Archive | February, 2011

Vrydagskool…Geskiedenis101

25 Feb

Hierdie is die kiekie van ‘n Van Gogh, nie Vincent nie, maar sy jonger broer Cornelius (Cor). In die jaar wat Vincent selfmoord gepleeg het, het Cor Suid-Afrika toe gekom, saam met ‘n groep van ongeveer 6,000 ander Nederlanders om treine te bou, asook te help met die bou van die Pretoria – Lourenzo Marks treinspoor.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het Cor by die Hollanderkorps aangesluit om saam met die Boere te veg as ambulansbstuurder. Hy is egter deur die Britse magte gevange geneem in Maart 1900 naby Kroonstad. Hy het siek geword en is verplaas na ‘n hospitaal in Brandfort, waar hy op 14 April 1900 gesterf het. Hy is hier in ‘n ongemerkte graf begrawe.

Daar was ‘n skietwond in sy liggaam, en daar word geglo dat hy nes sy broers, Vincent en Theo ook selfmoord gepleeg het. Hy was 33 jaar oud.

Daar is natuurlik ook ‘n conspiracy theory…. dit blyk uit briewe deur die jare tusse die drie broers geskrywe, dat Cor heel moontlik van Vincent se sketse, selfs ‘n skildery of twee by hom gehad het toe hy Suid-Afrika toe gekom het…. iewers sit iemand dalk met ‘n Van Gogh in die solder van ‘n beskeie Nederlandse Zuid-Afrikaanse Spoorweg Maatsappij huisie naby Germiston…..

Die Republiek van die Maan….

24 Feb

Ek gaan Maan toe trek…..

Ek sal op die eerste Virgin Galactic Vlug wees. Ek gaan die vlug highjack, en vra om by die maan afgelaai te word. Daar aangekom gaan ek die maan annekseer en myself aanstel as Opperhoof Koning en Lewenslange President van die Demokratiese Diktatoriese Republiek van die Maan (Maan vir kort).

Ek sal persoonlik keur wie grond daar mag besit (enige politikus word onmiddelik afgekeur, en enigeen wat kan bewys dat hy persoonlik betrokke was by die “verdwyn” van Robert Mugaab en Brother Leader kry verniet grond), en ook persoonlik goedkeuring gee vir die wat wil voortplant (ek het al genoeg te doen gehad met dom en stupid mense op aarde). Ek sal persoonlik die ouers oplei oor hoe om hul kinders te onderrig in die basiese hoekstene van menswees. Van daardie ouers sal ook betrokke wees by onderwys.

Die doodstraf sal ingestel word. Die eerste persoon wat gevang word met bloed op die hande, word sommer as laksman aangestel aangesien hierdie persoon geen gewetensprobleme sal hê nie. Die mense wat steel word summier teruggestuur aarde toe, en in die Gaza-strook afgelaai met ‘n “Ek haat Palestina” bord om die nek.

Bevolkingsgetalle-beheer sal toegepas word om sodoende alles verniet te kan hou binne die jaarlikse begroting. Die Maan se inkomste sal gegenereer word deur die aanvanklike grondverkope, toerisme……

……. en die maandelikse fakturering van elke land met ‘n kuslyn vir die getye.

WEW….(11.01×2) van (2000+10+1)

22 Feb

Ek wonder hoe lank dit sekere mense nog gaan vat om uit te vind hulle het ‘n brein en hulle kan ook vir hulleself dink? Hoe kan jy deur die lewe dwaal terwyl iemand anders jou besluite vir jou maak? Hoe kan jy enigiets wat vir jou besluit word sommer net gelate aanvaar?

Ons sien dit in politiek. Ons sien dit in seksistiese onderdrukking. Ons sien dit in die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Daar is ‘n diktator om elke hoek en draai, ja, selfs in mense se persoonlike lewens.

Verdien almal maar nie dieselfde regte nie? Miskien is daar waarheid daarin dat daar geen so blind is, soos die wat nie wil (of weier) om te sien?

Miskien is die winde van verandering wat in Noord-Afrika en die Midde-Ooste begin waai ‘n goeie teken. Dan weer, miskien is dit net ‘n stofstormpie….

Vrydagskool…Pret101

18 Feb

Net omdat dit Vrydag is, en Superrugby vandag afskop, en die Krieket more afskop gaan ons bietjie pret hê met liedjie titels.

Die game werk so:

  • Vra my een, twee of sommer vyf vrae.
  • My kreatiwiteit word beproef, want my antwoord moet die naam van ‘n Afrikaanse of Engelse liedjie wees.

LET THE GAMES BEGIN….

En net omdat ek in so ‘n goeie bui is, daag ek vir Toortsie, JanTwak, Son en Xena uit om dieselfde te doen (en sommer enige ander een wat wil saamspeel)… wat is skool dan nou sonder huiswerk?

Ek glo…

16 Feb

Ek glo dat nige iemand wat ‘n salaris van die staat af kry, moet ‘n meriete verhoging kry. Jy moet kry wat jou werk werd is, en nie omdat jy saam met jou kollegas mooi gesing en toyi-toyi het nie. Dit sal al klaar diens verbeter.

Ek glo (verstaan) ons land is blykbaar ‘n demokrasie. Siende dat ons ‘n demokrasie is, wil ek geken word in besluite wat my nog ekstra geld gaan kos. As die motoriste op Gauteng paaie geweet het die wonderlike padverbeterings gaan hulle so baie geld kos, is ek verseker sou hulle in ‘n referendum “NEE” gesê het.

Ek glo daar moet ‘n onafhanklike tenderraad wees. Mense met die nodige kennis van buite, en onafhanlik van elke staatsdepartement moet besluit wie tenders kry.

Ek glo enige land wat bereid is om matriekuitslae aan te pas om op een of ander manier beter te lyk, is besig om hul eie neuse af te sny om hul gesigte ‘n toffee te gooi. Dis idioties. Onderskeidings is nie meer wat dit voorheen was nie.

Ek glo dat in ‘n land met ‘n 25% werkloosheidsyfer jy moet dankie sê as jy ‘n werk het. Ek glo dat wette die vrot appels in die werkplek minder moet beskerm. As jy nie nakom wat jou aanstellingsvereistes verwag nie, moet jy onder jou vrot gat geskop word. Daar is genoeg werkloses wat kan probeer.

Ek glo dat as jy vir die afgelope 17 jaar al leë beloftes opgevreet het, jy nie die reg het om voor my deur te kom huil, of om simpatie van my te verwag nie. Jou lewe is dikwels die nagevolg van jou eie besluite. Live with it.

Ek glo dat ministers en ander staatsamptenare wat uitgeskop word omdat hulle nie hulle werk gedoen het nie, of omdat hulle met hulle vingers in die tils gevang is vervolg moet word. Om as ambassadeur iewers aangestel te word kos die land net nog geld vir iemand wat ‘n nul op ‘n kontrak is. As jy nie jou werk gedoen het nie, het jy jou salaris “gesteel”. PUNT.

Ek glo dat die President en Ministers dink ek is ‘n poephol (of hulle weet dalk die wat aan hul lippe hang is?). As jy iets gesê het aan verslaggewers, of dit is op kamera vasgelê – en dit is so duidelik soos daglig wat jy gesê het, gaan dit nie help om vir my te sê die konteks is verkeerd verstaan, of erger, jy het dit nie gesê nie. Die enigste een wat lyk soos die poephol, IS JY!

Ek glo sportuitdunne op skoolvlak moet soos in die goeie ou dae verpligtend wees. Ons sit met ‘n generasie oorgewig kinders, en net omdat die Parlement almal uit hul nate uitbars, beteken dit nie dat dit iets is om na te streef nie.

Ek glo dat sekere mense eerder hul monde moet hou, om sodoende hul tekortkominge weg te steek (ek glo ook mens moet nie alles glo wat jy in die nuus lees/hoor nie). Om iets te glo, voor jy dit geverifieer het, en dan konserkkaartjies op grond daarvan in ‘n rivier in te gooi, maak jou net soos ‘n aap lyk. Die ander 99,999 mense was nog steeds by U2, net jy was missing Steve.

Ek glo dat mense wat sit en drink by die huis, se fone weggevat moet word voor hulle inbel Superrugby toe. Nommer 13 kan nie die beste vleuel ooit wees nie, want hy is ‘n senter. Suid-Afrika kan ook onmoontlik 2 spanne in die Drienasies finaal hê. Drunk-dial is ‘n EUWEL!

Ek glo dat my belastinggeld beter aangewend kan word.

Ek glo dat Geloof en Politiek nie om dieselfde etenstafel hoort nie.

TOG…

Ek glo ek bly in die mooiste land in die wêreld. Daar is nie nog grond in die wêreld wat onder my voete voel soos die van Afrika nie. Daar is nie nog lug wat so blou is, of branders wat so slaan teen rotse nie. Miskien is ek ook maar ‘n poephol omdat ek aanhou hoop?

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 44 other followers