom met ’n oud-professor-voorkoms gevat om saggies in haar oor die reëls te verduidelik ter kalmering. Ons is nog nie daar nie. Die soetse oorwinningsvieringe kom vir die geduldigdes.

Ek wonder wat dink Pieter. Ek wonder wat sou Janine sê as sy geweet het van hierdie tweegeveg? Ek hoop nou net nie die skok van “skaak” veroorsaak dat Pieter nou eers weer more ‘n skuif gaan maak nie. As ons vandag kan klaar kry, kan ek darem die laaste paar dae van my verlof op ‘n strand gaan deurbring. My web is gespan, en met geduld sal ek wag dat hy daarin vasval. Tot my verbasing wil Pieter ook heel moontlik hê dat hierdie pot nou moet klaarkry, want toe ek weer kyk sit hy al klaar met een van sy wit Torings in die hand.

Die jongerige dame het nou ‘n missproei-spuitkannetjie in die hande gekry en het nou binne die laaste tien sekondes vir Pieter papsop-waternat gespuit. Pieter kyk my in die oë. Kan dit wees. Bespeur ek opgee daarin? Opgee met ’n tikkie uitdaging daaragter? Hy plaas die Toring in ’n blokkie wat voor die handliggend nadelig vir hom sal wees. Hy kyk op, glimlaggend, met uitdaging wat uit sy staalblou-oë straal. Die twee spanne snak na hul asems. Party toeskouers snak na asem want hulle kan nie verstaan dat Pieter so ‘n ooglopend verkeerde skuif kan maak nie. Party toeskouers snak weer na hul asem want die kyk in Pieter se oë verklap dat daar meer as net ‘n oorwinning op die spel is. Die res snak na hul asem, want dit is wat die ander toeskouers gedoen het, en hulle wil nie simpel voorkom nie.

Duiweltjies dans ‘n uitlokkende toi-toi in sy oë. Die troef is nou in my hande. Ek is dus die een wat die besluit moet maak of hierdie pot tot ‘n einde gaan kom of nie. Ek moet besluit oor hoe hierdie tweegeveg gaan eindig, en wie as oorwinnaar uit die stryd gaan tree. Snaaks genoeg het ek Pieter minder as twee weke terug ontmoet, toe ek per ongeluk in hom vasgeloop het toe hy oorhaastig, en ongesiens, by Janine se voordeur probeer uitsluip het. In die laaste tien dae het ek egter respek vir hom ontwikkel, die tipe respek wat tot ’n boesemvriendskap kan ontwikkel. Eintlik is ek nie meer so bekommerd oor Janine nie, die feit dat sy ons met mekaar verneuk het maak haar in elk geval net ’n slet. En was dit net ons twee? Daar is ook geen waarborg dat dit nie weer sal gebeur nie.

Ek tel my Dame op en skuif haar in ‘n besette swart blokkie in, waar ek die okkuperende Toring met ‘n flik van my gewrig omstamp. ”Skaakmat” kom die woord gepaardgaande met ’n glimlag oor my lippe. Die oorwinning is nie meer so soet as wat ek tien minute terug nog verwag het dit gaan wees nie. Eintlik is dit bitter; Janine is die bitter pil wat ek en Pieter moes sluk. Die blou span wens mekaar opgewonde geluk, asof hulle almal deel aan die oorwinnings-skuif gehad het, terwyl die groen span die teleurstelling uit Pieter se skouers probeer klop. Woorde soos “Beste uit drie”, “Maak ons more weer so?”, “Oorspeel” en “Nog ‘n rondte” word rondgeslinger. Hulle verstaan definitief nie die impak van hierdie skaakpot nie.

Die toeskouers verkas slegs na ons plegtige beloftes dat hulle net gereeld onder die Eikeboom moet kom loer, vir die dag as die tweede uit die drie skaak potte sal begin. Min wetende dat ons nou net alleen wil wees. Ek en Pieter sit elkeen met ‘n bier in die namiddagstilte en tuur oor die groen grasperke van die park. Pieter kyk na my met die gedagte in sy oë gebytel dat die oomblik nou aangebreek het. Daar kan net een wenner in ’n tweegeveg wees. Daar is in elk geval net een prys, Janine.

Pieter steek sy hand in sy rugsak en haal ’n blink pistool uit. Met die motoriese aksies van ‘n behendige skut maak hy seker die wapen is gelaai, en dat die veiligheidsknip af is. Hy oorhandig die pistol aan my en gaan staan op sy knieë voor my. Dit was ons ooreenkoms, een wenner met een trofee.

Hy kyk my reguit in die oë. Ek mik tussen sy oë, daar waar die fyn haartjies van sy donker wenkbroue bymekaarkom. My vinger is gesluit om die sneller. Ek sit die veiligheidsknip weer aan. Ek kan nie. Dit is nie lafhartigheid nie, maar respek. Hierdie man verdien verdien die respek wat Janine met haar hoereerdery versmaai het.

Ek steek my hand uit en trek vir Pieter op. ”Kom my vriend, hierdie tweegeveg het twee wenners, ons moet daardie trofee gaan uitsorteer.”

My Eerste Kersgeskenk…

22 Dec

Dankie aan Flinstoned vir my eerste geskenk hierdie jaar:

Myne!

En soos dit ‘n vyfjarige seuntjie betaam, gaan hierdie nuwe geskenk binne 5 dae opgebruik wees!

Die 13 dinge tag….

21 Dec

Flintstoned het my getag om myself te ontbloot en ‘n paar skyfies te toon van dinge wat julle dalk/dalk nie van my weet nie:

  1. In sekere aspekte is ek onbuigbaar, daar is geen onderhandeling nie, want ek is mos reg.
  2. Ek kan met verf, ink en potlood op papier en doek speel. Eindresultate nie te sleg nie….. net BAIE lui.
  3. Ek kan ‘n heel skaflike tenoor in die koor sing.
  4. Ek het ‘n nuwe stokperdjie begin – rotsklim, en ek dink ek doen heel goed. Mens is nooit te oud om jouself te verbaas nie.
  5. Die pad na my hart maak ‘n draai deur my maag en is geplavei met lamsboud en malva poeding met tuisgemaakte wit-sjokolade vla.
  6. Ek en ‘n paar vriende het in Londen besluit om in simpatie met dakloses, een aand op ‘n bankie te slaap. Gewapen met slaapsakke moes ons in Hyde Park se toilette wegkruip tot die hekke gesluit was. Dit was moer koud… ons moes skaars 15 minute later weer “uitbreek”.
  7. Ek dink ek is nou nog nie meer by San Lameer welkom nie. Dit involve ‘n klompie eerstejaarstudente en raak-rugby op die strand – sonder klere.
  8. Ek en ‘n Aussie-vriend het al ‘n dag op drips in die Paddington Hospitaal in Londen deurgebring. Alkohol is nie altyd jou maatjie nie (veral nie na ‘n 2 dae bender nie). (Ons het ook ‘n illegal na-uurse bar van agter die ontvangstoonbank van die hostel bedryf.)
  9. Ek het geen fobies waarvan ek weet nie.
  10. Ek drink altyd coke as ek eet. Ek sal my drankie eenkant toe skuif om my coke te drink terwyl ek eet.
  11. Ek het ‘n groot liefde vir skop, skiet, boomklim, donner, bliksem en emmers vol bloed flieks. As iemand my die geld gee, sal ek ‘n movie maak wat ‘n Tarantino soos ‘n sondagskooluitstappie laat lyk. Ek is ook nie juis baie lief vir “happy ending” flieks nie, ek is versot op ‘n kinkel in die kabel en gaan nou nie trane stort as die hoofkarakter doodgaan nie. That’s life.
  12. Ek het issues. Picture ‘n koek – ‘n Fear of Commitment Koek met so ‘n dik laag Fear of Loss Versiersuiker op. (Ek was egter al een keer voorheen gereed om te commit)
  13. Ek wil nog leer om die kitaar te speel.
  14. Die volgende ding wat op my bucket-list afgemerk moet word is my tattoo.
  15. More, die 22ste, het ek amptelik 5 weke laas gerook. Die snaakste ding is dit was vir my makliker as wat ek dit voorgestel het.

vervloë potloodpoging

Goed, ek weet nie waar ek b(l)oggers gaan opspoor wat nie op vakansie is nie, maar kom ons probeer…. ek tag vir Johan en Kaalvoet

NS. Ek voel net ek moet byvoeg. Daar is ‘n paar dinge wat ek glad nie van hou nie…. skeer, stryk, onbevoegde mense en mense wat nie kan bestuur nie.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 44 other followers