Archive | 7:37 vm

Brothers in Arms

22 Mar

Een van die min dinge waar ons nog ‘n keuse het in die lewe is assosiasie. Familie uitgesluit, kan jy nog kies met wie anders jy wil assosieer. Ek glo nie almal besef altyd hoe belangrik hierdie keuses is nie. Die lewe is nie soos ‘n facebook profiel waar almal om een of ander rede in hierdie kompetisie gewikkel is om soveel as moontlik “vriende” te akkumuleer nie.

Deur dik en dun…dit is wat jy nodig het. Die beste vriende is nie daardie wat in mooiweer jou drempel deurtrap vir rugby en braaivleis nie. Die belangrikstes is die vriende wat langs jou gaan staan en die sambreel gaan oophou as dit kak reën.

Vat nou weer vir Shaik. Hy het geglo hy het ‘n vriend in Jacob Zuma. Ongelukkig het Shaik die val gevat vir hul onderduimse gekonkel, en hy is nou ‘n veroordeelde misdadiger en Zuma is die president. Shaik het jare laas van sy “vriend” gehoor, en selfs sy broer (wat nog steeds ‘n lekker government job het) het hom eenkant toe geskuif. Ja, hy is ‘n misdadiger – maar die hemele weet, ek sou ook iemand wou panelbeat om van frustrasie ontslae te raak.

Die saak staan so: Jy het die keuse. Jy moet besef dat tye nie altyd maanskyn en rose gaan wees nie, iewers gaan jy ‘n kruk nodig hê. Jy moet besef dat as sy gaan assosieer met semels, die kans bestaan dat die varke jou eendag mag opvreet. Jy moet besef watter verantwoordelikheid dit van jou af behels om ‘n vriend te wees. Dit is ‘n tweerigting straat – Jy moet ook eendag die kruk wees, of bereid wees om die sambreel vas te hou.

Wees die vriend wat ander sal kies om saam met hulle oorlog toe te gaan, net soos jy die moet kies wat jy met jou lewe sal vertrou.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 48 other followers