Archive | 11:33 vm

As Ek Verlang

3 Aug

As ek verlang

Sit stil en luister my lief, winde wat jou naam fluister;

Sit stil en luister my lief, golwe wat jou naam uittrom;

Sit stil en luister my lief, elke keer as ek verlang.

 

Somtyds as ek verlang, wend ek my tot foto oomblikke;

Ons loop in die park, jou hand wat perfek in myne pas;

Ons lê op die bank, jou kop wat in my skouerholte pas;

Ons staan in die son, my arms wat so mooi om jou lyf pas.

 

Staan stil en voel my lief, winde wat jou lyf omvou;

Staan stil en voel my lief, sonskyn wat jou lyf  sag streel;

Staan stil en voel my lief, elke keer as ek verlang.

 

Somtyds as ek verlang, wend ek my tot droom kastele;

Ons speel in die see, laggend deur branders omgedolwe;

Ons stap in die woud, peinsend in die laatmiddag stilte;

Ons sit op ‘n klip, starend na die rooi sonsondergang.

 

Sit stil en luister my lief, na my verlange na jou;

Staan stil en voel my lief, my kus op jou lippe sag;

Sit stil, staan stil, my lief, elke keer as jy verlang.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 48 other followers