Die mense wat weet van brug sal weet van troefkaarte, maar iewers het die reëls in die geheim begin verander. Daar is ‘n nuwe troef wat gespeel word, en op die mees onvanpaste oomblikke – rassisme.
Rassisme is nie eie aan Suid-Afrika nie, en dit is ook nie in die Suid-Afrikaanse konteks slegs ‘n sinoniem vir apartheid nie. Dit gebeur ja, en sal soos in die res van die wêreld altyd met ons wees. Dit is ‘n feit vir sowaar as wat die lug blou is op ‘n sonskyn-somersdag.
Wat my dwars in die keel steek is hoe dit ‘n troefkaart geword het om ‘n persoonlike opinie te ondersteun, net omdat jy aan geen logiese verduideliking vir jou siening kan dink nie, of die rassekaart sommer net as flou verskoning vir jou eie tekortkominge wil gebruik.
As jy ‘n opinie het, wees eerlik en deel hom, en wees bereid om die hitte om die vuur aan te durf as iemand wil debatteer. Moenie dit agter rassisme probeer verskans nie, jy lyk net soos ‘n poephol, wat dieselle gal oor en oor braak. ‘n Vuurdoop-video van ‘n universiteitskoshuis is nie noodwendig rassisme nie. Mara Louw is nie noodwendig ‘n rassis omdat sy ‘n blonde prinsessie met ‘n piep stemmetjie nie wil laat deurgaan na ‘n volgende rondte toe nie.
As jy tekort skiet in jou pligte, of eerder al jou tyd aan ‘n rit op die soustrein wil spandeer as om jou werk tot die beste van jou vemoëns, en tot die beste voordeel van Suid-Afrika te doen, moet jy nie wolf skree as jy uitgevang word nie. Neem eerder verantwoordelikheid vir die kak wat jy aangejaag het, as om ou koeie uit die sloot te gaan opgrawe en jou tien vingers in dei rigting van apartheid te wys. Die vervalle en swak onderhoude infrastruktuur is nie as gevolg van apartheid nie. Alles wat verkeerd gaan, of uitmekaarval kan nie na 16 jaar steeds ‘n apartheids-erfstuk wees nie.
Ek is moeg om na dieselfde vasgehaakte plate te luister. Dit het op my dieselfde effek as om Kaptein op repeat te luister al die pad van Jozi af tot in Kaapstad.
Die rassekaart het in een of ander siek speletjie ontaard, ‘n tipe van tit-for-tat, waar niemand die wenner gaan wees nie – en ek permanent met ‘n wrang smaak in my mond rondloop.

Onlangse ondersteuners: