2009 is besig om sy laaste asem uit te blaas…. en daarom is dit tyd om bietjie blogvakansie te neem… die brein bietjie te stofsuig, en die kopgoggas te doom sodat 2010 weer vars en uitgerus kan begin.
Die einde van enigiets, ja selfs ‘n jaar soos 2009 is hartseer, want ek dink aan al die dinge wat ek hierdie jaar wou doen, en nooit by uitgekom het nie. Die jaar het ultimately net 365 dae, en soos ek aangegaan het het ek meer items by my bucketlist bygevoeg as wat ek doodgetrek het… so my geliefde vriend dood moet maar nog so bietjie aan ‘n tak hang… Ek het nog tyd nodig!
Maar voor ons by 2010 kom, moet ons eers lekker partytjie hou die 31 Desember 2009. Geniet julle nuwejaarspartytjies. Gaan groot of bly by die huis. Wees tog asseblief net verantwoordelik en moenie jouself en ander padgebruikers in gevaar stel as jy ‘n paar drankies inhet nie, bly liewers oor, kry ‘n bestuurder (natuurlik een wat nie gedrink het nie) of bel ‘n taxi (Daardie paar honderd rand is niks in vergelyking met die waarde van ‘n lewe nie). Die lewe kan in ‘n oogwink verander. Maak seker jy is wakker met sonsopkoms 1 Januarie 2010 om die nuwe jaar te begroet.
Ek hoop jou 2010 is so voorspoedig dat jou geluk jou gaan begin verveel. Ek hoop dat daar talle geleendhede in jou skoot gaan val, en dat jy elke uitdaging sal aanneem, sonder om te bekommer of jy gaan slaag of nie. Dit is belangriker om te probeer, al slaag jy nie, as om op te gee nog voor jy begin het. Die mens se brein is wonderlik, maar kan ook jou eie grootste vyand wees. Jy sal verbaas wees met die dinge wat jy kan vermag, wat jy jouself wil wysmaak is onmoontlik.
Leef elke dag van 2010 ten volle, met geen spyt en verwyte as iets nie geslaagd was nie. Want jy het ten minste probeer. Mag julle elkeen die geleendheid kry om in 2010 ten minste 2 uitdagende items op julle emmerlysies dood te trek.
Goodbye, Totsiens, Farvel, Au revoir, Shalom, Ciao, Vale, Adeus, Sala hantle, Kwa heri, Go siame, Sala kakuhle, Hamba kahle….
….sien julle die 4de Januarie….



Onlangse ondersteuners: