Archive | 7:05 vm

Hoop is nie As nie

26 Apr

 

In die aande as ek droom val die legkaart weer in plek. Die mense word weer een oor mure, grense en oseane heen. Die oog is blind vir kleur, kultuur en rykdom en laat gaan plek vir haat en oorlog nie. Die mond is stom vir leuens en kwaadstook, en loop oor van vreugde wat in die hart borrel. 

Maar dan word ek elke oggend weer in my nagmerrie wakker, en alles lyk net so verkeerd en die anti-klimaks druk swaar op my gemoed. Kan almal nie maar net besef dat die droom nie veel vra nie? Dit vra nie noodwendig liefde vir almal nie, dit kan begin by respek. Dit verg nie noodwendig hand-om-die-lyf-kum-baja-om-die-kampvuur nie, dit kan begin by verdraagsaamheid. Dit verg nie noodwendig ‘n wêreldwye Woodstock-droom nie, dit kan begin by integriteit. Die greintjies hoop word egter heeltemal verskuil in die groot gros van slegte nuus en gebeure waarmee ons daagliks gebombardeer word. 

Maar dan gooi die nag sy sterrekombers oor die aarde, en kan ek weer uitsien na lewe in my kamma Utopia.

Gelukkig net voor ek my oë toemaak kan ek my hande saamslaan en eers dankie sê. Dankie vir wat ek het. Dankie dat ek lewe. Dankie dat ek kan probeer deel. Dankie dat daar nog greintjies hoop is. Dankie vir daardie een brokkie  in vandag se koerant wat goeie nuus was. Dankie vir die besef dat Rome nie in een dag gebou was nie, maar dat elke baksteen tel.

En dan kan ek my oë sluit, en ontvlug na my droomwêreld, want ek weet dat as nie verbrande hout is, solank as wat daar nog hoop is nie.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 48 other followers