Vir liefie se babatee is daar ‘n “memory-box” aan haar gegee, om eendag weer vol klein herinneringe aan Lisa te oorhandig. Een van die dinge in die boks, is ‘n briefie van my…. Dit is “D” dag vandag, en ek deel dit graag…..
Liewe Lisa
Dit is vandag 20 April 2011, 42 slapies voor jy op 1 Junie gebore gaan word. Ek kan nie aan jou vertel hoe opgewonde ek is nie. Gelukkig het die tyd verby gevlieg vanaf die dag wat ek en Mamma uitgevind het dat jy oppad is. Jou naam was al gekies in die eerste naweek.
Ek het geen twyfel in my hart oor die feit dat jy ons lewens gaan verryk nie. Ek het geen twyfel in my hart dat jy so ’n pragtige meisiekind, innerlik en uiterlik, soos jou sussie Jess gaan wees nie. Ek kan nie wag om elke sekonde vanaf 1 Junie jou Pappa te wees nie; deur al die goeie sowel as slegte tye (en daar gaan hope van beide wees).
My wens is dat jy sal grootword in ’n huis gevul met liefde, sodat jy liefde kan gee. My wens is dat jy altyd ‘n bietjie meer sal hê as wat jy benodig, sodat jy die ekstra met ander kan deel. My wens is dat jy altyd met vreugde omring sal wees, sodat jy mildelik en vrylik glimlagte sal uitdeel.
My wens is verder dat jy, soos wat jy groei van baba tot kleuter, en later tiener, tot jy eendag ’n volwassene is; elke dag sal streef daarna om ‘n beter mens as die dag vantevore te wees. My wens is dat jy die vreugde van ware vriendskap sal beleef, want om kwaai te kan wees met ‘n ware vriend, maak julle nie kwaaivriende nie.
My laaste wens is dat jy sal grootword, en vir baie jare sal kan leef in hierdie wonderlike land, Suid-Afrika, en dat jy sal kan aanspraak maak op al die regte wat jou as burger toekom, maar dat jy ter selfde tyd sal besef, dat saam met daardie regte, daar ’n verantwoordelikheid vir jou is wat hand aan hand daarmee saamgaan.
Ek bid jou toe: liefde, vreugde en vrede vir elke dag van jou lewe, beginnende op 1 Junie.
Baie Liefde
Pappa

Onlangse ondersteuners: