Ek glo dit nie net nie, ek weet dit….
Dit was ‘n absolute eer vir elke persoon wat Oupa Otto in sy lewe van amper 90 jaar geken het.
Dit is nie maklik om afskeid te neem van ‘n persoon wat “Groter as Groot” was nie. Oupa Otto het deur die voorbeeld van sy eie lewe, die goeie vrugte van die Gees van geslag tot geslag oorgedra – liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
Die wonderlikste gedagte is dat ons nie hoef te soek na mooi woorde om Oupa te beskryf nie. Elkeen van daardie goeie eienskappe kry ‘n regmerkie langsaan, sonder om twee keer daaroor te dink. Ons kan net almal hoop, en daarna streef, om so ‘n ongelooflike mens te wees (of te word).
Vir ander mag dit te goed klink om waar te wees, maar dan het hulle definitief nie die absolute eer gehad om Oupa Otto te ken nie. Ek is nou amper 37 jaar oud, en kan net hoop om die helfte van Oupa se goeie eienskappe te bemeester teen die tyd wat ek ook dalk 90 word.
Liefde – Onbeskaamd, Onvoorwaardelik….
Ek dink ons almal se liefde vir sport kom ook van Oupa af….ai daardie Leeus, ten minste het hulle hierdie jaar gewen.
Selfbeheersing en Respek vir ander – Dit is die een ding wat ek nooit sal vergeet nie. Vir so oud soos wat ek is, het ek Oupa Otto nooit hoor sleg praat van enige persoon nie. Nooit nie.
So hartseer as wat dit vir ons mag wees, weet ons dit is beter vir Oupa. Geen mens verdien om met sulke pyn saam te leef nie. Ek weet ons sal Oupa nooit vergeet nie.

Onlangse ondersteuners: