Daar is al voorheen geblog op plekke oor individue wat ons paaie kruis. Dis miskien net vir ‘n moment, dalk ‘n dag, of week of maand….. So hierdie kruisigers is nie die wat jou teen ‘n kruis hang nie, maar wel reisigers wat ons lewenspaaie kruis. Gedurende die SWC2010 het ek die geleendheid gehad om deur couchsurfing 3 ouens uit Amerika aan huis te hê… Gavin, John en Austen. Uit die tientalle versoeke vir verblyf, het ek hulle gekies… en ek weet nou hoekom.
Die drietal het aan my bewys dat ek met ‘n lelike veralgemening oor Amerikaners in my brein rondgeloop het. Die drie is van die vriendelikste, en mees bedagsame en nederigste mense wat ek al ooit ontmoet het. Almal kan nie oor dieselfde kam geskeer word nie.
Tweedens het ek geleer van naasteliefde. Na die wêreldbeker is John Tanzanië toe, waar hy aan ‘n sendeling uitreikaksie deelgeneem het om ‘n skool te opgradeer en ‘n nuwe stoorkamer te bou.
Ek verneem nou van Gavin dat hy homself nou in Pakistan bevind. Na die vloede daar is verskeie dorpies en gemeenskappe in die verknorsing. Deur middel van ‘n organisasie het hy en 2 ander vriende uitgevind dat dit ongeveer $500 sal kos om ‘n huis te herbou. Hulle het ‘n dorpie gekies waar 36 families se huise herbou moet word, en die geld self ingesamel. En nie net het hulle die geld ingesamel nie, maar is ook oppad na die dorpie toe om self ‘n hand by te sit.
Daar is nog goeie mense daarbuite… en elke kruisiger wat oor ons pad kom, is dalk net om ons ‘n vinnige lessie te leer, of om deur kontak daarna aan te hou lesse leer. Onthou dat jy ook ‘n kruisiger vir ander mense elke dag is… is daar iets in jou houding, of die manier hoe jy optree wat hulle iets leer? Of los jy ‘n swak smaak in hulle monde?
Wow!!! Sulke mense gee vir my wip in die stap!!!
Dis hoekom ek van die uitdrukking hou: “You are the only Bible some people will ever read.”
Ongelooflike raak-beskrywing!
Oeg, ek hou van ‘n storie wat my ogies laat natword.
Dis lekker om so bietjie nou en dan goeie nuus te hê.
Dis voorwaar great dat hulle tyd afstaan en resources bymekaar maak!Baie mense kan by hulle leer.
Mens kan so baie by baie mense leer deur net te observeer.
Kruisigers… kruisridders… thanks for sharing.
Lekker positiewe storie – dankie.