Archive | 7:15 vm

Vrydagskool…Kontak101

20 May

Ons het almal tientalle kontaknommers op ons selfone. Daar is net soveel e-mail adresse (of selfs meer) in ons e-pos posbusse. Party is vir werk, maar die grootste gros is gewoonlik vir familie en vriende, en somtyds dalk kennisse.

Ons het die kontakbesonderhede, maar hoekom word sommige van daardie nommers en e-pos adresse soms oorgesien? Vir hoeveel van daardie mense het ons altyd ‘n verskoning gereed om ons eie gewetes te sus, omrede ons hulle nie kontak nie. Ons wonder soms hoe gaan dit, maar maak geen poging tot kontak nie. Ek is te besig. Ek het vanoggend daaraan gedink, maar vergeet. Ek het laaste nog gebel, dit is nou sy beurt. Na wat sy vir my gesê het, beter sy eerste bel om verskoning te vra.

Daar is honderde mense regoor Suid-Afrika wat weg is. Sommer net weg. Hulle het dalk weggeloop. Hulle is dalk ontvoer. Hulle is dalk vermoor en iewers in ‘n vlak graf in ‘n veld begrawe. Sommer net weg. Wat sal hulle familie en vriende nie opoffer vir hulle kontakbesonderhede nie? Net nog een keer met hulle praat. Net ‘n nommer kry om uit te vind of hulle ok is. Net ‘n e-pos stuur om te probeer om weer kontak te maak, of ‘n SMS om net hallo te sê.

Daar is geen geldige rede hoekom ek moet verskonings uitdink hoekom ek iemand, wie se besonderhede ek met die druk van ‘n knoppie kan kry, nie mee kontak maak nie. Daar is niks daarmee fout om die minste te wees as daar dalk ‘n ongemaklike vibe is nie. Daar is tyd vir ‘n vinnige oproep, e-mail of sms. Ek het geen geldige verskoning nie, want om te probeer om verskonings uit te dink, is gelyk aan om tergend te lag in die gesigte van die mense wat enigiets sal gee vir ‘n verlore geliefde se kontakbesonderhede.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 48 other followers