Ek is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Ek is, en was nog nooit ‘n eier nie. Ek hou my oë en ore oop. Ek praat as ek sin gaan maak en ‘n konstruktiewe bydrae kan lewer. Tog kan ek nie verstaan dat mense tog so goedgelowig kan glo dat ‘n ander ‘n dom poephol is nie. Ek is nie ‘n dom poephol nie, en daar is niks wat my so opwarm dat ek ‘n eier in my gat kan kook, soos iemand wat self onnosel genoeg is om te glo dat ek vir slim praatjies val nie. Leuens het die manier om soos ‘n rooi serp in ‘n swart en wit fliek uit te staan.
Vat nou maar ons ongelooflike regering. Die hemele weet, 90% van hulle oggend en aand praatjies is sulke halfgebakte leuens, dat dit mens verstom laat staan soos Lot se vrou van ouds. Hoekom kan hulle maar nie net stilbly eerder as om sulke kaf kwyt te raak nie? Ek word nie gesus deur die idee dat die amptenare wat rojaal met ons belastinggeld lewe, “suspended” rakende ‘n ondersoek is nie. Al wat dit beteken is hulle sit by die huis vir 24 maande, met volle betaling – en dan verdwyn die aangeleendheid soos mis voor die son en hulle kry ‘n nuwe job in ‘n ander departement waar hulle maar weer van voor af hulle vingers in die heuningpotte kan doop. “Suspended” beteken jy gaan eintlik niks doen nie.
Vertel eerder vir my van die wat nie net afgedank is nie, maar wat die geld terugbetaal het en nou ‘n 10 jaar vonnis in die tronk uitdien. En vertel my dan dat daardie geld wat teruggevorder word gebruik is om 1,000 huise te bou (huise wat nie uitmekaaruit gaan moer in ‘n jaar nie.)
Dieselfde geld vir mense met wie jy daagliks in aanraking kom. As jy verslaap het en laat is – sê net so, moenie ‘n kakstorie opmaak nie. As daar ‘n boggerop was toe julle my radio weggestuur het, sê net so – moenie my verveel met ‘n storie so lank soos my arm wat stink soos ’n vet liegstorie nie.
Ek is werklik een van die mees verdraagsame en geduldige mense wat ek ken – maar hel, mens kan jouself net vir solank doofhou vir die bollie wat na jou kant toe geslinger word.

Onlangse ondersteuners: