Afwagting
Tik-tok Tik-tok Tik-tok, of is dit dalk Tok-tik Tok-tik Tok-tik? Die horlosie op die kaggel gaan my mal maak. Ook maar net omdat ek in afwagting vir drie-uur wag dat ek nou so geirriteerd raak. Dit is nou vyf minute na een-uur. Ek is ure gelede al aangetrek en gereed. Ek kyk weer na die horlosiegesig. Verbeel ek my of waai die sekondearm uittartend in my rigting? Was dit nie net nou-nou tien minute oor een nie? Waar gaan die tyd heen? “Ek weet, fokken agteruit as jy jou oë wegdraai” verbaas ek myself met ‘n harde gil. Dit is weer stil in die voorhuis; behalwe natuurlik vir die tik-tok, of is dit tok-tik?
Kos. Fok daar is nie kos in die huis nie en ek het vriende more vir ete genooi. Maar wie kan elk geval aan kos dink met hierdie opgewonde draaie wat die roller-coaster deur jou maag maak. More is nog ‘n dag “Een Bier” Ja, net een dink ek: ter voorbereiding. Ek loer na die happies wat soos ‘n chirurg se instrumente reggesit is, elkeen op sy plek. Aan die linkerkant die bakkie met die Lays Lightly Salted Chips. Langs dit is die bordjie met die gekerfde biltong en die peuselgrootte stukkies droëwors. (Ek kerf self die biltong, dit was al reeds om 10 uur vanoggend gedoen). Net regs van die bordjie is ‘n bakkie met Bacon Kips in, netjies in ‘n sirkel gepak, een oor die ander soos ‘n vis se skubbe. Voor hierdie bakkies en bordjies is twee klein pakkies Jelly Tots, en drie klein boksies Smarties (nog van die wat helderkleurig is), en twee klsin pakkies Simba Grondboontjies-en-Rosyntjies.
Net een biertjie. Ek kyk af na die mini-coolerboksie lanks my linkervoet. Daar is vier biere in. Een vir elke tien minute. Presies uitgewerk en yskoud. Ek sal vir nou ‘n bier in die yskas moet gaan haal. Maar sê nou maar ek gly en val en verloor my bewussyn en word eers weer vier uur wakker, sonder ‘n idee wat ek gemis het? Sê nou ek stamp my kop so hard en ek kan nie onthou wat ek nie wou mis nie? Snaakser goed het al gebeur, soos Tant Marie wat op die toilet vasgesit het met die finale van Survivor-Fokken-Drie-En-Vyftig-Orania. Ag tog, ek moenie nou simpel wees nie. Daar is nog meer as genoeg tyd om terug te wees op my plek voor drie-uur.
Ek sal elk geval ’n draai moet loop voor drie-uur. Knyp was nog nooit juis my forte nie, en as jy probeer hardloop tydens ‘n advertensiebreuk slet jy dalk net weer neer, en ja… kom ons dink nie weer hier aan nie. Netnou dink ek so baie aan val dat dit werklikheid word en ek uit die stoel uitbliksem en my kop stamp, of aan ‘n helderpers smartie verstik. Ek het al genoem snaakser goed het al gebeur?
Ek staan versigtig op en skuifel-skuifel versigtig oor die vloere in die rigting van die gastebadkamer. My oë senuweeagtig links, regs, op en af om my om enige gevaar te identifiseer en dadelik uit die weg te ruim. Op pad, verby die telefoon prop ek sommer dié se draad by die muur uit. Mens wil nou nie met onbenullige noodoproepe kwart oor drie gepla word nie. Met ‘n gedruk en geknyp het ek die blaas goed leeggetap, en is ek vyf minute later weer oppad terug na die leunstoel voor die televisie toe. Ek gryp ook sommer die selfoon eenkant van die boekrak af en sit hom by voorbaat op “silent”.
Ek kry ‘n bier uit die yskas uit, en sit minute later weer in die leunstoel en klein teugies neem uit die bottel uit. “Ahhhhh, hemels” sug ek hardop. Net die ding vir so ‘n snikhete somersdag. Eintlik moes ek seker die sproeiers aangesit het, sodat die plante en grasperk nie uitdroog nie. Vir myself moet ek eintlik die waaier aanskakel dat ek nie ongemaklik in die leerstoel begin sweet nie. Ek staan op en skuifel weer in die rigting van die gangdeur waar die dakwaaier se kontrole teen die muur sit. Ek sit hom op een. Gaan dit genoeg wees? Eerder op drie. Miskien te erg. Ek kies die middelweg – twee.
Goed, nog ’n uur. Die horlosie op die kaggel wys vyf minute oor twee toe ek weer plaasneem. Tegnies dus vyf-en-vyftig minute. Ek blaai deur die Stuff tydskrif en verwonder my aan al die slim, en baie duur, elektroniese goetertjies op die mark. Enigiets van drie-dimensieële televisies tot kameras waarmee jy jou foto’s op ’n muur kan projekteer. Baie goed wat bitter min mense kan bekostig. Maar dagdroom is ’n goeie manier om die tyd om te kry.
Die kontinuïteits-aankondiger maak keel skoon, net toe my ooglede begin swaar word, en uit die hoek van my oog merk ek dit is nou een minuut voor drie-uur. Darem een keer wat dit blyk die uitsenders gaan op tyd wees. Ek maak solank een van die pakkies Jelly Tots, en ‘n boksie Smarties oop met my oë vasgenael op die skerm. Ek maak ‘n bier oop, neem ‘n sluk en druk ‘n stukkie droëwors in my mond. Ek is gereed. Let the games begin!
Die skerm verhelder en die langverwagte heruitsending flikker op die skerm. Die kenwysie begin speel en ek sing uit volle bors saam: ”Dashing and daring, Courageous and caring, Faithful and friendly, With stories to share………..”
Onlangse ondersteuners: