Die taaldebat is die laaste ding waaraan ek wil deelneem, om verskeie redes. In die eerste plek word die gesprekke dikwels gevoer deur geleerdes en taalkundiges wat in elke geval praat en skryf in Afrikaans wat ek nie verstaan nie. ‘n Ander rede sal wees dat die lewe by jou verbygaan as jy jouself ophou met onbenullighede. ‘n Verdere rede sal wees dat die gesprekke en debatte die hele tyd op dieselfde negatiewe trant voortdonder: Die indruk dat Afrikaans besig is om uit te sterf.
Ek sou graag die volgende wou sien:
Gooi julle breinkragte en taalvaardighede saam en fokus bietjie op die positiewe. Wys aan die mense die wonderlike kant van Afrikaans uit, die positiewe kant.
Toe ek op skool was het geen tiener Afrikaans geluister nie, nou is Kurt Darren die topverkoper in Suid-Afrika. Ek lees daagliks nog nuus en koerante in Afrikaans. Ek praat daagliks met kollegas by die werk Afrikaans. Daar is mense oral in dorpe soos Upington wat nie eers Engels verstaan nie. Ek blog in Arikaans. Ek lees daagliks ‘n hele gros ander Afrikaanse blogs. Facebook is in Afrikaans beskikbaar. Google kan selfs die Afrikaans vir oorseese lesers in Engels vertaal (wel soortvan 99% korrek)….
Ag tog, ek het skoon vergeet waarheen ek oppad was toe ek begin het. O ja, hoe wonderlik dit is om iewers te kom en ‘n uitdrukking te hoor, wat nie net van pas is as jy die toestand van ons paaie in ag neem nie, maar wat jy nog nooit gehoor het nie… en waar wil jy iets meer positiefs oor Afrikaans as dit kry: ‘n Taal wat groei.
My uitdrukking te dankie aan die mense van die Groen Kalahari is:
Die pad is so sleg, hy skud ‘n week se kos in een drol in
Het jy al iets nuuts gehoor wat vasgesteek het?
Onlangse ondersteuners: