Archive | Maart, 2011

WEW…(10.01 x 3) van (2001+(5×2))

30 Mar

Daar word hordes nuwe metropolisie motors aangekoop, en net soveel nuwe beamptes aangestel. Die minister sê hy wil teen 2014 sterftes op die paaie met 50% verminder. Alles goed en wel….

Maar waaroor ek wonder is of dit help om nog metropolisie op die paaie te hê as die bestuurders nie kan bestuur nie. Daar is blykbaar nogal min toetsstasies in Gauteng waar jy ‘n lisensie gaan kry, as jy nie ietsie ekstra aan die beampte betaal nie (en ons praat hier van hulle vra reguit daarvoor) - wat ook natuurlik andersom werk – as jy betaal kry jy jou lisensie, en dit maak nie saak of jy kan bestuur nie.

Hulle dink net nie aan die nagevolge wat so ‘n verkoopte lisensie veroorsaak nie. ‘n Lisensie om ‘n kar te kan bestuur, verg dieselfde verantwoordelikheid as ‘n vuurwapenlisensie. Beide is dodelike wapens in die hande van die gebruiker.

@#$&@$#%*!

28 Mar

Ek word nie eintlik kwaad oor onbenullighede nie, want ek glo dis verkwiste energie. Ek sal eerder diep asemhaal en op iets positief probeer konsentreer. Dit werk….

Tog is daar dinge wat wel ‘n bietjie kan krap, of irriteer -

  • Soos die Proteas se power vertoning Vrydag;
  • Soos om te lees dat amper 50 afgevaardigdes uit die regering op ‘n “werk” trip Amerika toe gaan en in plaas va sessies bywoon ‘n bietjie gaan inkopies doen en die naglewe van New York geniet;
  • Soos mense wat nie kan bestuur nie….
  • 

MAAR

As jy my bloed wil laat borrel tot die punt waar jy eiers in my hol kan kook, dan moet ek lees van gevonnisde, veroordeelde kriminele – thugs, wat kla oor die skending van hulle regte. Wat dit nog erger maak is dat die poephol onder bespreking, Mnr Krejcir,  nie eers ‘n Suid-Afrikaner is nie.

Ek kan net nie vat aan die feit kry dat enige misdadiger, ‘n persoon wat dalk gemoor of verkrag het, nog steeds dieselfde menseregte as ek kan verwag nie.

Jy kan iemand koelbloedig vermoor en dan aanspraak maak op ‘n regverdige verhoor, en ‘n prokureur en/of advokaat deur die staat verskaf as jy nie een kan bekostig nie. Dan word jy vir moord skuldig bevind as jy dit nie reggekry het om jou saak uit die hof te laat gooi nie. Sê nou maar lewenslank, want gelukkig kan jy nie die doodstraf kry nie as gevolg van menseregte. Nou kry jy vir ‘n maksimum van 25 jaar (want moontlik gaan jy na 15 jaar parool kry) gratis kos en verblyf (menseregte), EN nog verdere opleiding as jy so sou verkies (menseregte) EN gratis medikasie (menseregte) sou jy dalk siek word EN as daar ‘n verkiesing is mag jy jou kruisie trek (menseregte).

MAAR

Die swart vrou op die hoek moet probeer koerante verkoop sodat sy kan probeer spaar om vir ‘n diploma in te skryf. Hoekom probeer? Want sy moet ook kos koop, en taxi geld betaal om elke oggend tot daar te kom. En as dit reën vanaand is haar shack onder water en moet sy op ‘n nat bed probeer slaap, en hoop sy word nie siek nie, want dan moet sy in ‘n ry gaan staan vir tweederangse mediese hulp van ‘n Kubaanse dokter af…..

Die menseregte in Suid-Afrika is verwronge. Dit help veel dat Suid-Afrika wil aanspraak maak op die mees progressiewe menseregte in die wêreld, as ‘n krimineel agter tralies meer regte as ‘n wetsgehoorsame burger het.

Vrydagskool…Skinderhoekie

25 Mar

OK, so het tannie Liz toe nou uiteindelik haar laaste asem uitgeblaas. Ek sou sê 79 is nie sleg vir iemand met soveel mans, elke denkbare alkoholiese drankie en drug op jou kerfstok nie. Snaaks genoeg was sy wel groter as groot (nie in size nie) en het hierdie manewales blykbaar net nooit saakgemaak nie…

Nou vir die skindernuus. Het julle geweet?

Haar eerste man was mos ‘n Hilton. Yip, van die hotelgroep faam. Nou dit laat my aan twee dinge dink – Dit is ongelooflik dat ‘n formidabele vrou soos Dame Liz en ‘n loskop wannabe soos Paris ‘n van eentyd gedeel het, maar nou terug na die skindernuus.

Die einste Meneer Hilton het in sy dae ‘n seksuele verhouding met sy stiefma gehad. En ja, sy pa en stiefma was toe nog getroud. Raai raai wie die stiefma was? Die einste Zsa Zsa Gabor!

Dit blyk hierdie celebs is dalk meer connected as die Italiaanse Mafia.

Enige skinder wat jy dalk wil deel?

WEW….24.03 van 2011

24 Mar

En toe land die valke in die verkeerde nes. Hulle moes vir Krejcir by 54A gesoek het, en is to besig om eerder die huis by 54 te modify totdat hulle hul fout agtergekom het…..

Nou wonder ek, en dit word natuurlik nêrens genoem nie, maar dit was mos nou die ideale geleendheid vir Krejcir om te vlug? Die feit dat niks daaroor gesê word nie, is heel moontlik omdat dit wel gebeur het……..

Brothers in Arms

22 Mar

Een van die min dinge waar ons nog ‘n keuse het in die lewe is assosiasie. Familie uitgesluit, kan jy nog kies met wie anders jy wil assosieer. Ek glo nie almal besef altyd hoe belangrik hierdie keuses is nie. Die lewe is nie soos ‘n facebook profiel waar almal om een of ander rede in hierdie kompetisie gewikkel is om soveel as moontlik “vriende” te akkumuleer nie.

Deur dik en dun…dit is wat jy nodig het. Die beste vriende is nie daardie wat in mooiweer jou drempel deurtrap vir rugby en braaivleis nie. Die belangrikstes is die vriende wat langs jou gaan staan en die sambreel gaan oophou as dit kak reën.

Vat nou weer vir Shaik. Hy het geglo hy het ‘n vriend in Jacob Zuma. Ongelukkig het Shaik die val gevat vir hul onderduimse gekonkel, en hy is nou ‘n veroordeelde misdadiger en Zuma is die president. Shaik het jare laas van sy “vriend” gehoor, en selfs sy broer (wat nog steeds ‘n lekker government job het) het hom eenkant toe geskuif. Ja, hy is ‘n misdadiger – maar die hemele weet, ek sou ook iemand wou panelbeat om van frustrasie ontslae te raak.

Die saak staan so: Jy het die keuse. Jy moet besef dat tye nie altyd maanskyn en rose gaan wees nie, iewers gaan jy ‘n kruk nodig hê. Jy moet besef dat as sy gaan assosieer met semels, die kans bestaan dat die varke jou eendag mag opvreet. Jy moet besef watter verantwoordelikheid dit van jou af behels om ‘n vriend te wees. Dit is ‘n tweerigting straat – Jy moet ook eendag die kruk wees, of bereid wees om die sambreel vas te hou.

Wees die vriend wat ander sal kies om saam met hulle oorlog toe te gaan, net soos jy die moet kies wat jy met jou lewe sal vertrou.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 44 other followers