Archive | April, 2011

Vakansietyd!

20 Apr

GRRRR….snaaks hoe dit voel of jy op ‘n verlate eiland sit sonder internet. Wel, ek hoop alles is weer up and running teen 3 Mei, dis nou wanneer ek weer agter my lessenaar gaan plaasneem, nadat ek vir die volgende week op ‘n strand langs die Natalse kus gelê en niksdoen het.

Mens hoef nie ‘n Christen te wees, om ‘n goeie mens te wees nie. Jy hoef nie ‘n Christen te wees om waarde in Paasnaweek te sien nie. Die twee vakansiedae is nie net pasella niksdoen dae nie, gebruik dit bietjie om jouself met introspeksie te evalueer in die vak MENSWEES101.

Strewe daarna dat iemand eendag van jou sal kan sê – You Raise Me Up

Geseënde Paastyd!

Vrydagskool…Sê jou Sê

15 Apr

Die nuusberigte waar daar gewys word hoe Andries Tatane in Ficksburg deur polisielede doodgeslaan word (blykbaar moet mens nog steeds sê na bewering, al was dit op SABC nuus vir almal om te sien), het die afgelope twee dae groot opslae in die media veroorsaak. En met goeie reg.

Nou is die ANC kwaad want hulle glo SABC nuus het te vêr gegaan deur dit op televisie uit te saai. Hulle is bekommerd, want daar het iets deur die krake geval voordat hulle die kans gehad het om dit onder die mat in te vee.

Dit maak my bekommerd dat die ANC glo dat hulle met ‘n vergesogte storie soos, hulle wil sensitiewe kykers beskerm, glo dat hul kredietwaardig klink. Wat meer kommerwekkend is, is dat daar mense is wat die halfgebakte stories glo. As daardie storie dit nie tot op die nuus gemaak het nie, was Andries se brutale moord onder aan bladsy vier versteek met ‘n beriggie wat lui: Daar was ‘n protesaksie in Ficksburg en ‘n rubber koeël is gevuur en ‘n man is dood.

Die ANC kan sê wat hulle wil, maar hulle het al meer in gemeen met die vorige apartheidsregering as ooit tevore, en hulle ongemak oor die beeldsending van hierdie storie, laat mens wonder hoeveel vorige brutale moorde onder die mat ingevee is tot op bladsy vier van ‘n koerant.

Daar mag nie ‘n inperking van persvryheid wees nie, net soos televisiekykers die keuse het om die kanaal te verander as daar iets is wat hulle ontstel. Carte Blanche beeldsend al vir jare programme met ouderdomsbeperking waarskuwings, en dit is dus prakties heeltemal onnodig vir die regering om hulle te bekommer oor die feit dat ek nie my eie keuse kan maak oor wat my sensitiewe gestel sal onstel nie.

Ek hoop van harte dat ons meer sulke insetsels in die toekoms gaan sien, want elke inwoner van Suid-Afrika verdien om te weet wat in hierdie land aangaan, sonder dat die nuus met versiersuiker toegesmeer word om ander se politieke agendas te beskerm.

Rasta sê….

14 Apr

Rasta sê:

Jy kan kwaai wees met ware vriende, want dit maak julle nie kwaaivriende nie.

Ssssshondag

12 Apr

Ek is seker daarvan die mense in die regering het niks anders om te doen as sit en nonsens uitdink nie. Om groter probleme soos werkskepping en behuising uit die kollig te haal (want dit kos geld en is ‘n bietjie meer van ‘n taai toffie en hulle faal totaal en al in daardie opsig) sit hulle in hulle gemakstoele met hulle Chivas en Kaviaar en dink aan nuwe wette, want wette is maklik – jy stel ‘n komitee aan om dit te ondersoek, dan lê jy dit aan parlement voor, en as jy weer kyk is dit in die staatskoerant gepromulgeer. Dit lyk of jy iets gedoen het.

Kyk, ek weet ons land sit met massiewe sosio-ekonomiese probleme, en alkohol misbruik sit agter baie van dit. Dit is ‘n feit. Ek sien egter geen sin daarin om nou weer wette uit te bring wat die kleinhandel verkoop van alkohol op Sondae wil stopsit nie. Mens los nie ‘n probleem op, om een dag per week die verkoop van alkohol te stop nie. Alkohol word nie net op Sondag misbruik nie. Kinders kry nie net op Sondae nie kos nie. Vrouens word nie net op Sondag geslaan nie.

Nie net sal hulle nou ‘n enorme onwettige drankhandel op Sondae tot stand bring nie, maar die misbruiker sal mos nou net op Saterdag seker maak hy koop genoeg vir Sondag ook.

Dit is naief om te dink dat die stop van kleinhandel verkope van alkohol op ‘n Sondag enigsins ‘n verskil aan die misbruik en sosiale probleme gekoppel aan alkohol gaan maak. Moenie jou gewete sus met ‘n nikswerd wet ,en dan wil jy tevrede terugsit en glo jy het iets gedoen nie.

Vrydagskool…Seks101

8 Apr

Daat is iets wat aan my krap. En nee, as jy hier inloer vir seks onderrig is jy by die verkeerde plek. Hier is ook nie prentjies uit die Kama Sutra nie.

Ek lyk vir my of ouers en onderwysers deesdae almal dinge net so gemaklik as moontlik wil hê. Ouers glo hulle betaal skoolgeld en daarom is onderrig die skool se probleem. As ‘n kind bietjie woelig is wil die onderwyser dadelik daardie kind op Ritalin hê. Almal wil dit so maklik moontlik hê, en dan ly die kind daaronder, terwyl ek glo daar moet eerder samewerking wees tussen ouers en onderwysers. Nie net een van die twee groepe is verantwoordelik nie.

Ja, die onderwyser gaan jou bloedjie leer lees en skryf, maar dis die ouer wat in hul kinders ‘n liefde vir lees moet kweek. Die onderwyser is nie daar om vir jou kind reg en verkeerd, maniere en respek te leer nie, want dit is Mamma en Pappa se werk.

Netso glo ek dat seksonderrig Ma en Pa se werk is. Dit is nie die skool of die onderwysdepartement of die kliniek op die hoek se job nie. Dit is ‘n ouer se plig om hul kinders te onderrig oor die gevolge van seks; HIV/AIDS, STD’s en swangerskappe. Dit is die ouer se plig om aan hulle kinders te leer dat seks nie ‘n sport is soos netbal en sokker nie, en dat seks gepaartgaan met groot verantwoordelikheid op ‘n emosionele vlak – dit is nie net ‘n speletjie nie.

Daar is duisende skoolmeisies wat swanger is, en dit lyk nie of te veel mense daaroor bekommerd is nie. Om hulle te leer van voorbehoedmiddels gebruik skep die indruk dat dit aanvaarbaar is.  Besef hulle die realiteit van die saak? Dit is nie net jou eie toekoms wat in gedrang is nie, maar ook die toekoms van hierdie kind wat jy dra, terwyl jy self nie veel meer as ‘n kind is nie.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 44 other followers