Archive | 7:09 vm

Blou is nie net ‘n kleur nie.

31 May

Dit is wat my naweek was, skakerings van Blou, en nie net oor die Happy Blou van die bulle oorwinning nie, maar ook blou van verlange. Ek het vanoggend in my tru-spieëltjie gekyk, en besef hierdie “under-the-weather” blou look pas nie by my oë nie. Daardie verlange wat ek ervaar het, is net ‘n klein deel van wat my naweek was, die Bulle het ook gewen, ek kon rondry in my eie kar, ek kon eet, ek het ‘n dak oor my kop en ‘n warm bed gehad… en en en…

Elkeen van ons is ambassadeurs vir Suid-Afrika in die volgende twee maande. Ongeveer 49 miljoen van ons. Ten minste 250,000 oorseese besoekers gaan hulle voete op ons Afrika-grond neersit (party het al klaar)… en ek dink die laaste ding wat hulle wil sien is my “under-the-weather” blou gesig. Onthou, die besoeker met die goeie ondervinding, kom volgende vakansie weer… met ander vriende in tou. Dis ‘n sneeubal effek. Die plek waar ek ALTYD heen wil teruggaan is Italië, want dit is die land waar ek die lekkerste ondervindings met die mense gehad het.

Onthou net, dit maak ‘n verskil. Hierdie mense land hier aan in ‘n vreemde land, almal waarsku hulle oor geweld en dat hulle dalk liewers nie hulle koppe by die deure moet uitsteek nie. Dit is ons plig om die doemprofete verkeerd te bewys. As jy in die pub, restaurant of selfs winkelsentrum is…. en jy eien ‘n besoeker… groet hulle, sê vir hulle welkom, vra of hulle ok oor die weg kom… koop dalk vir hulle ‘n bier of ‘n koffie… ja, jy mag dalk niks terugontvang nie, maar dit is die punt… Ons moet lewe asof ons niks terug verwag nie.

Ek het hierdie spieël hier geinstalleer…. kyk lank en hard, en dan besluit jy of die gesig wat na jou toe terugkyk, die van ‘n gepaste Suid-Afrikaanse Ambassadeur is. Dit kos jou niks om vriendelik en behulpsaam te wees nie. Ek het die wonderlike geleendheid om ‘n paar Amerikaners vir ‘n week en ‘n Bulgaarse paartjie vir twee dae by my te hê, en al is ek nie die grootste sokker ondersteuner nie, gaan ek my beste voetjie voorsit vir Suid-Afrika.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 48 other followers