Ek het gisteraand ‘n traan of twee, of drie, of vier, of vyf weggepik. Ek het hulle nie getel nie, want my gedagtes was ‘n warboel van herinneringe, geluk en hartseer. Ons hou maar almal (party van ons partykeer, en in die geheim) van die aspoestertjie stories. Van die underdog wat uitgestyg het bo alle verwagtinge en oorwin het.
Ek het, I Dreamed a Dream: The Susan Boyle Story, gisteraand gekyk. Ons ken almal die storie, ons het almal daardie eerste oudisie se clip gesien, ons weet almal sy het toe tweede op Britain’s Got Talent gekom, en ons weet dat haar eerste album al klaar (en nog steeds besig is) om alle rekords vir eerste uitreikings te verpletter.
Hierdie gewone, vaal en nederige vrou met ‘n stem, van een of ander obskure hoekie in Skotland het aan die wêreld ‘n paar lesse geleer. Sy het ook gisteraand persoonlik aan my ‘n paar lesse geleer.
- Toe Susan vir die eerste keer verskyn het, was die wêreld in die midde van ‘n finansiële depressie, wat se eweknie laas moontlik in die dertigs gesien was. ‘n Paar minute clip op Youtube het die wêreld iets positiefs verskaf om te bespreek. Selfs al gaan dit hoe kak, moet ons soek vir, of net ons oë oopmaak, en klou aan daardie bietjie positief – WANT my omstandighede is nog steeds nie so kak soos iemand anders sin nie.
- Ons het almal daardie eerste clip gesien. Die skewe glimlagte op almal se gesigte toe sy op die verhoog verskyn het. Simon Cowell se “Wat te fok?” uitdrukking. Die geskuifel en gegiggel in die gehoor. Simon het self daarna erken dat toe hy weer die clip gesien het, het hy iets gesien wat hy glad nie van gehou het nie, blatante vooroordeel. Maak nie saak hoe iemand uiterlik lyk nie, of hoe min geld hulle het nie – Maak moeite om die persoon te ontmoet, en dan te besluit of jy van die persoon hou of nie.
- Susan het nie die kompetisie Britain’s Got Talent gewen nie. Sy het tweede gekom, maar dit het haar nie gekeer om haar droom uiteindelik te verwesenlik nie. As jy nie die eerste keer regkom nie en jy slet neer en sien jou gat, staan jy op en probeer weer. Daar is meer eer in val en weer probeer, as nooit probeer nie.
- Susan Boyle is nou 48 jaar oud, en het vir die beste gedeelte van ‘n kwart eeu gedroom daarvan om ‘n sanger te wees. Sy het nou die wêreld aan haar voete en het aan almal ‘n tikkie hoop verleen toe almal in sak en as was. Jy is nooit te oud om jou drome te bewaarheid nie. Dit maak nie saak hoe lank jy wag tot jy gereed is om daardie eerste stap te neem nie.
- Susan het aan daardie droom geklou, en dit nooit laat vaar nie. Daardie droom het lewendig in haar hart gebly tot die verwesenliking daarvan. Ek het besef dat ek altyd een groot droom gehad het. Dit was om ‘n mens gesentreer, en soos die lewe uitgedraai het ‘n bietjie meer as 4 jaar terug, sal daardie droom nooit verwesenlik kan word nie. My bucketlist is nie drome nie, dit is wense….. ek moet nuwe drome kry.
En toe sluit sy die program af met die lied wat alles begin het, en ek kom agter sy sing eintlik van my……
I dreamed a dream in time gone by
When hope was high and life worth living
I dreamed that love would never die
I dreamed that God would be forgiving
Then I was young and unafraid
And dreams were made and used and wasted
There was no ransom to be paid
No song unsung, no wine untasted………
- I Dreamed a Dream – Les Mesirables -

Onlangse ondersteuners: