Rasta het die volgende briefie geskryf en dit onder my kar se ruitveër gelos….
Liewe Baas van die Polisie
Ek skryf dit so, want daar is soveel vingers in die melktert deesdae dat ek nie weet wie se naam om daar neer te pen nie.
Ek wil een ding weet – as Suid-Afrikaanse burger, met net soveel konstitusionele regte soos jy en al die President se vrouens, verloofdes, amper-vrouens en hou-vrouens…..
Wat maak die lewe van ‘n polisieman belangriker as al die ander inwoners van hierdie land? Hoekom word daar soveel aandag geskenk aan die vang en vervolging van die moordenaar van ‘n polisielid? Hoekom word daar gedink aan landswette verander om hulle vervolging te vergemaklik?
Is die lewe van elke Suid-Afrikaner nie ewe belangrik nie? Gaan daar ‘n spesiale klousule by die konstitusie gevoeg word – Elke burger van Suid-Afrika het die reg tot beskerming, maar party het meer reg as ander?
Goed, ek erken dis meer as een vraag…..
Liefde
Rasta.
PS. En vertel sommer vir die Baas van Gesondheid dat hy moet ophou verkondig dat hy van staatshospitale gebruik maak. Dink hy regtig hy kry dieselfde behandeling daar as die Magogo wat gisteraand voor die hek moes slaap om vanoggend eerste in die ry te wees?

Onlangse ondersteuners: