Gister, so met my indiepte ondersoek oor Cleopatra en die slang het ek baie interessante stukkies raakgelees. Kyk, hierdie vrou was soos Megan Fox vir Emil, my Eva Longoria. Jy sou moontlik enigiets vir Cleopatra doen. Sy was ‘n vrou met onoortreflike skoonheid, en ‘n pragtige stem. Dit help natuurlik dat sy in Ptolemiese dinastie, die heersers oor Egipte in daardie tyd, ingebore was. Die geskiedenisskrywers van daardie tyd sê ook dat sy geweet het hoe om al hierdie oortreflike eienskappe te gebruik, om te kry wat sy wil hê. Dus het sy ook ‘n brein gehad, en het sy presies geweet hoe om hom te gebruik.
As mens na die lys van mans kyk wat aan haar voete (en in haar bed) opgeeindig het, was sy blykbaar ook ‘n bietjie van ‘n “snake-charmer”. Kyk, ons praat nou nie hier van die outjie wat haar op die divan lê en druiwekorrels voer nie, of die een wat haar rug in die aande gewas het nie. Ons praat hier van die magtigste mans uit daardie era. Eers haar twee broers (Ja, haar broers…), daarna Julius Ceasar en toe Mark Anthony. Daar was natuurlik ander mans tussenin wat vir haar skoonheid geval het, maar dit is met Ceasar en Anthony met wie sy kinders gehad het.
So, ‘n vrou van formaat sou ek sê!
Nou kom ons kom terug na haar broers toe, ja daardie twee met wie sy getroud was. As mens nou Cleopatra se stamboom gaan kyk, was die Ptolemiese dinastie nie baie groot op kopuleer BUITE die familie nie. Kyk, soos die klomp aangegaan het is dit ‘n wonder dat Cleopatra enigsins met ‘n brein gebore was…. en nie net een oog, vier ore en ‘n Picasso-mond gehad het nie.
Miskien was Cleopatra se ”saving grace” die feit dat haar ma en pa, en hulle ouers nie broers en susters was nie…. maar o wee, as jy so klein bietjie verder terugbeweeg was almal op een of ander manier verwant.
Ek het probeer om ‘n grafiese stamboom te maak, maar het nie die geduld daarvoor gehad gister nie….. so here goes – Probeer maar kophou….
Aan Cleopatra se Pa, Ptolemy XII Auletes se kant:
- Sy Ma, Cleopatra IV, en Pa, Ptolemy IX Lathyros was broer en suster. Jip, hy het net een stel verjaarsdaggeskenke by Ouma en Oupa gekry, want hy het net een Ouma, Cleopatra III, en een Oupa, Ptolemy VIII Physcon, gehad.
- Nog interessanter is dat Cleopatra III se Ma, Cleopatra II, en Pa, Ptolemi VI Philometor, haar man Ptolemy VIII Physcon se broer en suster is. Haar ma en pa (wat broer en suster is), is dus ter selfde tyd haar swaer en skoonsuster.
- Goed terug by Ptolemy XII Auletes se Ouma, Cleopatra III, aan sy Ma, Cleopatra IV se kant. OK, sy is ook eintlik sy Ouma aan sy Pa, Ptolemy IX Lathyros se kant, maar ons is nou aan sy Ma se kant van die bloedskande. Hier vind ons dus nou ook dieselfde Ouma- en Oupa Grootjies as aan sy Pa se kant, Cleopatra I & II en dan Ptolemy V & VI.
As julle nou nog nie totaal en al deur die wind is nie, kom ons beweeg aan na Cleopatra se Ma, Cleopatra V, se kant van die familie.
- Haar Ouma, Cleopatra III, en Oupa, Ptolemy VIII Physcon, aan haar Pa, Ptolemy X Alexander I, se kant – is ook haar man, Ptolemy XII Auletes se Ouma en Oupa aan beide sy Pa, Ptolemy IX Lathyros, en sy Ma, Cleopatra IV se kant.
- Aan haar Ma, Berenice III, se kant was haar Ouma, Cleopatra Selene I, en haar Oupa, Ptolemy IX Lathyros. Erken julle die naam – Cleopatra se Oupagrootjie aan haar Ma, Cleopatra V, se kant, is ook haar Oupa aan haar Pa, Ptolemy XII Auletes, se kant.
- Berenice III, Cleopatra se Ouma aan haar Ma, Cleopatra V, se kant, se Ma, Cleopatra Selene I, en Pa, Ptolemy IX Lathyros, was ook broer en suster, met ouers dus Ptolemy VIII Physcon en Cleopatra III.
Goed, om saam te vat. In ‘n normale familie het ons almal die volgende voorsate : Ma en Pa, Vier Oumas en Oupas, Agt Grootjie Oumas en Oupas, Sestien Groot-Grootjie Oumas en Oupas ensovoorts.
Vir Cleopatra was dit soos volg:
- Net 4 uit die 8 moontlike Grootjies is nie dieselfde mense nie.
- Net 6 uit die 16 moontlik Groot-Grootjies is nie dieselfde mense nie.
Die gode was definitief goed vir hierdie familie, want na al hierdie bloedskande was Cleopatra VII Thea Philopator nog steeds ‘n vrou waarvan almal kennis geneem het, en wie vandag nog, duisende jare later, mense se verbeeldings aangryp.

Onlangse ondersteuners: