Archive | April, 2010

Vrydagskool….Filosofie201

30 Apr

Rasta sê:

As ‘n swerm voëls oor jou vlieg is dit voordelig om ‘n hoed op te hê want die kanse is goed dat ten minste een op jou kop gaan skyt. Of dit ‘n keps of ‘n sombrero moet wees, hang af van die feit of dit mossies of aasvoëls is.

Rasta het gesê elkeen sal persoonlik weet wat om daarmee te doen…..

Net nog ‘n rede….

28 Apr

…. hoekom ek nie van ‘n Castle of ‘n Label hou nie.

Want ek is seker daarvan dat hulle botteltjies nie ingeboude balansmeganismes het vir as mens by die krans “afval” nie. Nie ‘n druppel Windhoek is gemors nie.

Hoop is nie As nie

26 Apr

 

In die aande as ek droom val die legkaart weer in plek. Die mense word weer een oor mure, grense en oseane heen. Die oog is blind vir kleur, kultuur en rykdom en laat gaan plek vir haat en oorlog nie. Die mond is stom vir leuens en kwaadstook, en loop oor van vreugde wat in die hart borrel. 

Maar dan word ek elke oggend weer in my nagmerrie wakker, en alles lyk net so verkeerd en die anti-klimaks druk swaar op my gemoed. Kan almal nie maar net besef dat die droom nie veel vra nie? Dit vra nie noodwendig liefde vir almal nie, dit kan begin by respek. Dit verg nie noodwendig hand-om-die-lyf-kum-baja-om-die-kampvuur nie, dit kan begin by verdraagsaamheid. Dit verg nie noodwendig ‘n wêreldwye Woodstock-droom nie, dit kan begin by integriteit. Die greintjies hoop word egter heeltemal verskuil in die groot gros van slegte nuus en gebeure waarmee ons daagliks gebombardeer word. 

Maar dan gooi die nag sy sterrekombers oor die aarde, en kan ek weer uitsien na lewe in my kamma Utopia.

Gelukkig net voor ek my oë toemaak kan ek my hande saamslaan en eers dankie sê. Dankie vir wat ek het. Dankie dat ek lewe. Dankie dat ek kan probeer deel. Dankie dat daar nog greintjies hoop is. Dankie vir daardie een brokkie  in vandag se koerant wat goeie nuus was. Dankie vir die besef dat Rome nie in een dag gebou was nie, maar dat elke baksteen tel.

En dan kan ek my oë sluit, en ontvlug na my droomwêreld, want ek weet dat as nie verbrande hout is, solank as wat daar nog hoop is nie.

Vrydagskool…DieTriangle101

23 Apr

Die Bermuda Triangle

Ek het laas jaar die Bermuda Triangle opgespoor. Is true! Kyk, daar was tot ‘n bordjie opgewees. Maar dis nie waaroor skool vandag gaan nie, skool gaan oor ‘n ondervinding wat ek gisteraand gehad het……

(ter beskerming van karakters is die eerste letters van die van gebruik om karakters te onderskei)

Gistraand bevind ek myself gou by goeie vriende van my, Stiti en Stoti. Die vinnig stop het toe gou uitgedraai in ‘n glasie (of so) wyn, en bietjie speel met hulle oulike tweeling wat in Junie 1 jaar oud word, BabaStiti en BabaStoti. (Ek hoop julle volg nog… hou net kop)

Stiti se Ma en Pa daag toe ook daarop, Vtiti en Vtoti. Nou kyk, op die beste van dae is hulle nie my gunsteling mense nie, maar ter wille van my vriende is daar ‘n Verdrag van Verdraagsaamheid. Die rede hoekom hulle nie almal se gunsteling persone is nie, is omdat Vtiti ‘n bietjie van ‘n giftige tong aan haar het, en nog nooit doekies omgedraai het oor die feit dat sy nie eintlik van Stoti, my vriend en haar skoonseun hou nie.

All fair in love en war seker, die probleem is sy skroom nie om in enige geselskap sulke snedige, skuins aanmerkings te maak nie. Nou Stiti en Stoti het al albei baie met Vtiti baklei, maar niks. So nou is almal op ‘n soort van ‘n “verdra-mode”. (Is julle nog by?)

Nou kyk, ek en Stoti sit nog so en gesels oor Stiti en Stoti se beplande Wildtuin vakansietjie toe Vtiti hier uit die een kant opmerk, (woorde wat sommer met die hele tombola-tafel wegloop), dat ja, ” Na haar en Stoti se troue, was Stiti nogal bekommerd dat sy en Stoti nie mooi kinders gaan hê nie. Ja, soos byvoorbeeld Etiti.” (Etiti is die ander kleindogter).

Kyk, so gewoond as wat ons aan hierdie giftige-kobra-hiss-swartadder-byt opmerkings is, sluk ek toe weereens amper my wyn met glas en al af. Ek was op die punt om te antwoord – “Ja, daardie V-neus kan nogal ‘n bogger wees.”

MAAR, deur in haar strik te trap, en ‘n aanmerking te maak sou ek net so laag soos Vtiti gedaal het. Eintlik laer, want ek sou ten minste 5 ander mense in die kamer ook in die gesig gevat het. En so moedeloos oor, en gewoond as wat ons almal al aan die bitsige, vennynige aanmerkings is, so seker kan ek nog elke keer sien hoe dit nie net vir Stiti en Stoti kwaadmaak nie, maar ook seermaak.

‘n Wag voor jou mond kos niks nie. Stoti is beter vir hulle, Vtiti en Vtoti, en vir hulle dogter Stiti, as wat enige ander man kan wees.

Die les:

As daar nie rede is om ‘n bitsige poephol te wees, byt eerder jou eie tong, voor jy die atmosfeer met jou kak aanmerkings besoedel.

Nou moet ek nog net uitvind hoe laat mens iemand in die Bermuda Triangle in verdwyn…..

Lusitoland

22 Apr

Dit is weer daardie tyd van die jaar….

Groot partytjie….. met jou ingangsgeld vir ‘n goeie doel. Dis seker die grootste (en  definitief lekkerste) jaarlikse fondsinsameling op die Jozi kalender. Ek gaan sommer party jare twee keer, want selfs die entertainment is jou R50.00 werd.

Die Lusito organisasie is daargestel vir die ondersteuning van die Lusito Skool vir Gestremde kinders. Alle opbrengste van die fees word net so in die organisasie se koffers gestort.

Ongeveer 160,000 mense woon die Portugese fees elke jaar by, en dit sal definitef nie hierdie jaar anders wees vanaf 22 April tot 2 Mei nie.

Ek weet ek gaan definiteif die 27ste, maar sal dalk sommer nog ‘n besoekie iewers inpas…. en proe al daardie farturas en caipirina’s….

As jy in Jozi en omgewing is kan jy dit nie misloop nie…. dis die beste Party met ‘n doel ooit… en Leisure Options se The Best of Jo’burg stemmers stem saam… Lusitoland is al 11 keers as die beste fees aangewys.

Gaan loer by www.lusitoland.co.za vir nog inligting en die daaglikse vermaaklikheidsprogram…..

‘n Paar interessante feite van die webwerf af oor jaarlikse verversings en bestandele gebruik elke jaar… ten minste:

  • 200,000 brode
  • 2,625 dosyn eiers vir die maak van farturas
  • 18 ton vleis
  • 1.5 ton sardientjies
  • 900 liter caldo verde (beste sop ooit!)
  • 2 ton prawns
  • 17 ton hoender
  • 5,000 koeke
  • 3 ton chourico
  • 500 kg giblets
  • 150,000 biere
  • 50,000 liter draft bier
  • 20,000 liter wyn
  • snaaks, hulle sê niks van die caipirina nie……
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 48 other followers