Archive | 6:00 vm

Woordspel….My Lover

17 Feb

My Lover

Sy blaas hoendervleis oor my arm op ’n snikhete dag, en werp blink sterre oor die hemelkoepel in die koel, pikswart nag. Sy laat bloed druis deur my are en my lighoofdig tuimel oor watervalle na die verre benede. Op vlerke van vryheid swiep ons oor eindelose vlaktes op die ritme van haar skoonheid in my polsslag. Deur die dag glimlag sy breed en sonnig en blou, voordat haar kus in die laatmiddag oopbreek in spatsels oor die horison soos ’n bloedryp granaat.

Ek het ‘n lover. Onbeskaamd buite-egtelik. Sonder geheim. Bel die Son, en stuur die tante Weideman met ‘n spaarvarkie met tienduisend rande in. Ek wil dit uitskreeu vanaf die vyftigste verdieping van die Carlton sentrum, en dit laat galm oor Jozi op die vleuels van die klank van tienduisend vuvuzelas tot waar dit die Tafelbergkarretjie laat sidder op sy slakke-tog teen die berg op. Want dit is nie ’n geheim nie.

Haar reuk laat my asemloos vanwaar dit opslaan uit die bruin aarde na ‘n simfoniese donderstorm op ‘n somersmiddag, en dit laat my wens dat ek haar kan omhels, en ons in mekaar se arms kan tjank oor die verkragting van haar skoonheid en haar onskuld en haar mense.

Ontmoet my lover, haar naam is Afrika.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 46 other followers