Archive | 7:54 vm

En nou weer André….

4 Oct

Elke keer as ek lees van iemand wat selfmoord gepleeg het, of gepoog het, kry ek so ‘n beklemming om my hart. Ek wil ween vir so ‘n vermorste lewe, want ek kan dit nie verstaan nie.

Selfmoord is heeltemal buite my verwysingsraamwerk. En omdat ek dit nie verstaan nie, maak dit my nie net hartseer nie, maar ook briesend kwaad. Hoe kan jy besluit om die gawe van lewe, ‘n biologiese wonderwerk, net so op te gee?

Dit is soos om ‘n blinkrooi Ferrari as verjaarsdagpresent te ontvang. Jy vat hom natuurlik vir ‘n rit. Jy parkeer by ‘n uitkykpunt op die Long Tom Pas. Die uitsig is asemrowend, en jou rooi Ferrari pryk pragtig in ‘n digitale foto met die grasgroen vallei in die agtergrond.

Die volgende stap is om die handrem los te maak, en die droomkar ‘n hupstootjie oor die afgrond te gee. Jou laaste foto van jou bloedrooi Ferrari is ‘n vuurbol vlamme.

Ek kan dit nie verstaan nie, om te lewe is ‘n droom. Dit is ‘n wonderwerk.

In enige slegte situasie, maak ek myself altyd wys ek is nie alleen nie. Daar is mense wat voor my al daardie hekkie oorkom het, daar is mense wat tans besig is om daaraan te werk… en daar sal mense wees wat daardie hekkies sal moet oorkom in die toekoms.

Nie net het ek ‘n verantwoordelikheid teenoor myself, om die meeste te maak van hierdie gawe, LEWE, wat ek ontvang het nie, ek het ook ‘n verantwoordelikheid teenoor geliefdes… en ‘n verantwoordelikheid teenoor alle mense wat in die toekoms met daardie selfde tammeletjies gaan worstel. My verantwoordelikheid teenoor hulle is die voorbeeld wat ek aan hulle stel dat ‘n probleem oorkom kan word.

Soos ek sê, ek verstaan dit nie, maar dit maak my tog bitter hartseer. Ek verstaan dit nie, want dit lyk na die maklike uitkoms. Die mens is van sterker stoffasie as dit gemaak…. en dit is nou al oor duisende jare bewys.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 46 other followers