Archive | 2:50 nm

Woordspel…. Aas die foto’s

22 Jan

Uitdaging aan myself… ok, dit was 45 minute en nie 30 minute nie…. met Phibbie se onderwerp: Die aardbewing en nagevolge

Aas Die Foto’s

Ek is ‘n aasvoël. Yip, ek kan dit maar erken, want ek is een van die beste in my professie. Jy het nie ‘n kaggel vol beeldjies en pryse omdat jy gevoelig en sensitief is nie.

Die laaste na-skokke ruk nog aan die aardkors,en die stof van ingetuimelde geboue se gefrommelde steen en sement hang nog in die lug as ek met my kamera in die hand die strate invaar. My werk is dalk vryskut, maar my foto’s word binne ure opgeraap.

Dit is asof die wêreld se nuusagentskappe weet waar ek myself bevind, want my telefoon begin al klaar lui soos ek onderdeur die sproei van ‘n gebarste waterpyp deurdraf. Ek antwoord nie nou nie, maar die gepiep van boodskappe wat deurkom beteken net een ding: Hierdie aardbewing beteken ek gaan volgende maand eet.

Die verstikkende stof hang soos ‘n atoom-sampioenwolk bo die stad. Sirenes van brandalarms en karre en polisie en brandweer en ambulanse loei bo die geraas van metaal en baksteen en sement wat intuimel, en dan is daar nog die oneindigende gehuil en skrille skreeu van mense onder die puin. Daar is die geroep van mense wat klim en klouter en soek bo-oor die hope rommel wat geboue was.

Maar hierdie kakofonie van geraas is iets wat ek uitsluit en net in die verste verte hoor. Soos klank wat met die wind aangesweef kom. Terwyl die ander soek en smeek, huil en pleit, en stukke materiaal op wonde druk om bloeding te stop, moet ek klik. Ek mik en druk en vang die pyn en hartseer op foto’s vas. Verewig ge-ets in kleur, of swart en wit vir ’n dramatiese effek. Ek maak my hart koud en sluk swaar aan my menswees om die nuus in beelde vir die wêreld vas te vang. Om volgende maand se tandepasta en spaghetti te kan koop.

Daar is vroue met hande wat uitreik, en smeek dat ek help om hulle kinders onder stukke sement uit te grawe… en mans wat snikkend aan mekaar vasklou voor brandende geboue wat voorheen hul woonstelblokke was waarin hul vroue besig was om aandete voor te berei. Daar is nuwe wesies wat eenkant onder bome sit en teddiebere styf teen hulle borste vasklou. Oë groot en verskrik. Geluidlose traanspore op hul wange. ’n Bejaarde paartjie skuifel mekaar te gemoet, en ontmoet in ’n warm omhelsing van vreugde en oorlewing.

Ek beweeg om die hoek in die rigting van ’n ander buurt. As Moeder Natuur haar stem dik maak, word niemand oorgesien nie. Die rykes word nes die armes weer mens gemaak. Net mens. Gelyk. Wat ek gehad het, of wie ek was is nie van belang as Natuur haar kragtige stempel afdruk nie. Daar is geen omkoop om dit vry te spring nie, daar is geen jammerlike pleidooie dat jy nie nog sleg verdien nie. Die dokter en die tandarts en die besigheidsman, die kassiere en die boemelaar staan almal verdwaas in die straat. Saam sal hul nou weer as mense, deur die pyn grawe om mense op te spoor. Oorlewendes. Nie ryk of arm oorlewendes nie. Sommer net oorlewendes.

My ge-oefende oog en behendige vinger klik weer pryse los. Ek sien al die opskrifte bo en onder my foto’s. Ek proe al die oorwinning. Ek was weereens op die regte tyd, en op die regte plek. Ek skakel my kamera af en bêre hom in die drasak.

Nou is dit eers tyd vir die kille fotograaf om sy siel te ontbloot, sy hart te verwarm, en deel te hê aan operasie-menswees.

Vrydagskool…Rekeningkunde101

22 Jan

Ek het besluit om maar tog vandag die klaskamer oop te sluit. Ons kyk so bietjie na basiese rekeningkunde vandag.

Kom ons sê daar is hierdie Maatskappy X. X is landswyd operatief en is die enkele verskaffer van ‘n produk wat almal daagliks gebruik. X is dus in ‘n baie lekker posisie. X laat almal egter glo dat die veskaffing van daardie produk problematies kan wees as hulle nie pryse met 35% per jaar, oor die volgende 3 jaar mag verhoog nie, om bestaande infrastruktuur op te knap en nuwes by te bou.

Nou het ons Maatskappy Y. Maatskappy Y het kontrakte by X ontvang om instandhouding op huidige infrastruktuur te doen, asook werk vir van die nuwe aanlegte wat X beplan.

Nou het ons maatskappy Z. Maatskappy Z is die beleggingsarm van ‘n baie groot Groen-Geel-Swart Party. Maatskappy Z, as 25% aandeelhouer in Maatskappy Y, trek dus uiteindelik voordeel uit Maatskappy X se prysverhogings en uitbreidings.

So ja, ANC, ek as betaler van my elektrisiteits-rekening, het ‘n probleem daarmee dat jy 25% van Hitachi se aandele besit.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 48 other followers