By die Jozi dieretuin bly daar ‘n Nylkrokodil. Ek weet nie wat haar doopnaam is nie, maar ek het haar Daisy gedoop. Daisy de Nylkrokodil, vernoem na Daisy de Melker.
Nou kyk, ons weet almal wat Daisy de Melker aan elke man in haar lewe gedoen het…. en dit is hoekom tannie Krok nou haar naamgenoot is – in my beskeie opinie natuurlik.
Daisy (dis nou die krok) is ‘n weduwee. Sy het tot laas winter nog ‘n man gehad, saam met wie sy in die son kon lê en bak. Hulle het ook so ‘n oulike grot in hulle hok met binnenshuise verwarming vir die koue winteraande as hulle dalk so bietjie wou snuggle. Kos word bedien, en die Jozi wintersonnetjie bak heerlik elke dag. Idilies sou mens nogal dink, maar diep binne was daar in nabetragting iets wat aan die 4 meter lange tannie Krok gejeuk het – en een koue Julie nag in 2010 het die jeuk in ‘n krapperigheid verander… en die krapperigheid het gely tot ‘n onbesonne, onnatuurlike woedeuitbarsting.
Op hierdie yskoue aand het tannie Krok besluit om eerste te gaan inkruip. As oom Krok maar net geweet het sou hy seker gemaak het hy is binne in daardie grot voordat jy rare zebra-steak kan sê….
Miskien het tannie Krok se artritis haar opgekeil en kon sy nie beweeg nie. Miskien was sy moeg vir oom Krok en hulle vervelige lewe saam; sy het dalk gehunker na ‘n bietjie opwinding saam met die jonge heer Kroks langsaan. Maar op hierdie aand,om onverklaarbare rede het tannie Krok aan die binnekant van die grot, dwars voor die deur van die grot gaan lê, en oom Krok toegang geweier.
Oom Krok is die volgende oggend dood voor die deur aangetref. Hy het verkluim.
Daisy de Nylkrokodil lê nou alleen in die son en bak. Miskien het sy net ‘n bietjie spasie nodig gehad?
Onlangse ondersteuners: