Archive | Junie, 2011

Die pleb in my ontbloot…

30 Jun

Son het gedink dit is oulik dat ons almal ons stoukies oor die draadheining kom hang vir die wêreld om te besigtig…. wat maak my ‘n pleb – wat doen ek wat so bietjie (of dalk baie) common is?

Ek bly op ‘n plot. Nie omdat ek moet nie. Maar omdat ek wil.

Ek geniet my Afrikaanse musiek en sing baie keer luidrugtig saam – selfs die liedjies wat dalk bietjie (baie) oud of breindood is.

Ek het al verneem dat my “volume-control” ‘n bietjie defektief raak as ek dalk ‘n drankie of tien te veel inhet (ek het geen probleem daarmee om my Tequila sommer uit die bottel te sluk nie).

Ek koop nie die duurste wyne nie, ek koop die lekkerste wyne.

Ek dink om te kamp en karavaan is die lekkerste vakansies ooit. Ek wens elke kind kan daardie vreugde smaak.

As daar chips by my kos by ‘n restaurant is, gaan ek tamatiesous daaroor gooi. Dit moet verkieslik AllGold wees – ek kan nie restaurante in Jozi opnoem war jy AllGold kry.

Winkels toe gaan is ‘n necessary evil – so ek het geen probleem om gemaklik te gaan met my sweetpakbroek en ‘n t-hemp of sweater nie. Dis nie ‘n modeparade nie.

Ek meng my taal baie. Dit sluit in Engels, Afrikaans, Grieks en Vloek (alhoewel die meeste Grieks eintlik by vloek inpas). Daar is vir my min so onaangenaam op die ore soos  Stok-Innie-Hol-Afrikaans nie.

As ek ‘n lekker lamstjoppie, dalk lamskenkels of beesstert op my bord het, gaan ek die been afeet met my vingers. Dit is net so. Mens mors nie met die lekkerste vleisies aan ‘n been nie. (Bygesê my maniere dikteer darem ek sal dit nie in ‘n Restaurant doen nie.)

Ek doop my koekies en beskuit in koffie. Daar is geen ander manier om dit te eet nie.

En…het ek al genoem ek bly op ‘n plot?

Daar is seker nog…. ek sal die post opdateer as ek aan nog kan dink.

Goed laat ons sien… ek tag vir Xena, Dellie en Flintie (ek het nie vergeet van jou tag nie Flints – ek belowe).

Kalkoen se Kind

28 Jun

Ek is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Ek is, en was nog nooit ‘n eier nie. Ek hou my oë en ore oop. Ek praat as ek sin gaan maak en ‘n konstruktiewe bydrae kan lewer. Tog kan ek nie verstaan dat mense tog so goedgelowig kan glo dat ‘n ander ‘n dom poephol is nie. Ek is nie ‘n dom poephol nie, en daar is niks wat my so opwarm dat ek ‘n eier in my gat kan kook, soos iemand wat self onnosel genoeg  is om te glo dat ek vir slim praatjies val nie. Leuens het die manier om soos ‘n rooi serp in ‘n swart en wit fliek uit te staan.

Vat nou maar ons ongelooflike regering. Die hemele weet, 90% van hulle oggend en aand praatjies is sulke halfgebakte leuens, dat dit mens verstom laat staan soos Lot se vrou van ouds. Hoekom kan hulle maar nie net stilbly eerder as om sulke kaf kwyt te raak nie? Ek word nie gesus deur die idee dat die amptenare wat rojaal met ons belastinggeld lewe, “suspended” rakende ‘n ondersoek is nie. Al wat dit beteken is hulle sit by die huis vir 24 maande, met volle betaling – en dan verdwyn die aangeleendheid soos mis voor die son en hulle kry ‘n nuwe job in ‘n ander departement waar hulle maar weer van voor af hulle vingers in die heuningpotte kan doop. “Suspended” beteken jy gaan eintlik niks doen nie.

Vertel eerder vir my van die wat nie net afgedank is nie, maar wat die geld terugbetaal het en nou ‘n 10 jaar vonnis in die tronk uitdien. En vertel my dan dat daardie geld wat teruggevorder word gebruik is om 1,000 huise te bou (huise wat nie uitmekaaruit gaan moer in ‘n jaar nie.)

Dieselfde geld vir mense met wie jy daagliks in aanraking kom. As jy verslaap het en laat is – sê net so, moenie ‘n kakstorie opmaak nie. As daar ‘n boggerop was toe julle my radio weggestuur het, sê net so – moenie my verveel met ‘n storie so lank soos my arm wat stink soos ’n vet liegstorie nie.

Ek is werklik een van die mees verdraagsame en geduldige mense wat ek ken – maar hel, mens kan jouself net vir solank doofhou vir die bollie wat na jou kant toe geslinger word.

Vrydagskool…24 Junie 1995…15-12

24 Jun

Dit was die laaste keer wat ek werklik, sonder enige voorbehoud, geglo het die reënboogdroom kan ‘n werklikheid word.

South Africa In Union

 

Hierdie song gee my nogsteeds hoendervleis…. 16 jaar later.

Musikale Spele…Streets of London

23 Jun

Vandag is een van die hartseerste songs wat ooit geskryf is, en wat perfek  inval by my gedagtes oor dankbaarheid, deel van ons kompetisie. Vervang gerus “London” met Jozi, Kaapstad, Kokstad of Polokwane – die boodskap is universeel.

In baan 1 het ons vir Ralph McTell met die oorspronklike. ‘n Lied met soveel betekenis verdien om sonder fieterjasies gesing te word…

In baan 2 het ons vir Sinead O’Connor – die vrou wat my altyd laat dink dat dit is hoe die engele in hul kore gaan klink…

Goed. Op julle merke…Gereed…Stem!

 

 

Dankbaar

21 Jun

Somtyds staar ek by die venster uit, sonder om enigiets raak te sien. Somtyds ry ek vanaf die werk tot by die huis en ek kan niks van die rit onthou nie. Partykeer speel die radio in die agtergrond, maar ek hoor dit nie. Telekemale vertel iemand jou iets belangrik, maar jy let nie op nie. Ek kan rondbeweeg. My bene kan my van punt A na B vat – en my arms kan my hande by my mond uitbring vir daardie lekker stukkie melktert. Ek is gesond. Al my sintuie werk.

My waardigheid is nog in plek en ek is nie afhanklik van ander nie.

Dit is iets waaraan ek baie dink deesdae. Dankbaarheid.

Mens is tog so maklik om te kla, en dit is heeltemal onnodig. Nie eintlik onnodig nie, dit is skaamtelose ondankbaarheid. Ek is seker daarvan elkeen van ons ken ten minste een gestremde persoon of ten minste een persoon wat sorg nodig het. Mense wat nie hulself kan help of die vreugde kan smaak wat al jou sintuie verskaf nie.

Is dit nie snaaks as mens daaraan dink, dat dit juis die voorregte wat niks geld gekos het nie, wat eintlik die belangrikste is en die meeste werd is? Die voorregte is waarvoor ons die meeste dankbaar moet wees? Die voorregte is wat ek die meeste moet waardeer?

 

 

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 44 other followers