Flintstoned het my getag om myself te ontbloot en ‘n paar skyfies te toon van dinge wat julle dalk/dalk nie van my weet nie:
- In sekere aspekte is ek onbuigbaar, daar is geen onderhandeling nie, want ek is mos reg.
- Ek kan met verf, ink en potlood op papier en doek speel. Eindresultate nie te sleg nie….. net BAIE lui.
- Ek kan ‘n heel skaflike tenoor in die koor sing.
- Ek het ‘n nuwe stokperdjie begin – rotsklim, en ek dink ek doen heel goed. Mens is nooit te oud om jouself te verbaas nie.
- Die pad na my hart maak ‘n draai deur my maag en is geplavei met lamsboud en malva poeding met tuisgemaakte wit-sjokolade vla.
- Ek en ‘n paar vriende het in Londen besluit om in simpatie met dakloses, een aand op ‘n bankie te slaap. Gewapen met slaapsakke moes ons in Hyde Park se toilette wegkruip tot die hekke gesluit was. Dit was moer koud… ons moes skaars 15 minute later weer “uitbreek”.
- Ek dink ek is nou nog nie meer by San Lameer welkom nie. Dit involve ‘n klompie eerstejaarstudente en raak-rugby op die strand – sonder klere.
- Ek en ‘n Aussie-vriend het al ‘n dag op drips in die Paddington Hospitaal in Londen deurgebring. Alkohol is nie altyd jou maatjie nie (veral nie na ‘n 2 dae bender nie). (Ons het ook ‘n illegal na-uurse bar van agter die ontvangstoonbank van die hostel bedryf.)
- Ek het geen fobies waarvan ek weet nie.
- Ek drink altyd coke as ek eet. Ek sal my drankie eenkant toe skuif om my coke te drink terwyl ek eet.
- Ek het ‘n groot liefde vir skop, skiet, boomklim, donner, bliksem en emmers vol bloed flieks. As iemand my die geld gee, sal ek ‘n movie maak wat ‘n Tarantino soos ‘n sondagskooluitstappie laat lyk. Ek is ook nie juis baie lief vir “happy ending” flieks nie, ek is versot op ‘n kinkel in die kabel en gaan nou nie trane stort as die hoofkarakter doodgaan nie. That’s life.
- Ek het issues. Picture ‘n koek – ‘n Fear of Commitment Koek met so ‘n dik laag Fear of Loss Versiersuiker op. (Ek was egter al een keer voorheen gereed om te commit)
- Ek wil nog leer om die kitaar te speel.
- Die volgende ding wat op my bucket-list afgemerk moet word is my tattoo.
- More, die 22ste, het ek amptelik 5 weke laas gerook. Die snaakste ding is dit was vir my makliker as wat ek dit voorgestel het.
Goed, ek weet nie waar ek b(l)oggers gaan opspoor wat nie op vakansie is nie, maar kom ons probeer…. ek tag vir Johan en Kaalvoet
NS. Ek voel net ek moet byvoeg. Daar is ‘n paar dinge wat ek glad nie van hou nie…. skeer, stryk, onbevoegde mense en mense wat nie kan bestuur nie.

Onlangse ondersteuners: