Archive | Januarie, 2010

Vrydagskool….Breindraf101

29 Jan

Eintlik is dit nie snaaks nie, maar mens kan nie help om te lag nie. Die hele land was in rep en roer oor vuurwapenlisensies, herregistrasies, deregistrasies, inhandiging van ongelisensiëerde wapens ens. ens. Dit maak ons land ‘n veiliger plek. Kriminele steel die vuurwapens wat so ongebruik rondlê. Alles goed en wel, ‘n mooi gedagte….. MAAR

Eintlik blyk dit dat die polisie nogal ‘n groot bron van vuurwapens vir die kriminele is. In 2007 en 2008 is ongeveer 4,400 as gesteel of verloor aangemeld deur SAPD lede, nog 2,900 in die nege maande Januarie tot September 2009. Hoe verloor jy ‘n wuurwapen?

Elk geval, niemand weet waar die wapens is nie, maar ek is taamlik seker dit is in die hande van ons kriminele vriende. Ek is ook taamlik seker hulle het dit nie met die onlangse “Handig-Ongelisensiëerde-Wapens-In” veldtog ingegee nie.

En wat gaan hierdie uitstappie kos – R16miljoen vir 4,000 nuwe Beretta’s op bestelling. Maar ek is eintlik moeg gekla oor al die kak en drama, kom ons gee die breine bietjie oefening op ‘n Vrydag:

Enige idees hoe hulle kan keer dat hierdie polisie-outjies weer hulle gewere verloor?

Miskien kan elke pistool ‘n lussie hê waarmee jy kom aan ‘n larnyard om jou nek kan hang :?:

Die Stad is Stukkend

27 Jan

Eendag lank gelede was daar is Stad wat trots aan die hoof van ‘n land gestaan het. Die stad het skoon strate en woonbuurte gehad (nie net die rondom die Uniegebou nie), waar Jakarandas trots in vroegsomer geblom het.

Vandag is alles gebreek en afgeleef. Onderhoud is ‘n woord wat uit die stad se woordeboek uitgeval het toe die woord partytjie deur tannie Ramakgopa ingevoeg is.

Die ANC het aangekondig dat dit prioritiet is om Pretoria se naam te verander voor die aanbreek van die Wêreldbeker Sokker in Junie.

Behalwe vir die feit dat ek nog steeds nie saamstem oor die geldmors aspek nie… is dit dalk beter so (stem ek saam met een van die kommentare in die Beeld), daardie plek wat op die oomblik daar staan, is nie die trotse naam van Pretoria werd nie.

WEW….2 van (ek weet nie, my calculator is gebreek)

26 Jan

Ek het so bietjie oor die volgende gewonder:

Haiti is deur die aardbewing getref, en die inwoners wat kon het dadelik ingespring en begin help met die reddingspong. Enigiemand sal, want dit raak mense om jou.

Maar wanneer, en hoe, kom jy op die punt, wat jou menswees en humanitiet in die agterkop weggebêre word en dit nou gaan oor jou eie oorlewing? Hoe maak jy die besluit dat jy nie nou meer gaan grawe vir oorlewendes onder die puin nie, maar dat jy nou aan jouself en jou eie behoeftes van oorlewing begin dink?

Is daar ‘n gemiddelde tyd wat iemand so iets onder tonne puin kan oorleef?Dryf jou grommende maag jou tot buitmaak, roof en diefstal? Hoe sterk is die instink om te oorleef – Sal jy kan moord pleeg?

Uitsig….Uitsug?

25 Jan

Hierdie was my uisig die grootste gedeelte van die naweek. Goed, nie heeltemal nie, want ek het nie die hele naweek lank Manhattan Murder Mystery gekyk nie. Kyk, ek het hulle deurgewerk – ‘Allo ‘Allo op BBC, flieks op die fliekkanale (Ingesluit City Slickers II, met ‘n baie cool animasie aan die begin van die fliek), Rugby en Krieket, America’s Got Talent, American Idol, Carte Blanche, Last Choir Standing ens. ens.

Snaaks genoeg is daar in sekere tydgleuwe soveel crap dat mens as ware opeindig met meer alleen en dinktyd as wat jy gedink het gaan gebeur

Die ander snaakse ding is dat ek nooit advertensies kyk nie. Ek het hierdie naweek probeer om die advertensies ook te kyk, juis omdat daar soveel kak op die ander kanale was, dat dit nie eers sou gehelp het vir jou om te surf nie, en van hulle was nogal oulik.

Ek het ‘n paar lesse geleer die naweek. Jy hoef nooit bekommerd te wees as jy die uitsending van ‘n program gemis het nie. Hy gaan weer iewers gewys word, meer as een keer, Carte Blanche het uitgewys hoekom ons nie moet wonder hoekom Eskom so pateties is nie, Land Rover het ‘n cool ad vir die Discovery 4, Jeep het ook ‘n cool ad van ‘n Wrangler in die woestyn…. en Survivor Santa Carolina het die mees irriterendste fokken advertensies ooit ( en dit is die tipe ads wat veroorsaak dat ek nie die goeies kyk nie).

PS. Ek het selfs in ‘n rare gebeurtenis dit op kamera vasgelê toe Mantu en Vroutu ook bespreek het hoe irriterend die Survivor advertensies is.

Woordspel…. Aas die foto’s

22 Jan

Uitdaging aan myself… ok, dit was 45 minute en nie 30 minute nie…. met Phibbie se onderwerp: Die aardbewing en nagevolge

Aas Die Foto’s

Ek is ‘n aasvoël. Yip, ek kan dit maar erken, want ek is een van die beste in my professie. Jy het nie ‘n kaggel vol beeldjies en pryse omdat jy gevoelig en sensitief is nie.

Die laaste na-skokke ruk nog aan die aardkors,en die stof van ingetuimelde geboue se gefrommelde steen en sement hang nog in die lug as ek met my kamera in die hand die strate invaar. My werk is dalk vryskut, maar my foto’s word binne ure opgeraap.

Dit is asof die wêreld se nuusagentskappe weet waar ek myself bevind, want my telefoon begin al klaar lui soos ek onderdeur die sproei van ‘n gebarste waterpyp deurdraf. Ek antwoord nie nou nie, maar die gepiep van boodskappe wat deurkom beteken net een ding: Hierdie aardbewing beteken ek gaan volgende maand eet.

Die verstikkende stof hang soos ‘n atoom-sampioenwolk bo die stad. Sirenes van brandalarms en karre en polisie en brandweer en ambulanse loei bo die geraas van metaal en baksteen en sement wat intuimel, en dan is daar nog die oneindigende gehuil en skrille skreeu van mense onder die puin. Daar is die geroep van mense wat klim en klouter en soek bo-oor die hope rommel wat geboue was.

Maar hierdie kakofonie van geraas is iets wat ek uitsluit en net in die verste verte hoor. Soos klank wat met die wind aangesweef kom. Terwyl die ander soek en smeek, huil en pleit, en stukke materiaal op wonde druk om bloeding te stop, moet ek klik. Ek mik en druk en vang die pyn en hartseer op foto’s vas. Verewig ge-ets in kleur, of swart en wit vir ’n dramatiese effek. Ek maak my hart koud en sluk swaar aan my menswees om die nuus in beelde vir die wêreld vas te vang. Om volgende maand se tandepasta en spaghetti te kan koop.

Daar is vroue met hande wat uitreik, en smeek dat ek help om hulle kinders onder stukke sement uit te grawe… en mans wat snikkend aan mekaar vasklou voor brandende geboue wat voorheen hul woonstelblokke was waarin hul vroue besig was om aandete voor te berei. Daar is nuwe wesies wat eenkant onder bome sit en teddiebere styf teen hulle borste vasklou. Oë groot en verskrik. Geluidlose traanspore op hul wange. ’n Bejaarde paartjie skuifel mekaar te gemoet, en ontmoet in ’n warm omhelsing van vreugde en oorlewing.

Ek beweeg om die hoek in die rigting van ’n ander buurt. As Moeder Natuur haar stem dik maak, word niemand oorgesien nie. Die rykes word nes die armes weer mens gemaak. Net mens. Gelyk. Wat ek gehad het, of wie ek was is nie van belang as Natuur haar kragtige stempel afdruk nie. Daar is geen omkoop om dit vry te spring nie, daar is geen jammerlike pleidooie dat jy nie nog sleg verdien nie. Die dokter en die tandarts en die besigheidsman, die kassiere en die boemelaar staan almal verdwaas in die straat. Saam sal hul nou weer as mense, deur die pyn grawe om mense op te spoor. Oorlewendes. Nie ryk of arm oorlewendes nie. Sommer net oorlewendes.

My ge-oefende oog en behendige vinger klik weer pryse los. Ek sien al die opskrifte bo en onder my foto’s. Ek proe al die oorwinning. Ek was weereens op die regte tyd, en op die regte plek. Ek skakel my kamera af en bêre hom in die drasak.

Nou is dit eers tyd vir die kille fotograaf om sy siel te ontbloot, sy hart te verwarm, en deel te hê aan operasie-menswees.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 44 other followers