Die nuusberigte waar daar gewys word hoe Andries Tatane in Ficksburg deur polisielede doodgeslaan word (blykbaar moet mens nog steeds sê na bewering, al was dit op SABC nuus vir almal om te sien), het die afgelope twee dae groot opslae in die media veroorsaak. En met goeie reg.
Nou is die ANC kwaad want hulle glo SABC nuus het te vêr gegaan deur dit op televisie uit te saai. Hulle is bekommerd, want daar het iets deur die krake geval voordat hulle die kans gehad het om dit onder die mat in te vee.
Dit maak my bekommerd dat die ANC glo dat hulle met ‘n vergesogte storie soos, hulle wil sensitiewe kykers beskerm, glo dat hul kredietwaardig klink. Wat meer kommerwekkend is, is dat daar mense is wat die halfgebakte stories glo. As daardie storie dit nie tot op die nuus gemaak het nie, was Andries se brutale moord onder aan bladsy vier versteek met ‘n beriggie wat lui: Daar was ‘n protesaksie in Ficksburg en ‘n rubber koeël is gevuur en ‘n man is dood.
Die ANC kan sê wat hulle wil, maar hulle het al meer in gemeen met die vorige apartheidsregering as ooit tevore, en hulle ongemak oor die beeldsending van hierdie storie, laat mens wonder hoeveel vorige brutale moorde onder die mat ingevee is tot op bladsy vier van ‘n koerant.
Daar mag nie ‘n inperking van persvryheid wees nie, net soos televisiekykers die keuse het om die kanaal te verander as daar iets is wat hulle ontstel. Carte Blanche beeldsend al vir jare programme met ouderdomsbeperking waarskuwings, en dit is dus prakties heeltemal onnodig vir die regering om hulle te bekommer oor die feit dat ek nie my eie keuse kan maak oor wat my sensitiewe gestel sal onstel nie.
Ek hoop van harte dat ons meer sulke insetsels in die toekoms gaan sien, want elke inwoner van Suid-Afrika verdien om te weet wat in hierdie land aangaan, sonder dat die nuus met versiersuiker toegesmeer word om ander se politieke agendas te beskerm.
Onlangse ondersteuners: