Laaste Dans
Ek het saam met arende gesweef op die maat van All These Things That I’ve Done, daar agter die Michelangelo op die horison, tussen die ligoranje wolkies. Die val aarde toe was skielik en pynlik. Terug in my kar in die verkeer werp my gedagtes weer herinneringe voor my voete. Eens gelukkig, nou pynlik seer. Onthou jy nog die aand daar by Topaz in Vermeulenstraat? Die massiewe dansbaan en die Strausswalskeurspel? Hoe ons om en om getol het totdat ons in ‘n hopie in die middel van die vloer opgeeindig het. Die ander se bekommernis en ons uit-die-maag skaterlag?
En dan swets ek weer my gedagtes wat my telkemale een van hierdie hartseerkaarte in my bestaan indeel. Wat my elke keer weer herinner aan die geluk wat uit my toekoms weggeskeur is. Wat die wond weer oopmaak waar jy uit my hart uitgesny is, en dit laat bloei oor die illusie van nuutgevonde geluk. Al wat elke keer verskil is die genesingsperiode. Die lewe is nie altyd regverdig nie. Maar sekerlik het dit met welvaard en aansien en ander materiële te doen? Sekerlik moet mens kans gegun word om te beplan. Om die kalender te vat en langs datums neer te pen: Laaste Fliek en Laaste Piekniek en Laaste Lag en Laaste Soen en Laaste Dans.
Dit maak nie saak hoe ek hierdie foto vashou of draai nie, daar is geen kans vir daardie Laaste Dans nie. My herinneringe is net so onregverdig soos die lewe.
Onlangse ondersteuners: