Archive | Julie, 2011

Vrydagskool….Geregtigheid

29 Jul

Ek is ‘n groot voorstaander van geregtigheid. Ek is seker almal is. Dit is lekker as reg kan seëvier, en iemand ‘n straf kan kry wat hom toekom. Alhoewel ek steeds voel dat die doodstraf in sekere gevalle meer vanpas sal wees, krul my tone darem nog om as ek lees van lewenslange tronkstraf, soos byvoorbeeld na die Lindley moorde.

Tog kom daar tye, soos met die volgende gevalle:

In 2010 by die Durban July, word Daryl Peense deur ander punters gestamp, en van sy drankie mors toe oor die balkon, en val op een van Zuma se lyfwagte. ‘n Jaar later word Peense skuldig bevind op aanranding van die glorieryke president. Tjoef Tjaf, afgehandel binne ‘n jaar.

VS

In 2008 word ‘n sewejarige meisie van Nelspruit deur ‘n inbreker teen die muur gegooi, aangerand en verkrag. Na dit probeer hy haar vermoor deur haar keel met ‘n skêr van oor tot oor oop te sny. Genadiglik het sy oorleef, en hy is gevang. Aangesien sy, nou tien, hoofgetuie is mag sy geen intensiewe sielkundige hulp ontvang terwyl die hofsaak aan is nie, uit vrees dat behandeling haar weergawe van die feite rakende daardie aand kan verander. Haar ouer sussie wat haar gevind get na die aanval ontvang ook geen behandeling omrede dieselfde redes. Dit is 3 jaar later, en daardie kinders gaan deur hel op ‘n daaglikse basis. Hulle gaan deur hel elke keer wat hulle hof toe moet gaan en die saak word elke keer weer uitgestel.

Waar is die reg? Waar is geregtigheid? Het geregtigheid geseëvier?

My opinie, nie in een van die sake nie. Die NPA sien kans om geld en tyd in howe te mors om Peense skuldig bevind te kry op die aanranding van Zuma (terwyl hy of sy drankie nie eers naby Zuma was nie) terwyl daar duidelik sake in ander howe van die land is wat dringende aandag nodig het. En dan moet jy na die gechatter van die aanklaer op radio luister oor hoe gelukkig sy met die uitkoms van die Peense saak is. Dit maak my siek tot in my diepste binneste…. ek moet net passop dat as ek kots Zuma nie in die omgewing is nie, want ek dink dat vanoggend se ontbyt hulle pad na sy blinkgepoetsde leerskoene sal vind.

 

FDI

27 Jul

FDI is nie die nuwe bababoetie van die FBI nie. FBI staan vir Foreign Direct Investment – dit is kortliks ’n indeks van die VN om te bepaal wat die netto bedrag was tussen jou land se oorseese beleggings (geld wat uitgevloei het), en dan die beleggings wat jou land binnegekom het. Dit verg nie ‘n doktoraat in ekonomie om te besef dat jy graag sal wil hê dat dit vêr in die positief  moet wees nie – dit is soort van ‘n barometer van die buitewêreld se vertroue om hulle geld in Suid-Afrika te belê. Nou ek weet nie of ons regering enigsins bekommerd is nie , maar dit het met 70% gedaal vir Suid-Afrika – die land wat bemark word as die “Gateway to Africa”. Suid-Afrika het van 4de tot 10de plek gesak in Afrika. Dit maak MY wel bekommerd.

Kom ons kyk of ek in 5 minute kan neergriffel hoekom so iets sal gebeur -

(meer…)

Anders as met Anders….

26 Jul

‘n Mens kan nie help om te wonder wat in ‘n jongman se kop aangaan as hy een sonnige dag besluit om ‘n bom te plant waarin 8 mense sterf, en dan verder gaan en nog  68 mense doodskiet nie. Die feit dat hy vir lang oomblikke in die pad van ‘n windmeul gestaan het, is een gedagte waarmee ek speel. Ek speel ook met die gedagte dat Anders Behring Breivik dalk die antichris is, maar ek dink daar is ander wat erg vir daardie eer baklei, soos byvoorbeeld die vals profete van Family Radio faam.

Dit bring my nou uit by Suid-Afrika.

Hoe sal so ‘n situasie hier hanteer word? Sal daar weer ‘n oor-en-weer rassistiese moddergegooiery plaasvind, of sal die nasie saamstaan teen hierdie man en sy gruweldade in skok oor die dood van soveel onskuldiges? Ek sou graag wou glo dat ons polisie vinniger op die toneel sou wees as die Noorweërs, ek meen, besit die Noorweegse weermag en Polisie nie helikopters nie? Ek glo sy isolering van die buitewêreld is ‘n uitstekende idee, maar kan nie sien dat dit in Suid-Afrika sou gebeur waar ons gevangenis mos meer menseregte as die man op straat het nie, wat dus uitstekende geleendheid bied om boodskappe uit te kry. Ek glo wel dat as hy uiteindelik gevonnis sou word, hy in Suid-Afrika 76 opeenvolgende lewensvonnise sou ontvang en nooit weer daglig sou sien nie… teenoor Noorweë waar daar ‘n maksimum tronkstraf van 21 jaar is, en dit slegs by uitsondering langer gemaak sal word.

Wat as, wat as……. dit is lekker om te wonder. Ek wonder wat sou gebeur het as die Skandinawiërs nie so blêrrie ordenklik en opgevoed was nie?

Springbok Ondersteuners….

22 Jul

Mens is nooit te jonk om die Springbokke te begin ondersteun nie.

Rugby ondersteuning is nie net vir seuntjies nie……..

Vrydae is Springbok Ondersteuners Dae.

Gemerk

21 Jul

Turksvy het dit goed gedink om my voor die spieël te kry, en deur my geheue van die afgelope 36 te probeer sif om te onthou watter stories agter die merke op my lyf lê….. en ek het gesukkel om die merke te probeer opspoor, so hier is my relaas voor ek dalk tot Kersfees op soek is na letsels.

Ek is net weereens herinner aan die feit dat ek ongelooflik geseënd is met goeie gesondheid. Hand aan hand daarmee saam natuurlik die feit dat al my wonde en snye so genees het, dat ek die helfte nie eers meer kan opspoor nie.

Onder my groottoon is daar nog ‘n glasstuk (ek dink dit was ‘n glasstuk?) letsel, en daar is ook een op my een enkel wat ek nie die oorsprong van kan onthou nie. Daar was ook ‘n meswond van toe ek met kos en ‘n skerp mes gestoei het op my een hand, maar ek kan dit nie nou vind nie. Op my oogbank, net onder my oog is daar ook ‘n happie vleis missing van een oggend, baie lank gelede se overexcited, aandagafgeleide skeersessie.

Eintlik is my enigste, baie duidelike letsel die sny na my galblaasoperasie (en die klein merkie net regs daarvan waar die drein in was). Ek was 16 toe die onwelkome galstene opgemerk is op sonar, en 17 toe hulle, tesame met my galblaas die snoesige binne van my lyf verrruil het vir die medical waste asblik. Dit was in die tyd toe hulle nog ‘n ordenklike sny gemaak het om by die galblaas uit te kom….(‘n paar maande later het hulle met ‘n piepklein snytjie en laser die operasie begin doen – ook net my flippen bad luck!) Maar ek sal daarmee saamleef, want ek was in die laaste amper 20 jaar nog nie weer ‘n enkele keer naar nie!

Ek kan aan geen ander dink nie (of eerder dalk onthou nie), miskien emosionele letsels, maar niks van belang nie.

Ek gaan niemand uitsonder nie, maar speel gerus saam en vertel ons van die stories wat agter jou merke lê.

UPDATE:

Nadat ek PJ se merkestorie gelees het, het ek van hierdie een onthou….

Uhhmmm, laat ons net sê dit was nie te lank terug nie, in die laaste 2 of 3 jaar, en JA, daar was alkohol betrokke. Ek het nog ‘n merk waarvan ek vergeet het. Tydens ‘n kuiersessie (‘n goeie een) daar in die land waar die vliegtuie so gereeld oorvlieg, besluit ek toe dat ek in my bietjie onstandvastige toestand die beeld van die kaal vrou (fontein) in die middel van die visdam ‘n drukkie wil gaan gee (sien, selfs in my “toestand” bly ek liefdevol). Ek het my balansvermoë op daardie oomblik ‘n bietjie oorskat en toe met die kant van die visdam kennis gemaak. Later daardie aand het daardie selfde spot voor op my been met die hoek van die bank kennis gemaak…. dankie tog ek het toe gaan slaap, en ek het die volgende oggend met my been “intact” opgestaan, minus ‘n paar nerwe en ‘n bietjie bloed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 44 other followers