Soos wat ek hier tik, en my gedagtes probeer orden, is die Phoenix besig om uit die stof op te rys en een vir een die Chilliese myners van onder die grond na die oppervlak te bring. Hierdie 33 mans was vir 68 dae onder die grond vasgevang.
Nie net het hulle weereens bewys dat die mens van veel sterker stoffasie gemaak is, as wat ons onsself somtyds wil wysmaak nie… maar steeds selfs tydens die reddingspoging toon hulle ongelooflike krag van liggaam en gees.
Daar is geen ongeordende geskarrel en onenigheid nie. As die reddings-kapsule onder kom, kom slegs die volgende gekose man vorentoe om na die oppervlak geneem te word.
Ek wonder hoeveel neem dit van jouself sielkundig, om selfs na 68 dae se fisiese en psigiese hel, nog steeds te besef dat dit nie oor jouself gaan nie, maar dat dit oor almal saam met jou in die verknorsing gaan.
Ek dink dit is hoekom die wêreld voor die TV’s vasgenael sit. Ons hou daarvan om vir ‘n verandering nuus te lees en te sien, waar ‘n totale ramp omskep is in ‘n positiewe verhaal.
Dis net jammer dat nie meer mense van hier af vorentoe die lesse van hierdie storie saam met hulle gaan neem en dit implimenteer nie. Die werklike storie gaan nie oor die veiligheid in myne nie. Dit gaan nie oor NASA se voorstelle vir die Phoenix kapsule nie. Dit gaan nie oor die mense wat die tonnel ontwerp en geboor het nie. Die werklike storie (lees lesse) gaan oor kameraderie, menswees, selfbeheersing, die uithouvermoë van die menslike liggaam en gees…… en ‘n tweede kans.
Onlangse ondersteuners: