BB het na ‘n lang rusperiode opgedaag en sommer huiswerk aan my, nogal op my eie blog uitgedeel…
Haar huiswerk aan my is om te voltooi – Ek lewe, Ek sal aanhou lewe…..
Ek lewe, Ek sal aanhou lewe…..
Al die tekens is nog daar. Hartklop op die maat van ‘n Afrika-trom, en wintersasem in patrone op ‘n oggend spieël. Hande wat skoffel in die grof van moeder aarde en bloed wat bruis soos die magtige Oranje. Oë drink die eindelose windverwaaide grasvlaktes in en ‘n liggaam dassie iewers in die somerson. Die tekens is daar, maar is dit volledig LEWE ?
Lewe is ‘n kosbare geskenk. Nie een wat weggebêre moet word saam met Ouma se pêrels in die kluis nie. Een waarmee gewoeker moet word. Daar moet gestrewe word om elke dag ten volle te leef. Daar moet gestrewe word om te groei tot ten volle menswees. Menswees is nie oor hartklop en asemhaling nie. Dit gaan oor die beste mens wat jy kan wees. Jy moet vrede maak met die feit dat dood jou konstante metgesel is, want hy kan enige dag die sluier oor lewe trek. En dan kan jy lewe.
Ek lewe, ek sal aanhou lewe want ek is tot soveel meer in staat as wat ek dikwels myself wil wysmaak. Ek lewe, ek sal aanhou lewe want my menswees kan nog oneindig kere aangewend word. Ek lewe, ek sal aanhou lewe tot die dag wat die sandklonte van moeder aarde op my kis trom, en hierdie Afrikaanse, Suid-Afrikaner se liggaam met die polsslag van die ongenaakbare Afrika-aarde saamsmelt om aan toekomstige geslagte die ritme van Afrika en die strewe na volledig menswees aan te dui.

Onlangse ondersteuners: