Archive | February, 2010

Vrydagskool….Skolesport101

26 Feb

Vandag is skolesportdag… niks lesse nie. Laat ek dit hoor: Whhhoooop Whhhoooop!!

Onthou julle die opwinding? Die kleurspanne in atletiek vir huissport. Dan die interskole-atletiekbyeenkomste, dan kom die rugby, hokkie, netbal, landloop, krieket… en dan herhaal die siklus. Ons was as tieners, en jong volwassenes BAIE meer aktief as wat ek dink ons ooit aan onsself sal wil erken, en ons het die plat mae gehad om daarvoor te wys.

En toe kom alkohol en gemorskos en ‘n algemene rondlê sonder oefening. En nou probeer mens so dikwels dit alles regmaak met kits-dieëte (Dink maar byvoorbeeld aan die Simply Slim gemors). Bietjie beter eet en goeie en gereelde oefening is egter al wat gaan help, en dit is ongelukkig die waarheid.

Feit is, en ons moet dit seker maar aanvaar – Ek gaan nooit weer lyk soos in Matriek, of selfs soos 10 jaar terug nie – Maar ek kan altyd fikser as nou wees, en sommer net in die algemeen psigologies ook beter voel.

Werk bied ongelukkig nie die geleendhede soos skool om daagliks tyd uitgesit te hê vir altetiek, rugby, hokkie en swem nie MAAR dit behoort nie ‘n verskoning te wees nie, want selfs ‘n half-uur se stap, of draf, twee keer ‘n week is beter as niks nie.

Soos Harry in die vorige post gesê het, ons bly ons eie grootste vyande, en is dikwels te vinnig, te gereed met die regte verskonings.

Prof. Wie?

25 Feb

Ek vat nie gewoonlik pamflette by die verkeersligte nie, want dit lê net in my kar rond. Ek het hierdie A5 pamflet vanoggend geneem, en dit het al ten minste ‘n halfuur se lekker-lag-leesgenot verskaf.

Prof. Wakho (Die naam sê al klaar alles) is ‘n spiritual healer wat voorvadergeeste gebruik om vir jou oplossings te vind tot alledaagse probleme. Ek neem aan hy was student van die universiteit van die lewe, want sy Engels laat veel na wense oor. Die ding is, hy doen blykbaar nie te sleg teen konsultasies van R120 per shot nie, want hy het kantore op die 11de vloer van ‘n gebou in Grayston Drive, Sandton.

Ding is, daar is blykbaar niks wat nie binne 3 tot 5 dae opgelos kan word nie. Met klem op NIKS… hier volg ‘n paar van die items soos dit gelys is op die pamflet:

  • Bring back lost lover, even if lost for a long time in 3 days.
  • Read & tell all your problems before you mention them to him.
  • Ensure that promotion you have desired for a long time at work or in your carrer.
  • Guarantee you to win pursued contracts e.g Tenders
  • Herbal therapy for controling early ejaculation
  • Herbal medicine for enlarging the penis both in length & girth permanently
  • Guarantee you to win that troubling court case….
  • Recover stolen property to your business….
  • Extreme protection for those doing dangerous jobs like security guards, Bank managers (I kid you not), pains of the joints & bones.
  • Stop your marriage or affair (Tiger moes hom dalk vroegtydig kom sien het) from breaking apart
  • Heal woman problems of barrenness, disturbing menstruation, abnormally long pregnancies ( :?: ) etc
  • Bring supernatural luck into your life to win chance games like lotto….
  • Bring you to see your enemies and make demands on them using a mirror ( :?: :shock: )
  • ensovoorts

One stop shop… ek meen wie het ‘n dokter, sielkundige, sekuriteitsfirma, die polisie, predikant ens. ens. nodig?

ALL WHITES, BLACKS, COLOURED, INDIANS etc. WELCOME (Die etc. gedeelte bekommer my nogal so bietjie)

Ek mag dalk stupid lyk….

23 Feb

Ontkenning is nie ‘n wonderkuur vir leuens nie.

Die enigste kuur vir ‘n leuen is die waarheid.

Woordspel… Die Terroriste Inval

22 Feb

Die Terroriste Inval

Daar sit ons toe nou. ‘n Groepie tiener-neefs, en een niggie. Gewapen tot die ore met .22 gewere (vir die bobbejane) en een Uzi (vir die terroriste), in die middel van die winter, elkeen op ‘n klip in ‘n koelteboom se skadu. Vandag gaan daardie bobbejane kak as hulle dit waag om hulle blinkgatte en sterte aan hierdie kant van die rivier te kom swaai. Die tamaties is nog nie lekker ryp nie, maar kees-se-kind gee nie om nie, want hulle pluk, byt en spoeg uit soos wat hulle partytjie in die tamatieland. En hulle doen dit oor en oor…. ook maar lekker stupid, want as die eerste twintig nie ryp genoeg was nie, ag toemaar….

Vakansies op die plaas was die lekkerste lekker. So tussen twintig en dertig mense saamgetrek op die plaas daar langs die Limpopo, so ‘n uur se ry van Alldays af in die rigting van Pondrift. In Julie vakansies het ons gejag, katoen geweeg en tamaties blinkgevryf en kassies aanmekaargeslaan, in die Desember vakansies het ons waatlemoene gepluk en gehoop vir die snikhete dag om verby te gaan dat ons vyfuur kan gaan swem. Ons kon darem altyd ‘n tydjie afknyp om in twee spanne te verdeel en klontoorlog te hou in die nuut-geploegde lande. Na die vakansies het die blou-en-pers kolle mooi verduideliking gekos om nie die welsyn-klop aan ons ouers se voordeure te hê nie.

Oom Bill en Oupa het ons met die bakkie afgelaai by die tamatieland: hulle oppad na die buurman vir ’n koffie-kuier, bespreking van more se jaarlikse Kerkbasaar op Alldays en die daaglikse vee van die paaie deur die weermag (jy mag nêrens in die oggende gegaan het voordat die weermag nie die paaie langs die drade by die rivier vir landmyne en terroris-aktiwiteite gefynkam het nie). Die Limpopo was droog. Ek het gewoonlik net een keer ‘n jaar daardie rivier sien vloei, en dit was as daardie rivier met ‘n malende gedruis van bome in Desembers afgekom het.

So sit ons en die bobbejane mekaar toe en dophou oor die droë loop van die rivier. Die bobbejane half uitdagend, asof hulle geweet het hulle was veilig in ’n ander land vol gewapende terroriste, ons afwagtend want ‘n tiener met ‘n geweer in die hand wil bloed sien vloei.

Die bobbejane het sekerlik geweet hulle is die rede hoekom ons in die koelte gesit en sweet het, want hulle het net daar gesit en ons dophou, half vermaaklik in beheer van die speletjie. Ja, winters in die verre destydse Noord-Transvaal se dagtemperature laat die kwik gereeld tussen 25 en 30 grade draai, maar ons moes maar sit en die takie verrig angesien ons nooit ’n enkele sent hoef te betaal het vir die wild wat ons geskiet het nie. Die stofwolk en gedreun van ’n bakkie vanaf die rigting van die buurplaas is die meeste opwinding wat daardie laaste bykans twee ure langs die tamaties gebeur het, en ons het in afwagting gesit en wag vir die twee oues om verby te kom.

Die gedreun van die bakkie in die verte het egter sagter geword en die stof het gaan lê. Hulle het tot stilstand gekom. Snaaks. Dit is toe dat ons die geweerskote hoor. Die bakkie trek toe weer weg, maar in die rigting vanwaar dit toe net gekom het. Ons het besef iets groot is fout. Die enigste logiese afleiding in daardie stormagtige tyd uit die Suid-Afrikaanse geksiedenis was…. terroriste. Dit moes terroriste wees, en ons het dadelik besef dat ons by die opstal moes uitkom, sodat die polisie per telefoon en die weermag per radio laat weet kon word. Fok die tamaties.

Die kortste pad huis toe was seker sowat twee kilometer deur ’n nuut-omgeploegde land. Dit was toe ons net weggespring het wat ons die swart man sien hardloop het in ons rigting…. vanuit die rigting waar die bakkie in ’n stofwolk in die ander rigting beweeg. Nou kyk, as ’n swartman wat heel moontlik ’n terroris is op jou afgehardloop kom, staan jy nie rond en wag jy nie om hom te groet nie. Daar is ook nie tyd vir stop en laai en skiet nie. Die terroriste is besig om Suid-Afrika in te val, en ons moes die res van die land daarvan laat weet.

Nou kyk, ek weet nie of julle al deur sulke omgeploegde lande die 100 meter naelloop oor 2 kilometer probeer doen het nie, met drade wat so elke honderd meter oor-of-der-geklim moet word nie.. Ek kan vandag die brand in my longe en krampe in my beenspiere voel. Maar so hardloop ons toe nou met die terroris agter ons aan. Nou moet ons ook seker maak ons groepie van 8 bly bymekaar, sodat een van ons nie dalk agterraak en in die terroriste se hande beland nie. Miskien is dit die stories van marteling wat ons gehoor het, wat aan ons die aansporing verleen het om dit voluit tot by die opstal te maak.

Ons snal toe in by die voordeur, al gillende in topvolume ’n deurmekaargebrabbel van ”Oom Bill”, ”Oupa”, ”Terroriste”, ”Inval”, ”Aanval”, ”Skote”, ”Polisie”, ”Weermag” ensovoorts. Die adrenalien het oorgeneem en ons is nou gereed om oorlog te maak. Die mense in die huis het ons probeer bedaar, maar ons het al klaar begin stelling inneem by die vensters gereed om die witwaks uit die terroriste uit te blaas. Ons kon egter nie verstaan hoekom almal ons so half snaakserig, en heel kalm aankyk nie, en ons kon ook nie meer die terroris wat ons agtervolg het buitekant gewaar nie en niemand het hulle vinnig na die telefoon of radio gehaas nie. Die kyke wat ons gekry het was so ‘n mengelmoes van lag en huil.

Dis toe dat Tannie Paula uitbars van die lag, dat ons heel verontwaardig besluit om hulle deur die huis, by die agterdeur uit te volg. En daar sit hulle toe, Oom Bill en Oupa, rustig en in lewende lywe onder die groot koelteboom, besig met ’n beker boeretroos. Teen die volgende oggend by die kerkbasaar het almal natuurlik toe nou al van die terroriste inval gehoor, en verwys sommige van die boere vandag, meer as twintig jaar later, nog speels daarna….

Die werklike gebeure was as volg:

Oom Bill het sy hoed by die buurman vergeet, en omgedraai om dit te gaan haal. Die geweerskote was die buurman wat sy teleskoop op ’n teiken ingeskiet het en Oupa en Oom Bill het besluit om toe met ’n ander pad om huistoe te ry. Die bobbejane het moontlik ook hulleself boeglam geskrik toe ons soos springhase die veld in is, want hulle het nie daardie dag in ons afwesigheid naby aan die tamatieland gekom nie.

Tot vandag toe weet ons nog nie hoekom die plaaswerker Johannes, aka ”Die Terroris”, al die pad agter ons aangehardloop het nie…. maar ek dink die Engele het hom daardie dag bewaar, weens die feit dat ons nie daar en dan, langs daardie stofpad, besluit het om oorlog teen die terroris(te) te verklaar nie.

Vrydagskool…Godsdiens101

19 Feb

In die lig van ons land se Grondwet (en dat sekere gedeeltes daarvan nogal snaaks genoeg gevolg word), gaan daar niks in hierdie klaskamer in jou keel afgeforseer word nie. Die towerwoord is sekulêr, lewe en laat lewe… glo in wie of wat jy wil…. of niks of niemand.

MAAR, dit maak nie saak in wie/wat/wie nie/wat nie/ jy glo/nie glo nie, ek is seker daarvan ALMAL sal saamstem oor hierdie twee Paastyd verskynsels:

  1. Beacon Marshmallow Easter Eggs (Daar is nie lekkerder nie)
  2. Hot Cross Buns (Daardie reuk van varsgebaktes)

Gaan dan uit my leerlinge, en verlustig julself vandag (en vir nog so 6 weke) in hierdie twee onbeskaamde in-jou-gesig-dit-is-so-lekker-dit-moet-sonde-wees-lekkernye…. net ‘n waarskuwing vir die Roomses onder ons – Vraatsug is nog een van die doodsondes.

PS. En onthou net omdat julle so baie van die lekker dinge eet gaan julle baie…. uhmmmm…. vlinders moet vang.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 44 other followers