In my bakhande, twee palms saamgeslaan, koester ek more.
Ek lig my bakkie-palms op na die son elke more, en deurdrenk die saadjie in die middag met die trane van die hoëveldse atmosferiese simfonie. In die donker as die nag sy sluier oor die land werp, is my vuiste beskermd omvou onder my kussing. Meer kosbaar as die goud, diamante en platinum uit ons stukkie Afrika aarde, koester ek more se hoop in die palms van my twee mense hande.
Vir solank as wat die son die nag verja vir die Afrika blou; Vir solank as wat die branders die polsslag van Afrika teen die rotse uittrom; Vir solank as wat die grasvlaktes vriendelik in die bries wuif; Vir so lank sal ek hoop dat my drome in die nag vir die land van my hart, een more nie deur die nagmerrie werklikheid oorskadu sal word nie.
In my bakhande, twee palms saamgeslaan, koester ek more.

Onlangse ondersteuners: