En daar was hoop
Ek sal dra
Ek sal aanhoudend dra
My skouers gevorm breed,
Geerwe deur swoeg en sweet
Van oerouers se bou aan ‘n land.
Wys maar vinger en laai maar op
Ek sal voortbeur in die reënboogtrop
Klassifiseer en blameer
Want aan jou denkwyse is geen keer.
Ek sal vra
Ek sal aanhoudend vra
Waarom my gees wil breek
Met elke slinks gemene streek
Uitgebasuin om in my te wortel ‘n kwaad.
Deurdrenk met elkedagse werklikheid
Wat knaag aan volkse positiwiteit
Oor ‘n mooie land
Gevange gehou tussen goue strand.
Ek sal hoop
Ek sal aanhoudend hoop
Dat verdra soos siekte versprei
En genees die kanker wat ‘n nasie laat ly
In die skadu van onvervulde beloftes.
En eendag sal weergalm as waarheid
Ek
Jy
Ons
Vir jou Suid-Afrika.

Onlangse ondersteuners: