Hoofstuk 1
Dis reeds skemer toe sy die deure agter haar toesluit. Terwyl sy handsak, skootrekenaar, sleutels en selfoon alles tesame probeer balanseer met net twee hande, dink sy daaraan dat sy heeltemal vergeet het om vir Tiaan te bel en haar finale antwoord te gee en sy het belowe om dit voor sewe te doen. Met ‘n skrams loer sien sy dis reeds vyf minute voor 7. Sy gaan staan vir ‘n oomblik doodstil en oorweeg haar opsies. Sy kan teruggaan boontoe na haar kantoor en die oproep rustig van daar af doen, want dit kan dalk ‘n lang gesprek raak of sy kan dit sommer in haar motor doen oppad huis toe. Laasgenoemde is natuurlik nie die beste keuse nie vir al die voor die hand liggende redes, maar wat de hel. Sy is haastig om by die huis te kom. Die oomblik toe sy haar motorsleutels van hande verwissel om die deur te kan oopsluit, sien sy die skrams beweging aan die onderpunt van die ondergrondse parkering. Die volgende oomblik gooi die krag van die ontploffing haar reg bo-oor haar motor en haar laaste gedagtes raak weg in ‘n donker gat.
Tiaan leuen terug in sy stoel en rus sy voete gekruis op die blink lessenaar. Hy neem ’n klein slukkie van die Cardhu. Die liggoue kleur glinster deur die kristal van die glas. Die enigste manier om sy gunsteling whiskey te geniet. Die perfekte, wel amper perfekte einde aan ’n baie besige week. ’n Derde suksesvolle eiendomstransaksie met ’n ontwikkelaar in Dubai hierdie maand gaan sekerlik verseker dat hy met ’n vet bonus hierdie maand wegstap. Uit die hoek van sy oog sien hy weer die kaartjies wat sy assistent, Belinda, vroeër langs sy telefoon neergesit het. Die week was amper perfek, dit is alreeds 15 minute oor sewe en hy wag nog vir Sandra se beloofde oproep. ”Ai tog, die meisiemens weet ek hou van stiptelikheid” sê hy hardop vir sy beeld in die televisieskerm. Bel gaan hy ook nie nou nie, want “hard to get” is ‘n beter motto as Skoothondjie Sarel. Hy trek die afstandbeheer nader en flitsende polisie- en ambulansligte met huilende sirenes verskyn op die skerm. Tiaan moes twee, toe drie keer kyk om seker te maak, want hy kyk na die kantoorblok, of eerder wat oor is van die gebou waarin Sandra werk. ’n Koue vrees klem om sy hart terwyl hy die Cardhu met een teug wegsluk.
Dit is ‘n kakofonie van geluide in haar kop en rondom haar. Sandra is vir ‘n paar oomblikke nie seker of sy dood is en dalk in die hel is nie. Eie aan haar ietwat aweregse sin vir humor, dink sy heel eerste sy hoop regtig die hel is nie so raserig nie. Dan spoel die onthou oor haar en skielik is haar brein helder wakker en sy besef dat dit die polisie en nooddienste is wat so raas. Terwyl sy haar ledemate een vir een beweeg om seker te maak alles is nog waar dit moet wees en in werkende toestand, besef sy dat sy die geheuestiffie in die hande moet kry, voordat enigiemand haar hier kry en hospitaal toe sleep. Sy kreun saggies toe sy probeer regop kom, maar byt op haar tande. Haar kop skree en sy weet sy moes hel hard geval het. Dis toe sy probeer regop kom, dat sy sien waar die skootrekenaar lê, omtrent 5 meter van haar af. Sy dink nie nog daaraan om verder te probeer opstaan nie, maar kruip letterlik op hande en knieë soontoe. Sy het skaars haar hand in die sysak gesit en met groot verligting die geheuestiffie raakgevat, toe die eerste brandweerman oor die stukke puin geklouter kom en haar raaksien. Sy druk die stiffie vinnig in haar langbroek se sak – Tiaan maak haar vir seker dood as sy hulle plan verongeluk deur die ding te verloor, al is dit nou ook deur iets so erg soos ‘n ontploffing.
In die waas van gebeure om haar voel Sandra hoe die naald in haar arm gedruk word. Net voor sy haar bewussyn verloor druk sy haar selfoon in die dokter se hande, en prewel die woorde: ”Bel vir Tiaan….. in my broeksak”. Tiaan se foon lui toe hy alreeds al vleggende deur die verkeer oppad is. Die dokter deel hom mee dat hulle vir Sandra kliniek toe vat. Tiaan hou met moeite sy aandag op die pad. Tientalle gedagtes flits deur sy brein. Hulle kan tog nie weet nie? Is dit die Arabiere? Die Amerikaners? Blote toeval? Al wat hy weet is dat hy so gou moontlik by die kliniek moet uitkom. Daardie stiffie hoort veilig in sy hande, of hulle wêreld gaan inmekaartuimel. Met ‘n skreeu van remme en bande kom hy tot stilstand voor die kliniek se hoofingang. Hy hardloop amper in die deur vas toe dit nie gou genoeg wegskuif nie. In die verbysnel by die ontvangstoonbank kon hy uitvind Sandra is op die sesde vloer in die waakeenheid. Dit blyk of dinge begin regloop toe een van die hysbakke oopgaan net toe hy by die trappe se deur wil indraf. Hy loop trompop in ‘n man met ‘n swart hoed en jas vas wat die hysbak verlaat. Hy ignoreer die man se ongeskikte aanmerkings en druk 6. Met die oopgaan van die deure staan hy in ‘n oogwink voor die verpleegster agter die toonbank. “Sandra se persoonlike besittings, waar is dit? Ek is Tiaan.” is al wat hy kan uitkry tussen sy hyg na asem deur. “Tiaan?” sê die verpleegster. Verbasing oor haar gesig ge-ets. “Tiaan was nou net hier” hoor hy haar vaagweg prewel terwyl ‘n koue sweet op sy voorkop uitslaan.
Voor hy homself kan keer, slaan hy so hard met sy vuis op die dienstoonbank dat die verpleegster verskrik agtertoe tree. “Verdomp man, EK is Tiaan! Jy kan mos nie sommer net goed aan iemand oorhandig op sterkte van sy woord nie. Het jy nie vir identifikasie gevra nie? Wat het jy alles vir die man gegee?” Die verpleegster sluk-sluk verbouereerd, want die man voor haar lyk kapabel en rand haar aan. ”Dit was ’n rekenaar, ’n handsak en twee stelle sleutels, ek dink huis- en motorsleutels, Meneer.” Voor Tiaan verder sy woede op die verpleegster kan uithaal, kom ’n suster deur die swaaideure met ’n plastieksakkie klere in haar hand. Sy hou dit na die een agter die toonbank uit en sê; “Hier is die klere van die meisie wat in die ontploffing was. Dis plek-plek erg geskeur en sal seker moet weggegooi word, maar bêre dit maar by haar ander persoonlike goed.” Voor Tiaan of die verpleegster iets kan sê, draai die suster om en verdwyn weer deur die swaaideure. Tiaan kyk vies na die sakkie klere. Wat de hel moet hy nou daarmee doen? Die dokter het hom gesê Sandra het iets van ‘n sak gemompel, so daardie stiffie is in haar rekenaarsak of haar handsak en diè is nou weg saam met die “ander” Tiaan. Wat ‘n helse gemors!
Sonder om na Sandra se gesondheid te verneem gryp Tiaan die sak met klere en beweeg soos ’n slaaploper terug na sy kar toe. Hy gooi die sak in sy kattebak en skuif agter die stuurwiel in. Neem 10 diep asemteue. Verbrands hy moes daardie stiffie in die kluis gehou het. Maar die water is onderdeur die brug en dit help nie om nou te wonder oor wat gedoen moes word nie. Daardie stiffie bevat besonderhede van elke kontak, en elke transaksie van hoe die geld rondgeskuif is om uiteindelik by die Dubai ontwikkelings uit te kom. As sy vriende uit Afrika dit moet uitvind kan hy net sowel solank sy grafsteen more gaan uitkies. Hy voel ’n bietjie skuldig oor Sandra en onderneem om daardie dokter van vroeër moreoggend te bel. Miskien moet hy gou by Belinda ’n draai gaan maak en vertroosting gaan soek? Hy skakel sy motor aan en met die uitry uit die pakeerarea merk hy nie die handsak en sleutels op wat eenkant op die sypaadjie lê nie. Hy merk ook nie die swart kar op wat agter hom in die pad indraai nie. Hy kies ”Belinda” op die Garmin en volg die instruksies met robotaksies. Die besoekie gaan niks regstel nie, maar miskien sal hy ’n bietjie opgebeur word. Met die druk van haar hekklokkie gewaar hy skielik ’n man uit die hoek van sy oog. Hy lyk vaagweg bekend en met ’n skielike klemming om sy hart besef hy dit is die swartgeklede man van die hospitaal, en dat hy nou al klaar in die blink loop van sy pistool afkyk.
”Kom, kom, beweeg. Jy gaan vir so ‘n rukkie ons gas wees. En moenie eers dink aan streke nie, ek is nie alleen nie”; sis die man in Tiaan se gesig. Tiaan weet van beter as om met ‘n pistool te probeer redeneer en die volgende oomblik druk die man hom agterin ’n swart Cadillac, met swart getinte vensters. Vir Tiaan lyk dit skrikwekkend baie soos ‘n lykswa. Die bestuurder is ‘n kleinerige vent, met ’n donkerbril op, maar Tiaan het al geleer om nie klein ouens te onderskat nie en buitendien sit hy agterin vasgedruk tussen die ou met die pistool en ’n ander breedgeskouerde, Indiese man. Dis dan ook hy wat eerste praat, nadat hulle ‘n ent gery het. ”Ons soek die bloudrukke. Dis nêrens tussen haar goed nie, nie in haar handsak nie en ook nie op die rekenaar nie. My deskundige het reeds die rekenaar deurgewerk. As sy dit nie in haar besit het nie, dan is dit by jou. Ons is nie moordenaars nie. Gee dit vir ons en ons los jou. Gee dit nie vir ons nie en ek belowe jou ’n hel hier op aarde. Ek speel nie, so jy beter praat.” Tiaan se brein werk teen die spoed van wit lig. Hy besef dis nie die stiffie wat hierdie ouens soek nie, maar hy het ook nie die vaagste benul waarvan hulle praat nie. Sandra was duidelik besig met haar eie agenda, waarvan hy niks weet nie en nou is hy vasgevang in die spreekwoordelike kruisvuur. Terwyl hy probeer dink hoe hy diè ouens gaan oorreed dat hy niks weet nie, wonder Tiaan ook terselfdertyd waarmee de hel Sandra besig is en, tipies opportunisties soos wat hy is, of hy dalk die situasie tot sy voordeel kan draai.
Tiaan kan nog steeds nie besluit of hy verlig of bang moet wees nie. Wat wel meer sin maak is al daardie laat aande wat Sandra ”gewerk” het en sy nie op kantoor was nie. ”Waarmee was hierdie vroumens besig?” wonder hy hardop. ” Kom nou my vriend, wil jy my laat glo die boyfriend weet nie waarmee die girlfriend besig was nie? Julle is kop in een mus! Ons soek daardie bloudrukke” eggo dit in sy ore. “Ek weet nie van bloudrukke nie” stotter hy terwyl hy beangs toekyk hoe die man langs kom sy kneukels kraak. Dit was skaars 10 minute later toe Tiaan onderstebo aan sy voete vanaf die 15de verdieping van ‘n halfvoltooide konstruksie hang. ”Kom nou Meneer Brink, ek wil net so min soos jy jou verwronge lyk daaronder op die sypaadjie hê.” Of die skietgebedjies gehelp het weet Tiaan nie, maar skielik onthou hy daardie gekodeerde e-pos wat hy 2 dae terug vanaf Sandra ontvang het, en hoe hy haar nog daaroor wou uitvra. Hy besef hy moet vir tyd speel. “Ek weet niks nie, maar ek kan julle probeer help!” kry hy skaars hoorbaar die woorde uit. Binne ‘n oogwink staan hy weer op sy voete. Tiaan besef dat hy nou mooi gaan moet speel, om aan die lewe te bly en om ‘n geldjie uit die verknorsing te maak. Met nog ‘n skietgebed hoop hy dat daardie e-pos iets met die bloudrukke te doen het. ”Maar bloudrukke vir wat?” wonder hy, “sekerlik nie vir ‘n kleuterskool nie!”
Sandra kan nie verstaan hoekom Tiaan haar nog nie kom besoek het nie. Die dokter het haar verseker daar is geen inwendige bloeding, soos hulle aanvanklik vermoed het nie en dat sy net erg harsingskudding het en haar pols gebreek het. Sy sal reeds more al kan skuif na ‘n gewone saal toe. Blykbaar het die verpleegster wat haar persoonlike goed aan Tiaan gegee het, reeds van diens af gegaan. Sy kan dus nie eers uitvind of hy enige iets gesê het of hoe hy opgetree het nie. Hoe meer sy aan sy totale afwesigheid dink, hoe meer de hel in word sy. Het hy besluit sy is oorbodig noudat hy die stiffie uiteindelik in sy hande het? Hy het juis so gekerm daaroor. Gelukkig het sy nog nie vir hom die kode gegee vir daardie e-pos nie. Wel, sy sal net moet sorg dat sy so gou moontlik haarself bymekaar pluk en uit hierdie verdomde hospitaal kom. Wat hy nie weet nie, is dat sy baie groter planne het as sy ou paar transaksietjies met die Arabiere. Vir al wat sy omgee, kan hy vir hom ook ‘n harem aanskaf. Hy moet net nie vir een oomblik dink sy is nie bewus van sy aanhangsels soos Belinda en Susan en wie weet wie nog nie. Gelukkig is haar paspoort na rykdom veilig in die kluis op haar eks se plaas. ‘n Eks waarvan niemand hier in die stad bewus is nie en ‘n eks wat dink hy het haar juwele en haar ma se boedelpapiere vir haar in die kluis gebêre. Ai, mans kan tog so onnosel wees as hulle in ‘n mooi vrou vaskyk. As haar kop nie so verdomp seer was nie, sou sy kon lag daaroor.
Wat Sandra nie weet nie is dat Tiaan in ‘n swart motor, buite sy huis, tussen 2 baie groot mans sit en plegtig belowe om nie te vlug nie. Net vir veiligheid gaan een van die gorillas vanaand tyd op Tiaan se rusbank voor die televisie deurbring. ”Nie dat ons jou nie vertrou nie Meneer Brink, maar ons moet ons belange beskerm.” Dit gee Tiaan darem ’n paar ure tot sonsopkoms om sy planne te beraam. Nommer een op die doenlysie-om-aan-die-lewe-te-bly is natuurlik om so vinnig moontlik met Sandra te praat. Die uitkoms van die gesprek sal die daaropvolgende gebeure beïnvloed, en die feit of hy môreaand veilig in sy bed slaap, of op ’n koue staalbed in die lykshuis nadat hy die hiermaals vir die ewige verruil het. Hy moes ingesluimer het in die oggendure, want dit was net na 9 toe hy wakker word met die aroma van koffie wat in die lug hang. Hy glimlag met die gedagte dat sy eerste koffie in die bed in die laaste 10 jaar vir hom gemaak is deur die man wat heel moontlik sy lewe vandag mag beïndig. Ironie se Moses! Skuins na 10 en na baie mooi praat en die breedvoerige verduideliking van sy plan, staan Tiaan op die sesde vloer van die kliniek. Hy merk Sandra se naam op die diensbord, kamer 610. Die groot mans, een aan elkeen van Tiaan se sye, laat die groepie baie belangrik lyk toe hulle die kamer binnegaan. Binne die volgende paar oomblikke sien Tiaan al hoe sy lewe voor sy oë begin verbyflits. Hy wonder of hy moet probeer weghardloop en die kans waag om dalk geskiet te word. Hy besef onmiddelik hoe dit moet voel om tussen die boom en die bas vasgekeer te wees. Sandra se bed is leeg!
Hoofstuk 2
As Sandra tien minute vroeër by Tiaan se huis opgedaag het, het sy haar netjies in die twee gorillas en Tiaan vasgeloop, maar die taxi-bestuurder is een van daardie wat nog ordentlik ry en nie onnodige kanse vat nie. Sy het steeds ‘n bittere kopseer en wonder of sy regtig so wys was om haarself te ontslaan uit die hospitaal. Na ‘n hele nag se getob oor Tiaan en of sy hom tog maar as “partner in crime” wil hê, moet sy nou verdomp voor dooiemansdeur te staan kom. “Waar de hel het jy gisteraand geslaap;” praat sy hardop met haarself, terwyl sy uit moedeloosheid sommer weer met haar hand teen die deur slaan. Die pyn skiet deur haar kop en sy voel skielik erg duiselig. Dis op daardie oomblik dat die deur langsaan oopgaan. “As jy vir Tiaan soek, hy is hier weg met twee ouens wat soos uitsmyters lyk. Snaakse vriende wat hy deesdae aanhou.” snip die ou van langsaan. Hy het nog nooit ‘n geheim gemaak daarvan dat hy ‘n oog op Tiaan het nie en Sandra wonder nou of hy altyd Tiaan se doen en late dophou. Sy gee hom net ‘n vies kyk en draai om en dis eers toe dat die snip se woorde regtig tot haar deurbring. Tiaan en twee ouens wat soos uitsmyters lyk! Sy hoef nie ‘n genie te wees om twee en twee bymekaar te tel nie. Daardie ouens is eintlik op soek na haar en sy weet presies hoekom en waarvoor. Sy is darem nie so harteloos om Tiaan aan hulle genade oor te laat nie en sy besluit sy sal hom bel en kyk of sy hom kan help en ook speel vir tyd. “As hy teen die tyd natuurlik nog lewendig genoeg is om sy selfoon te antwoord,” dink sy skuldig.
Sandra gly baie versigtig met haar rug teen die voordeur af totdat sy plat op die trappie sit. Enige vinniger beweging laat die binnekant van haar kop soos ‘n vulkaniese uitbarsting voel. Sy haal die selfoon uit haar sak uit. “Gelukkig het die verpleegster vergeet om my selfoon aan Tiaan te gee” dink sy hardop. Hierdie klere wat sy uit die vrou in die bed langs haar se kas gesteel het pas ook nou nie so lekker nie, maar wie de hel gee om, hierdie is noodsake, nie ‘n modeparade nie. Sy druk nommer 1 op speeddial. “Nommer 1 nogal” glimlag sy vir haarself. Tiaan staan net en sien weer voor sy geestesoog hoe hy weer onderstebo van ‘n gebou afhang. Sy maag maak draaie en hy is ewig dankbaar dat hy nie vanoggend ontbyt gehad het nie. Die dame in die ander bed het hom oomblikke tevore meegedeel dat Sandra haarself ontslaan het, en haar klere gesteel het! As hy nie in die panarie was nie sou dit eintlik snaaks gewees het terwyl hy Sandra in ‘n blou “rent-a-tent” voorstel. Sy selfoon lui en hy sien Sandra se naam flikker op die skerm. Die man langs hom loer oor sy skouer en sien die woord “Bokkie” op die skerm flikker. Tiaan dink vinnig en met die antwoord sê hy vir die man: “My suster.” “Jou Suster!” sis Sandra aan die anderkant. “Hallo Sus, waar is jy nou?” “Voor jou blêrrie voordeur Boetie!” “Pa het juis die naweek na jou uitgevra, en gewonder waarmee jy besig is.” “Ek neem aan jy is in ‘n ongemaklike situasie?” “Jy kan dit weer sê” “Ek neem aan jy sal nou ‘n cut wil hê, nadat ons probeer om van die ouens ontslae te raak?” sê-vra Sandra. “Ons moet binnekort ontmoet vir ete Sus, ek sal jou bel, dink solank aan ‘n stil en private plek.” “My kop is te seer om te dink, ek sal my beste doen.” Tiaan druk die foon dood en draai na die mans, “Jammer, familie besigheid, my suster verdwyn soms vir weke aan een.” Hy gaan sit op die bed en verduidelik aan die mans dat hulle na plan B sal moet oorskakel, dit is om vir Sandra in die hande te kry en te oorreed om hom iewers te ontmoet. Hy druk Sandra se nommer in en hoop dat die man nie kan sien “Bokkie” verskyn op die skerm nie. Na haar antwoord sê hy aan haar: “Wat de hel is jy besig mee Sandra. Ons moet dadelik ontmoet om hierdie dinge te bespreek!” ” Wat van daai plekkie daar by die kaai?” vra Sandra. “Ek sê jou wat, kom ons ontmoet by VisVars, daai plekkie by die kaai” sê hy hardop dat die gorillas dit ook kan hoor. “Ek glo nie sy vermoed iets nie, sy sal ons by VisVars ontmoet oor twee ure” sê hy aan die gorillas na die oproep. “Eintlik hoop ek julle vreet die storie vir soetkoek op” dink hy by homself.
Sandra bly so plat op die grond sit, selfoon in die hand, en staar lank na die een nommer op haar foon wat sy nog al die jare behou het en net oorgedra het van een foon na die volgende. Sy het haarself belowe sy sal hierdie nommer nooit ooit weer skakel nie, maar nooit is ‘n baie lang tyd en sy weet hy is al wat haar kan help. Sy sien letterlik hoe haar hande bewe terwyl sy die groen knoppie druk. “Andre Kruger, goeiemore.” Sandra se kop gaan staan botstil en die hoor van daardie stem laat haar kop ver paaie hardloop. “Hello, hello!” klink die stem nou ongeduldig hier in haar oor en Sandra sluk-sluk twee keer voor sy dit uitkry; “Hello, dis Sandra hier.” Die stilte aan die anderkant is oorverdowend. “Sandra du Toit, Andre. Is jy nog daar?” sê sy en hoop nie hy het die telefoon in haar oor doodgedruk nie. “Ek is hier ja, ek was net nie seker ek het reg gehoor nie. Durf ek vra waaraan ek hierdie eer te danke het? Na al die jare?”
“Ek is in die moeilikheid en ongeag destyds is jy die enigste mens wat ek nog ooit ten volle kon vertrou. Ek het dringend jou hulp nodig. Ek weet dit klink seker soos emosionele afpersing, maar as jy my nie kan help nie, weet ek nie of ek more oggend die son gaan sien opkom nie.”
Daar is weer ‘n hele paar sekondes stilte voor Andre uiteindelik swaar sug en antwoord; “Ek het geweet eendag gaan jy jouself nog vasdraai met al jou streke. En dit alles vir geld. Jy leer net nie, né? En jy weet so goed soos ek dat ek dit nie oor my hart sal kry om jou vir die wolwe te gooi nie. So, hoe moet ek help?”
Sandra blaas haar asem saggies uit van verligting en vinnig skets sy vir Andre die agtergrond en die gebeure tot nou toe. “Shit, Sandra, hierdie keer het jy te ver gegaan. Daai tipe ouens speel nie en ek sal ‘n hele paar toutjies moet trek om jou net halfpad veilig te kry. As jy hulle oor twee ure by VisVars moes kry, het ek niks meer as ‘n uur om alles in plek te kry voor die ouens daar opdaag nie. Jy verroer nie ‘n voet van waar jy nou is nie, ek sal jou daar kom kry sodra ek dinge diekant gereël het. En dan doen jy presies soos wat ek vir jou sê of ek los jou dat jy jou eie kastaiings uit die vuur grawe. En glo my, dié keer bedoel ek dit. Verstaan ons mekaar?” Sandra wil nog sê dat sy darem net ander klere in die hande moet kry, toe Andre bylas, net voor hy die foon dooddruk; “En ek sal vir jou ander klere saambring.” Dis daardie laaste woorde wat Sandra die hardste slaan. Hoeveel keer het hy nie destyds geweet wat sy wil sê nog voordat sy dit sê nie. Hoe kon sy destyds so dwaas en hardegat wees? Maar dis nou te laat. Nou moet sy net konsentreer om uit hierdie gemors te kom. Dalk, daarna, wie weet.
Tiaan het die gorillas oorreed dat hulle sy kar gaan haal, en by sy huis stop vir ‘n stort en skoon klere. Met sy paspoort en die kaartjies in sy baadjie se binnesak loop hy die kombuis binne waar die ander sit en koffie drink. Dit het baie oorreding gekos, maar Tiaan sal in sy eie motor kaai toe ry: “Sodat Sandra nie onraad merk as sy hulle dalk sien nie”. Hy hoop Sandra kon iets gereël kry, en is baie dankbaar vir hierdie kaartjies na Dubai, en moontlike vryheid, in sy sak. Hulle kan oorsee verdwyn en ‘n nuwe lewe daar begin. Hy is seker daarvan hy sal dit oor sy hart kan kry om haar te vergewe, daar is heelwat meer onaardige opsies vir ‘n lewensmaat daarbuite. Hy loer kort-kort in sy tru-spieëltjie om maar net weer die swart kar op te merk. “Kan hulle nie maar net ‘n pap wiel kry of ongeluk maak nie?’ sê hy hardop vir homself. Asof die situasie nie meer belaglik kan raak nie kondig die omroeper op die radio die volgende liedere aan; Led Zeppelin se Stairway to Heaven gevolg deur Bon Jovi se Blaze of Glory. “Take me now but know the truth, I’m going out in a blaze of glory” klink dit oor die radio toe hy sy motor afsit in die parkeerarea voor VisVars. “Yeah right,” sê Tiaan hardop vir homself, “gewapen met twee vliegtuigkaartjies en ‘n paspoort.” Hy merk dat sy gewapende gevolg so ‘n blok terug langs die sypaadjie gestop het. Hulle klim uit en trek hulle baadjies reg, die vuurwapens bult onder die baadjies. Met ‘n skietgebedjie klim hy uit die kar uit en merk Sandra binne die restaurant by ‘n tafeltjie in die hoek op. Hy loop deur die deure en merk uit die hoek van sy oog hoe hulle by ‘n tafeltjie buite plaasneem. Hy gaan sit oorkant Sandra en besef met skok hoe ‘n persoon lyk wat ‘n ontploffing oorleef het. Sandra lyk dalk gehawend van buite, maar hy lees beheersde kalmte in haar oë. “Ek wens ek kon oorleun en jou teen my vasdruk” kry hy geskok uit, “maar ek glo nie ek moet enige skielike bewegings maak nie. My nuwe beste maatjies hou ons fyn dop.” Tiaan besef nou eers hoe doodhonger hy is, en met die rondkyk vir ‘n kelner besef hy hier is baie meer personeel as wat enigsins nodig is vir ‘n Dinsdagmiddag. Sy oë gaan rus vir ‘n oomblik op die man agter die kasregister, en meteens besef Tiaan dat ‘n koeëlvaste baadjie dalk ‘n uitstekende idee sou gewees het.
“Moenie so benoud lyk nie en hou in hemelsnaam op om die ander mense so te beloer. Die ouens daarbuite is nie dwaas nie en as jy begin agterdogtig lyk oor die mense in die restaurant, gaan hulle twee en twee bymekaar tel.” Tiaan ruk sy kop vinnig terug na haar; hy het nie besef hy is so deursigtig nie. “Sandra, ek mag miskien deursigtig wees, maar jy het ons altwee in helse moeilikheid en ek dink jy skuld my ‘n verduideliking. Ek het twee kaartjies na Dubai hier in my binnesak. As jy ‘n manier gereël het om van daardie twee gorillas ontslae te raak, is ek bereid om jou saam met my te neem en ons begin ‘n nuwe lewe iewers ver van hier. Met jou slimkop en my kontakte hoef ons onsself nooit dood te werk nie.” Sandra sit vir oomblikke doodstil en kyk na die man voor haar. Dan kyk sy op na die man by die tafel in die verste hoek. En skielik sien sy haarself die afgelope tien jaar en dis nie ‘n mooi prentjie nie. Vandat Kobus haar gelos het vir die stinkryk, ander vrou het sy gesweer sy sal sorg dat sy nooit weer die “arm” een is nie, al kos dit wat. Sy was slim genoeg om nog altyd net-net aan die regte kant van die gereg te bly met haar geldmakery en sy het al lankal meer as wat goed is vir haar, maar dit het ‘n siekte in haar bloed geword en toe die regte, opregte man oor haar pad kom en nie wil saamspeel nie, het sy haar hart hard gemaak en omgedraai en weggeloop. En nou sit sy oorkant hierdie man wat sy gedink het daardie gat in haar lewe kan toemaak. Wat ‘n bleddie grap! Sou sy vir die res van haar lewe vir haarself bly lieg het as dit nie vir die ontploffing was nie? In daardie oomblik besluit sy. “Tiaan, ek gaan nêrens heen saam met jou nie. Nooit nie. Daardie twee ouens daarbuite soek die bloudrukke van ‘n uitvindsel wat die vervoer industrie op sy kop kan keer. Ek het dit gesteel by ‘n man wat dit gesteel het by die regmatige eienaar. Die hoé en die waar en die wie is nie nou belangrik nie, genoeg om te weet dat ek meer afgebyt het as wat ek gedink het ek kan opeet. Ek wou die man afpers daarmee, maar ek wou ook uiteindelik die bloudrukke terugbesorg aan die regte eienaar. Vir my was dit net ‘n manier om nog ‘n keer ‘n vinnige fortuintjie te maak. Maar ek het besluit dit stop vandag hier. Ek gaan nie…”
“Is jy mal!,” val Tiaan haar driftig in die rede, sonder om te besef hy praat al harder “besef jy wat daardie bloudrukke vir ons twee kan beteken? Jy moet net hierdie twee gorillas van ons rug afkry en ons twee is weg en…”
“Fok Tiaan, daar IS NIE ‘n ons twee nie! Nie meer nie! En laat sak jou stemtoon.” sis Sandra tussen haar tande deur, terwyl sy uit die hoek van haar oog die beweging buite sien. Die twee mans het opgestaan, is oppad na binne en dis duidelik dat hulle besluit het die tyd vir praat is verby. Sy kyk vinnig na Andre by die verste tafel en is net betyds om te sien hoe hy in die ander se rigting knik. Die volgende oomblik bars die hel los.
Met die klap van die eerste skoot was Tiaan onder die tafel nog voor VisVars se venster aan skerwe op die sypaadjie gelê het, en met ‘n sug van verligting besef Tiaan Sandra het dit ook tot op die vloer gemaak. Die oorverdowende geknal van outomatiese masjiengeweervuur, onderbreek met die enkelskote van rewolwer en pistool wil sy oordromme laat bars. Skerwe glas en houtsplinters dans deur die lug op die maat van geweerskote. Binne twee minute is dit doodstil. Twee minute is hoe lank dit gevat het om VisVars soos ‘n bouval te laat lyk. Twee minute is hoe lank dit gevat het om twee gorillas in plasse van hulle eie bloed op die vloer neer te vel. Tiaan loer versigtig bo die tafelblad uit. Daar is vier staande VisVars geklede kelners met wapens. Daar is twee dooie VisVars geklede kelners. Een dubbel gevou oor ‘n stoel en een op die teëls met ‘n koeëlwond tussen sy oë, so twee meter van hom af. Hy merk ook vir Sandra in die oorkantste hoek snikkend oor die bloedbesmeerde lyk van ‘n man. Die vier mans is al by die deur uit toe Tiaan die eerste nuuskieriges buitekant nader sien staan. Hy gryp vir Sandra aan die arm en sleep-trek haar deur die kombuis na die agterdeur toe. Sandra huil nog onbeheersd en Tiaan kan nie tranedal vir ‘n vreemde man verstaan nie. Buite in die vars lug neem hy drie diep asemteue terwyl hy sukkel om Sandra regop te hou. Die omstanders se aandag is by die binnekant van die winkel, en hulle merk nie op hoe Tiaan vir Sandra sukkel-sukkel in die kar inkry nie. Toe die eerste metro-karre en ambulanse met loeiende sirenes en flitsende ligte om die draai kom, ry Tiaan by hulle verby in die teenoorgestelde rigting. Die enigste gedagte wat Tiaan nou koester is om so ver moontlik van die kaai af weg te kom. Sandra sukkel nog om die snikke en tranevloei hier langs hom onder beheer te bring, en dit is duidelik dat sy op hierdie oomblik van geen hulp gaan wees nie. Tiaan klim op die hoofweg en druk die kar se neus in die rigting van die Weskus. Waarheen hy oppad is weet hy nie, hy wil net so ver moontlik wegkom, op hierdie oomblik in elke geval.
“Majoor, Majoor, is jy okay!?” Andre swets onderlangs en probeer regop kom. “Toemaar, Vonnie, dis net ‘n vleiswond en ‘n skrams een teen die kop. Moenie dat die baie bloed jou flous nie. Ek’s nog lank nie reg vir die poorte nie. Hoekom de fok het julle soos bossies troepe sommer net begin skiet? Dit was nie deel van ons beplanning nie! En ek hoop vir jou part julle het iemand op daardie donnerse laventelhaan en die girl se spoor gesit.”"Daai ouens het eerste geskiet, ek dink hulle het ons geruik. Shit, Majoor, soos daai girl gehuil het oor jou sou ek kon sweer Majoor is dood. Ja, sorry,” keer Von Wielligh vinnig toe hy die kyk in Andre se oë sien; “ek het vir Leonard agter die knaap en Majoor se meisie aangestuur. Hy het klaar laat weet hulle is oppad Weskus se kant toe. Waar het Majoor die mooi girl al die tyd weggesteek?” Von Wielligh weet hy krap gat, maar hy kan sien Andre is in pyn en dalk sal dit hom help om nie daaraan te dink nie.
“Fok jou, Von Wielligh. En sy is nie my meisie nie. Kry my by iemand wat hierdie gat in my arm kan lap. Dan moet ek en jy die pad vat – daai ou het geld geruik en ek is nie so seker Sandra is veilig by hom nie. Intussen moet jy vir Beukes laat kom dat sy hier kan kom opruim en die nodige doen, sommer die pers ook kom hanteer. Sy is goed met ’smokescreens’.”"Klaar gedoen. Sy’s oppad. Sy het ook laat weet Gideon-hulle het die twee gorillas se baas opgetel en glo heelwat ander eienaardige goed in sy besit gevind. Dis nou behalwe die voorraad kokaiene.”
Andre swets lelik. “Fok Sandra, as ek jou lewendig hieruit kry, trek ook jou wragtig oor my skoot en gee jou die loesing wat jy as kind al moes gekry het en daarna is jy op jou eie.” praat hy hardop met homself.
“A nee a, Majoor, mens gooi mos darem nie so ‘n mooi pop sommer so vir die wolwe nie. Sy het ons darem ‘n groot slag laat slaan met haar inligting.”"Vonnie, daai girl het dit gedoen om haar eie gat te red. Glo my, sy is moeilikheid met ‘n hoofletter M. Sy het ons beslis nie gehelp uit die goedheid van haar hart nie. Daai girl sal haar ma verkoop vir geld. Sy is ‘bad news’.”
“Maar darem nie ‘bad news’ genoeg dat jy haar sommer net aan haar eie genade kon oorlaat nie, né Majoor? Soms loop mens se hart mos maar nie die pad van jou kop nie.” Die keer het Andre nie ‘n skewe antwoord vir sy jarelange kollega nie. Hulle ken mekaar te goed, te lank al. En hoe kan hy stry as net die gedagte dat Sandra dalk iets kan oorkom, sy hele wêreld skeeftrek? Sal sy ooit weet hoe dit vir hom was om na al die jare weer haar stem te hoor, haar weer te sien? “Kom Vonnie, ons moet daai girl gaan kry. Wie weet, as sy oor my kon huil, dan is daar dalk nog hoop.”
Tiaan staan langs sy kar en rook ‘n sigaret terwyl hy uittuur oor die brekende branders. Sandra sit nog opgekrul in die passasiersitplek en snik. “Waar de hel stoor ‘n vroumens al daardie trane” wonder hy. Rook is iets wat hy vir die afgelope vyf jaar nie gedoen het nie, en om nou ‘n sigaret te rook is sekerlik beter as om ‘n bottel leeg te suip. Hy moet iets doen om sy senuwees te kalmeer, sodat hy reguit kan dink. Sandra het hom duidelik laat verstaan dat sy nie saamgaan Dubai toe nie. Hy kan altyd lughawe toe ry en haar daar met die kar los. Alle bande verbreek en ‘n nuwe lewe by homself gaan begin? Snaaks genoeg voel hy nie regtig hartseer oor haar besluit nie. “Ek het seker maar net gedink dit is die regte ding om te doen.” “En wie de hel was daardie mans wat soos besetenes links en regs geskiet het?” Antwoorde op sy vrae sou maklik van Sandra af gekom het, maar sy is in geen toestand om nou antwoorde te verskaf nie en bygesê weier sy om ‘n woord met hom te wissel. “Stupid vroumens, asof ek die een is wat ons in hierdie kak gedompel het” praat hy hardop met homself. Tiaan is so besig met sy eie gedagtes dat hy nie die man opmerk wat van agter hom af aangestap kom nie. Dit is eers toe die koue staal in sy sy druk dat hy besef Leonard staan langs hom. “Ag fokkit, nie alweer nie!” swets hy hardop. “Meneer Brink, of Tiaan as ek mag, moenie nou slim probeer wees nie. Gedra jouself mooi totdat Andre opdaag, en ons mag dalk net almal lewendig hieruit kom” hoor Tiaan toe hy omdraai en in een van die “kelners” vaskyk. “Andre” was blykbaar die towerwoord, want voordat Tiaan of Leonard nog iets kon sê staan Sandra langs hulle. “Andre? Lewe hy? Sê tog net ja!”
Hoofstuk 3
Leonard kyk Sandra met opgetrekte wenkbroue aan, “Natuurlik lewe die Majoor, hy is veels te hardegat om sommer net dood te gaan van ‘n koeelwond of twee…”
“Majoor?! Wie de donder is hierdie mense, Sandra?” val Tiaan hom bars in die rede. Hy het besluit as Sandra nie te bang lyk vir die ou nie, dan is dit nou seker die ‘goeie’ ouens. “Wie is hierdie danige Majoor oor wie jy jou oe nou al die afgelope paar ure uithuil? En kan jy nou asseblief daai donnerse ding wegvat, ek gaan nerens heen nie.” beveel hy Leonard.
Leonard kyk vir Sandra asof hy by haar bevestiging soek dat Tiaan onskadelik is en dis in daardie breukdeel van ‘n sekonde wat hy sy waaksaamheid verslap, dat Tiaan toeslaan. As Sandra kans gekry het om te antwoord, sou sy Leonard dalk kon inlig dat Tiaan glad nie so onskadelik is as wat hy lyk nie, maar Leonard le reeds op die grond en Tiaan staan met die wapen in sy hand.
“Kom girl, nou gaan jy my help om hierdie ou vas te maak en in die kattebak te gooi en dan gaan ons drietjies bietjie ry en daai bloudrukke gaan haal. Ek was nou lank genoeg “Mister Nice Guy”, Sandratjie. Jy skuld my.”
Sandra besef dat sy nou ‘n kant van Tiaan sien waarvan sy nog net gehoor het, maar haar inherente hardkoppigheid praat namens haar; “Fok jou, jy is mal as jy dink jy gaan hiermee wegkom. Andre sal jou jag en jou vrekmaak.”
“Ha ha, my pop, nie met jou as my versekering nie. En sy stupid kollega hier. Te oordeel aan die baie trane wat jy oor hom gehuil het en die army wat hy tot jou beskikking gestel het, moet jy nogal iets vir hom werd wees. Wees nou mooi soet en vat my na daardie berugte bloudrukke toe en soos ons vriend hier gese het, mag ons dalk net verder almal vandag lewendig hier uitkom.”
Dis net stofwolke soos die BMW wegtrek. Sandra en Tiaan in die kar en Leonard in die kattebak. Tiaan besef hy moet so gou moontlik daar wegkom, voor “die Majoor” en sy trawante opdaag. Om een man te oorrompel is kinderspeletjies, maar om vier of vyf aan te vat is soek vir moeilikheid, sonder om daarvoor te vra. Tiaan kyk na Sandra en merk iets nuuts in haar oë op – die amusante kyk het plek gemaak vir vrees. Slegs die navigasiestelsel se instruksies verbreek die stilte in die kar. Dit het baie praat en ‘n paar taai klappe gekos om Sandra so ver te kry om hom te vertel waar die bloudrukke is. “No more Mister Nice Guy!” dink hy “Sy beter hoop sy lieg nie vir my nie.” Met elke kilometer agter die rug voel hy bietjie meer gerus, nie oor hul eindbestemming nie, maar wel oor die afstand tussen die nou en die beginpunt. Maar hoe langer en stiller die pad raak, raak Tiaan eintlik net al moeriger. Sy uitsmyter en huursoldaat dae was ver weggebêre in die verlede. ‘n Tyd wat hy liewer sou wou vergeet het. En nou vat dit net een donnerse girl en hààr Majoor om die ou wonde weer oop te krap, maar “desperate times” benodig seker maar “desperate measures”. “Fok die lot, die triggerhappy spieraap is terug vir nou,” kry se gedagtes vleuels in woorde. Sandra begin weer te snik.
“Shit Leonard, waar is jy?” skree André teen die seewind waar hy teen die verlate kar leuen. Jy stuur ‘n gewapende bosaap om ‘n lammetjie besig te hou tot jy opdaag, en al wat jy vind is ‘n verlate kar met geen siel in sig nie. In die los sand so 20 meter weg is daar tekens van ‘n kortstondige struweling, en die bandmerke van ‘n kar wat teen hoë spoed weggetrek het. “Kom manne, laat ons wees, dit blyk my Mnr. Brink is toe nou nie so lamsakkig as wat ons gedink het nie.”
Sandra snik-snik nog met tussenposes, maar hoe nader hulle aan Kobus-hulle se plaas kom, hoe meer begin sy besef sy sal iets drasties moet doen, sodat daar nie nog mense seerkry deur haar onnoselheid nie. Al is daar nie veel liefde verlore tussen haar en Kobus en sy ryk vrou nie, het nie een van die twee haar nog ooit enige fisiese skade aangedoen nie. Kobus het ter goeder trou die dokumente vir haar in bewaring geneem. Met dié dat Tiaan nie een oomblik gehuiwer het om haar aan te rand om die inligting uit haar te kry nie, besef sy nou dat sy hom heeltemal onderskat het. Sy het destyds gerugte gehoor dat hy ‘n paar lelike geraamtes in sy kas het, maar toe het dit haar nie gepla nie, want hy was aan haar kant.
“Ek hoop nie jy is besig om enige slim plannetjies te sit en uitdink nie, Sandra.” laat Tiaan skielik hoor, asof hy haar gedagtes kon lees. “As jy die aap in die kattebak wil lewendig hou, gaan jy nou dadelik daai mooi gesiggie van jou regtrek en ophou tjank. En begin lyk soos ‘n gelukkige girl wat haar verloofde kom afshow by haar eks, terwyl sy haar dokumente kom haal. Jy weet, die dokumente wat ons tweetjies nodig het vir ons voorhuwelikse kontrak en so aan.” Tiaan gee ‘n wrede laggie en Sandra wonder hoekom sy nog nooit in al die tyd wat hulle saam is, agtergekom het hy het ‘n sadistiese streep in hom nie.
Het sy so verslaaf geraak aan die geldgod, dat sy heeltemal verleer het om die mens agter die geld raak te sien? Dalk sal dit haar verdiende loon wees as hy haar vandag hier doodskiet, maar sy weet sy gaan nie so maklik daarvan afkom nie. Kobus kan wees wat hy wil, maar hy kan skaars ‘n vlieg doodslaan. Hy sal geen match wees vir Tiaan nie. Sy kan ook nie hoop Andre spoor hulle betyds op nie, want al weet hy van Kobus en die plaas, het sy hom nooit presies vertel waar die plaas is nie. Toe Tiaan die BMW afdraai op die grondpad, besef Sandra sy is op haar eie en sy sal moet doen wat Tiaan verwag en sorg dat niemand verder seerkry nie.
Met gunsies in die verlede het Andrè deur die jare al ‘n hewige “Jy skuld my een” lysie opgebou. ‘n Oproep later is ‘n helikopter oppad. Andrè glimlag met die gedagte dat dit baie voordelig in sy lyn van werk is om toegang tot elke tegnologiese speelding denkbaar te hê. Hy skakel die opsporingstoestel aan en kyk met ‘n skewe glimlag na die flikkerende rooi liggie op die skerm. Nie een van sy manne is eers bewus van die mikroskyfies wat in hulle horlosies geplant is nie. Beplanning is een ding wat hy nie ligtelik opvat nie, en jou horlosie altyd aan jou arm is een van sy strengste reels. “Goeie en getroue slaaf Leonard” sê hy hardop met die eerste klank van die naderende helikopter in sy ore. Op die horison kan hy die naderende spikkel sien groei. Hy bulder ‘n paar bevele en kry 3 van sy beste ouens gereed vir die vlug. Die ander sal in die karre volg en dien as latere versterking. Nadat hy die groepie om hom die Leviete voorgelees het oor wild-en-wakker geskietery, is hulle 15 minute later in die lug. Andrè fluit ‘n deuntjie in sy kop, maar kan net nie op die naam van die lied kom nie. “Marais, jy’s is mos so ‘n wafferse musiekkenner, watter song is hierdie?” vra hy die man langs hom, voordat hy die deuntjie fluit. Skaars ‘n minuut later hoor jy die groep mans uit volle bors saamsing bo die geraas van die helikopterskroewe. “I’m going down, in a blaze of glory!” “Op die noot of nie maak nie saak nie,” dink Andrè, terwyl hy sien hoe die ouens meer ontspanne raak. Hy ken nog steeds elke truuk in die boek. Uit die hoek van sy oog sien hy hoe die rooi liggie nou op een plek flikker, en hy skat rofweg dat hulle ETA daar so oor 15 minute sal wees.
Intussen sit Sandra en Tiaan op die wye stoep van die plaashuis. Die stilte hang in die warm lug. Kobus het sy pyp aangesteek en sit en wonder oor hierdie man wat Sandra gaan trou. “Daai kyk in sy oë,” dink hy “dit is nie liefde nie, dit is iets anders en ek kan nie my vinger daarop plaas nie.” “Ek het vir ons koffie bestel, Karen sal nou met ons wees,” sê hy half ingedagte om die stilte te breek. “Ek het sommer die skinkbord by Miena gevat” hoor Tiaan ‘n stem van die deur se kant af kom, en toe hy in daardie rigting kyk is dit asof ‘n opstopper hom onder die ken tref. Hier reg voor hom, op ‘n plaas in die middel van nêrens staan Karen Viljoen met ‘n skinkbord in die hande, sy geheime vennoot in die Dubai transaksies. Skok van erkenning is ge-ets op albei se gesigte. Vraagtekens in die oë van Sandra en Kobus. Tyd vir verduideliking is daar nie, want Kobus se frons verdiep as hy opkyk in die rigting van die klank van ‘n naderende helikopter.
“Karen, verwag ons die nuwe groep wat kom jag dan nie eers more nie?” vra Kobus, terwyl hy opstaan en na die rand van die stoep toe loop en probeer kyk uit watter rigting die helikopter kom. Karen staan nog versteen met die skinkbord in haar hande, maar Tiaan het reeds opgespring en ook na die stoep se rand beweeg. “Dis nie die oord se helikopter nie…,” begin Kobus, terwyl hy omdraai, reg in die loop van Tiaan se wapen vas. “Jammer, my ou, maar dit lyk my jou eks is nog belangriker vir party mense as wat ek gereken het. Toe toe, roer julle – in die huis in! Toe nou, Karen-lief, as jy langer daai skinkbord vasklou, gaan dit aan jou hande vasgroei!”
“Wat de hel…,” begin Kobus, maar word stilgemaak deur ‘n dwarsklap van Tiaan af. “Hou jou bek! Van nou af praat ek en julle luister. In die huis in! Beweeg!”
Karen staan nog met die skinkbord. Sy, meer as enige een van hulle, weet hoe gevaarlik hierdie man is en sy weet dat sy net een kans sal he om hulle uit hierdie gemors te kry. Sy het ‘n idee dat die dokumente in die kluis meer beteken as wat Sandra voorgegee het, maar sy het nie nou tyd om daaroor te bespiegel nie. In een beweging laat sy die skinkbord val, gryp die pot kookwater, draai om en slinger dit na Tiaan toe. Die kookwater tref Tiaan egter net skrams oor sy gesig en nek en hy skree soos ‘n gewonde dier. “Jou fokkin feeks!” En met die ruk hy die pistool op en skiet Kobus summier in die maag. “Ek maak julle almal vrek hier vandag.” Hy gryp Karen aan die hare en sleep haar in die huis in, terwyl Sandra soos Lot se vrou na Kobus op die sementvloer staan en staar.
“Kom die huis in Sandra, die ongelooflike-oorlewing-van-die-eks-wonderwerk gebeur net een keer op ‘n dag. En jou Majoortjie was gelukkig om die strooitjie te trek! Kobus queue al by die hemelpoorte.”, hoor Sandra vaagweg as sy hardhandig die huis ingepluk word en soos ‘n stuk lap langs Karen op die rusbank neergegooi word. Karen is bleek asof sy spoke gesien het. Trane loop stil oor haar wange terwyl sy na Kobus se lyk net buite die voordeur staar. “Wat ‘n moerse gemors” hoor hulle Tiaan sê waar hy heen en weer oor die persiese tapyt loop, “‘n Gemors van moerawiese fokken proporsies!” En juis nou wanneer Tiaan ‘n snelvinnige prosesseerder breinspoed nodig het, voel sy brein soos ‘n baba wat krale op ‘n telraam rondskuif. Gedagtes wil net nie orden nie. Hy hoor nie meer die helikopter nie, wat beteken hulle het geland en is besig om hulle planne in werking te stel. Hulle natuurlik meer as een persoon en tot die tande toe gewapen. “Fok!” Hy loer na die twee vrouens en weet hy kan geen hulp van hulle verwag nie, selfs al het hy ‘n wapenarsenaal in hierdie huis gehad. Gelukkig vir hom blyk dit dat die Majoor ‘n sagte plekkie vir Sandra het, dus sal hulle sekerlik nie net links en regs op die huis losbrand nie? ‘n Klein vlammetjie hoop wat vir hom absoluut boggerol op hierdie oomblik beteken. Hulle sê Dood is jou konstante metgesel, hy wag nie vir ‘n uitnodiging na die teepartyjie toe nie. Met sy, wat voel soos die honderdste draai aan die onderpunt van die mat, merk Tiaan vir die eerste keer die jaggewere op die eetkamertafel. Kobus was seker besig om hulle gereed te kry vir die jaggroep. ‘n Plan formuleer stadig in sy kop. Hy moet net wegbly voor die deure en vensters en hoop sy skerpskutter vernuf het nie verroes nie. Sy lag weerklink deur die stil plaashuis. “Dood, jy moet nog so bietjie aanhang. Ons gaan eers bietjie party hou.”
Uit die hoek van sy oog sien Tiaan Karen stadig opstaan. Hy swaai die pistool vinnig om in haar rigting, maar sien sy het altwee haar hande voor haar uitgestrek, asof in ‘n vredesgebaar. “Dis onnodig, Tiaan, ek gaan niks stupids probeer nie.” sê sy stil, terwyl sy versigtig die trane wegvee. “Ek en jy ken mekaar van lankal af en jy weet my lewensmotto is om die dinge te verander wat ek kan, en te aanvaar wat ek nie kan verander nie. Kobus is dood en dis jammer, want op my manier was ek lief vir hom, maar ek lewe en jy lewe en duidelik is jy hier vir ‘n baie goeie rede. Ek het nog nooit veel tyd vir haar gehad nie,” spoeg Karen dit half minagtend uit in die verdwaasde Sandra se rigting, “so, ek is bereid om jou te help om uit hierdie gemors te kom. Teen ‘n prys natuurlik. En ek het ‘n plan hoe om die Majoor te uitoorlê.” Tiaan besef dat hy veel verder sal kom met haar hulp, al vertrou hy haar nie honderd persent nie, maar as hy eers die bloudrukke het en van hierdie gemors af weggekom het, sal sy alleen baie makliker wees om te hanteer as die Majoor en sy spul bos-ape daar buite. “Goed, Karen, ek luister. Maar moenie vir een oomblik dink dat ek jou vertrou nie. Help my om hier uit te kom, en ek en jy is steeds vennote, ook wat hierdie rondte betref. Een verkeerde beweging van jou, en jy sluit by Kobus aan. Laat ek hoor of jou plan kan aansluit by myne.”
Tiaan luister aandagtig terwyl Karen haar plan vir hom uiteensit en hy moet aan homself erken dat hy die girl nog altyd onderskat het. Saam kan hulle dit dalk net regkry om die oormag daarbuite ore aan te sit.
Tien minute later, met die bloudrukke onder die arm, en Tiaan en Karen tot die ore toe gewapen, lei Karen hulle met ‘n ondergrondse tonnel na ‘n uitkykpunt bokant ‘n watergat, so 200 meter van die huis af. Daar is ‘n kous in Sandra se mond gestop om enige skielike hulpgille te keer. So drafstap die drie, Karen voor, Sandra in die middel en Tiaan in die agterhoede, met sy pistool in Sandra se rug deur die grafstil tonnel. ‘n Koel briesie waai van voor af, en met ‘n sug van verligting besef Tiaan dat hy net dalkies vir Karen kan vertrou. Dit is darem nie ‘n doodloop-lokval nie. Die uitkykpunt bo die watergat is gebou in die vorm van ‘n kliplapa, met ‘n groot opening voor wat uitkyk op die watergat, en twee kleiner vensters aan die agterkant. Twee venster met ‘n perfekte uitsig op die huis en die werf. Van hier kan Tiaan die helikopter, die Majoor èn sy manne sien waar hulle agter heinings en muurtjies op hulle mae lê en die huis dophou. “Poepholle,” dink Tiaan by homself,”soos sitting ducks”. Karen het Sandra aan ‘n paal in die hoek vasgebind en neem nou plaas voor die ander venster. Hulle moet nou die finale stappe in die plan bespreek. Watter van die gorillas sal gou en veilig met skerpskut uitgevat kan word, voor hulle besef die geweervuur kom nie uit die huis nie? Definitief twee, miskien drie as hulle gelukkig is? Daarna sal die uitkykpunt dien as ‘n fort wat definitief die voordeel aan hulle gaan verleen. Blykbaar wil Karen mooi saamspeel. Met handgebare word die eerste twee teikens uitgekies. Tiaan voel net ‘n klein tikkie teleurstelling dat Andrè nie een van die eerste twee is nie. Met stadige doelgerigte bewegings plaas hulle die jaggewere in die vensterbanke, wat ook as stut sal dien om die effense senuweeagtige gebewe te beheer. Beide Tiaan en Karen vind hulle onderskeie teikens in die teleskope. Drie, Twee, Een dui Tiaan met sy vingers in die lug aan. Diep asemteug en vuur. Die twee mans se koppe ontplof gelyk en hulle dooie liggame slaan agteroor. Tiaan en Karen wil nog mik vir ‘n tweede skoot, maar die oorblywende ouens is te goed opgelei en is binne ‘n oogwink uit sig uit. Deel 1 van die plan was egter geslaagd, en die 5 teen 2 voordeel is nou verminder na 3 teen 2. ‘n Baie beter kans in enige weddenskap.
Dit het Leonard omtrent bloedsweet gekos om homself los te woel. Selfs nog gedurende sy opleiding was daar nie sommer ‘n tou of knoop wat hom kon weerstaan nie, maar dié Tiaan ou ken verdomp van knope maak. Die laaste twee geweerskote was egter die laaste strooi en hy het met al sy krag die laaste knoop losgewoel gekry. Sy hande is rou, sy vingers is dood en hy het geen idee wat buite aangaan en wie aan die wenkant is nie. Duidelik het almal van hom vergeet en dit kan dalk net in sy guns tel. Hy het ook die helikopter gehoor en hy is amper doodseker dat dit Andre en die manne is. Maar nou is daar doodse stilte, na die skote, en dit voorspel niks goeds nie. Hy klik die kattebak van binne oop en loer eers net deur ‘n skreef. Die motor is egter ‘n ent weg van die huis, half onder ‘n boom, ingetrek en hy besef dat Tiaan dit met opset daar parkeer het, weg van die huismense se oë en ore af. Van hier kan hy nie veel sien nie, maar dit gee hom ook die voordeel dat hy kan uitglip sonder dat enigiemand hom sien. Sy uitklim, die kattebak weer toedruk en grondlangs kruip tot by die voorste wiel, is so te sê een beweging. Hy voel hoe sy kop gaan stilstaan toe hy vir Basson skaars tien treë van hom af sien lê, en dis nie ‘n mooi prentjie nie. Die volgende oomblik vang iets blinks heelwat hoër op, sy oog. Hy hou amper op met asemhaal terwyl hy stip in daardie rigting staar. Daar is dit weer! En hierdie keer besef hy waarna hy kyk. Dis die son wat op ‘n geweerloop blink. Hy is amper doodseker dat nie Andre of een van die ander ouens so “sloppy” sal wees nie, dus beteken dit net een ding – Tiaan is nog op vrye voet en iewers het hy ‘n geweer in die hande gekry, heelwaarskynlik ‘n jaggeweer met ‘n teleskoop.Die vraag is nou, wie van die huismense en Sandra lewe nog? En hoe het die bliksem daar bo gekom? Sal hy dit waag om na die huis toe te hardloop? Hy oorweeg nog sy opsies, toe hy sien hoe Andre se kop oor die stoepmuurtjie kom.
Andrè beduie hy moet Basson se geweer gryp en na die stoep toe kom. Tyd vir heroorweging. Tiaan merk die beweging agter die kar op. “Shit, Leonard het losgekom” fluister hy, “en dit lyk of hy ons skuilplek gespot het.” Tiaan vind ‘n merk net regs van die kar in sy teleskoop, en beduie vir Karen om dieselfde te doen. As Leonard uitgeweeg sal dit hopelik voor een van diè punte inwees. Leonard haal diep asem en spring weg in die rigting van Basson, gryp die geweer en nael na die stoep toe. Die skielike verandering van rigting het Tiaan en Karen onkant gevang, en hulle skote slaan in die stof vas. “Fokkit ek is bly om jou te sien!” sê Andrè aan Leonard, “die Brink mannetjie is definitief meer uitgeslape as wat ons gedink het. Hy laat ons soos amateurs lyk.” “Ons moet uitvind hoe hulle daar gekom het. Daar moet ‘n tonnel uit die huis wees, want hulle het definitief nie van buite af daar gekom nie.” Die Majoor en sy manne is besig om die huis te fynkam, en Tiaan besef dat hulle binnekort die deur by die ingang van die tonnel gaan vind. Net ‘n kwessie van tyd, en seker nie baie daarvan nie. “Ons moet hier wegkom”, sê hy aan Karen ” hulle gaan daai deur kry en dan sit ons soos lammers ter slagting hier en wag.” “Ons kan met die leer afklim en maak dat ons wegkom. Ons sal dit seker tot by jou kar kan maak?” kom dit van Karen se kant af. “En hulle het ‘n helikopter waarmee ons uit die lug gejag kan word, nee” kom dit met ‘n tikkie sarkasme van Tiaan af “ek dink ons moet by die helikopter uitkom.” Tiaan probeer sy gedagtes orden. Miskien moet hulle hier bly, die spot bied nog steeds die voordeel aan hulle. As Andrè en sy manne deur die luik van die tonnel af probeer inkom kan hulle maklik afgemaai word. As hy tog maar net geweet het hoe die man dink! Dit is toe dat Tiaan die 4 mans uit die huis gesien gehardloop sien kom. So asof die duiwel agter hulle aan is. Sekondes daarna knal ‘n geweldige ontploffing oor die stil vlaktes, en stukke plaashuis hang in die lug oor die werf. “Wel die vraag oor die tonnel is beantwoord ” dink hy hardop.
Hoofstuk 4
Terselfdertyd tref dit Tiaan dis beslis nie die Majoor-hulle wat die huis opgeblaas het nie. Dis duidelik uit hul verskrikte weghardlopery dat hulle ook onverhoeds betrap is. Hy draai terug na Karen, maar sien dan aan die geskokte uitdrukking op haar gesig dat sy net so onkant gevang is. ”Dit beteken dat… dat…,” stotter sy, ”dat… Kobus een of ander ploftoestel op ’n tydreëlaar laat installeer het. Een wat heelwaarskynlik geaktiveer is deur die gebruik van die tonnel se buitedeur. Hoekom op aarde sou hy so iets wou doen?”
Dis op daardie oomblik, met die stofwolke wat gaan lê het en die doodse stilte na die ontploffing, dat hulle vir die eerste keer bewus raak daarvan dat die Majoor en sy mense nêrens te sien is nie. Die plaas en die werf lê oop hier van bo af, maar daar is nêrens ’n roering of ’n teken van een van die vier nie. Dis asof die stof hulle ingesluk het. Tiaan swaai onrustig in die rondte, met die geweer gereed, maar daar is net mooi niks. Nie by die motor nie en ook nie by die helikopter nie. Dis asof selfs die blare aan die bome ophou beweeg het. ‘n Aaklige koue rilling gaan deur hom. Die enigste plek waar hy nie kan sien nie, is reg onder die lapa, besef hy ineens…
André kan sy geluk nie glo nie. Hy en sy manne lê nou reg onder die lapa. Die ontploffing het die die perfekte afleiding gebied om hulle tot hier te kry. Ook natuurlik was die lapa die enigste plek wat skuiling tot die neerreën van stof en bou materiaal gebied het. Hy voel ’n krieweling in sy keel, en weet dit is irritasie van die stof. Met groot moeite onderdruk hy die kug. Die fynste geluidjie sal hulle wegkruipplek verraai, en hy beduie vir die ander ouens om ook grafstil te wees. Vir die soveelste keer moet daar in hierdie einste dag ’n nuwe plan beraam word, em om alles te kroon gaan dit met handgebare gedoen moet word. ”Fok” sê hy vir homself binnesmonds, ”dat twee mense met jaggewere nou die dag so kan uitrek.” ”En nie eers te praat van die donnerse ontploffing nie!” Hy wens hy kon sy frustrasies uitgil en dinamiet onder hierdie lapa plant, en hulle almal letterlik en figuurlik die ewigheid instuur. ”Fok” dink hy weer ’n keer, ’As Sandra net nie in hierdie lapa was nie was daai ander twee lankal bokveld toe!” Hy verken sy omgewing met valkoë. Hy onthou die twee vensters wat na die huis, wel gewese huis toe gekyk het, en neem aan daar is ’n groter opening voor wat op die watergat uitkyk. ”Die watergat,” dink hy ” al wat ons nou nog nodig het is ’n honger leeu of twee om hierdie dag goed op te fok”. Hy sien aan die eenkant trappe wat uit die lapa na onder kom, asook ’n ruïne van wat sekerlik die kliptrappe uit die tonnel in die lapa in was. Een met ’n deur, die ander ’n valdeur. ”As ek dit kan verhelp, raak ek aan geen enkele verdere deur vandag nie” dink hy.
”Nog net so ’n bietjie wikkel” dink Sandra by haarself. Daardie laataand-speletjies met André op haar hemelbed kom handig te pas. Sy het altyd by André gespog dat geen man haar ooit sal kan vasbind nie. ”Nogal ironies dat kinky laatnag kafoefel nou dalk my lewe kan red” dink Sandra met ’n glimlag by haarself. Met die ontploffing het sy die geleendheid gehad om sommer lekker wild te woel met die toue om haar gewrigte, maar nou gaan dit maar weer slakstadig om nie aandag op haarself te vestig nie. Terwyl sy so sukkel probeer Sandra solank ’n plan formuleer, maar niks wil in plek val nie. Sy probeer aan tonele uit haar gunsteling flieks dink. James Bond, Kill Bill, Batman, Spiderman en selfs Naked Gun. Haar brein wil net nie idees orden nie. Skielik is haar hande los. “Great” dink Sandra ietwat sarkasties” ready to do, but no flippen idea what!”
Die skok, geweerskote en feit dat sy vir Andre lewendig sien is net te veel vir Sandra. Onwillekeurig word die krane oopgedraai en begin sy weereens te snik terwyl die druppels oor haar stofgepoeierde wange rol. ”Ek gee ook nie meer om nie, Tiaan kan my ook nou maar skiet as hy wil” dink Sandra, ”Ek bly tog maar net ’n mens vasgevang in ’n situasie wat voel of dit in ’n Spielberg film hoort.” Skielik dink sy aan haar Ma. Hoekom kan sy nie verstaan nie, tot Ma se laaste woorde aan haar klokhelder deur haar brein flits. So asof sy hier langs haar staan met daai ”Ek het jou mos gesê” kyk in haar oë. ”Wat jy saai, sal jy maai my kind. Daardie wiel draai, en hierdie dinge en mense waarmee jy jouself besig hou gaan nog jou einde beteken. Hoor wat jou Ma jou sê!” Al waaraan Sandra kan dink is dat dit nooit só moes uitdraai nie. Dinge het nou tè vinnig, tè verkeerd geloop, maar selfs van ’n tikkie verantwoordelikheid neem is daar geen teken nie. Selfs Andre se hand op haar skouer bring geen vertroosting nie, en Sandra snik onverstoord voort.
”Net cool wees vir nou” dink Andre by homself terwyl die trio oor die bou-materiaal bestrooide werf in die rigting van die helikopter beweeg. Hy voor, met sy “Fok jou” houding, Sandra al snikkende in die middel, en Tiaan met sy “Ek het die geweer” houding in die agterhoede. ‘n Meer komiese situasie sal slegs in die Three Stooges te siene wees. Dit is onheilspellend stil op die plaaswerf, so asof die onploffing ook enige ander geluide verswelg het. Andre maak die paadjie korter deur te dink aan maniere om beheer oor hierdie situasie te verkry. Tiaan worstel met idees om seker te maak hy bly in beheer. Sandra strompel net saam, sy het alle beheer verloor.
Andre en Tiaan sien tegelykertyd die stofwolk in die plaaspad. Die volgende oomblik hoor hulle die dreuning en toe kom die rooi bakkie om die laaste draai. Andre is vir ‘n oomblik bevrees dat hier vandag nog onskuldige mense gaan sterf, maar staan stom verbaas toe hy die bree glimlag sien wat skielik oor Tiaan se gesig uitbreek. Die bakkie gooi ‘n swierige draai, kom tot stilstand en toe die deur oopswaai, is dit ‘n paar BAIE duidelike bene wat eers uitswaai, gevolg deur ‘n blonde meisie wat lyk asof sy uit een of ander modeltydskrif ontsnap het. Ten spyte van hom en Sandra se penarie, kan Andre nie help om die skoonheid te waardeer nie. Sandra het skoon vergeet om verder te huil en staar oopmond na die meisie wat doodluiters na hulle aangeloop kom.
“Tiaan, my skat,” lispel sy met ‘n hees stem wat enige man se bloed sal laat kook, “jammer ek is so effe laat, maar ek het dadelik gery toe ek jou sms kry. Ek sien jy het heel goed reggekom sonder my. Nie dat ek enigsins aan jou vermoens getwyfel het nie.” En sy lek oor haar lippe op so ‘n manier dat Andre onwillekeurig ook oor sy eie lippe lek.
“Juliet, jy weet ook net wanneer om op te daag,” antwoord Tiaan, sonder om sy oe of die geweer van Andre en Sandra af te haal.
“Is dit nou onse Sandratjie? En hierdie, is dit die Majoortjie?” Juliet trek haar lang naels liggies oor Andre se voorarm. “Kan ek nie bietjie met hom speel voordat ons tot aksie oorgaan nie?” Andre is half vies vir homself toe hy voel hoe sy lyf hom verraai. Juliet se lag klink klokhelder op.
Tiaan se gedagtes skommel in ‘n blender. ”Magtig Juliet, het jy die deel van die helikopter op die sms misgelees? Daai rokkie gaan die heletyd om jou ore sit!” kry hy net-net sy woorde in verstaanbare sinne georden. Die effek wat hierdie katjie op enige volbloed man het is duidelik te siene. Tiaan sukkel om sy oë op Andre en Sandra gefokus te hou. Andre lyk soos ’n skoothondjie wat pleit vir ’n kopstreel. Sandra, wel Sandra lyk soos ’n kat wie se melk suur is. Die naels is ontbloot en haar oë skiet weerligstrale. Sandra voel nie net dadelik kwaad nie, maar sommer afgehaal ook. ”Die vrou laat hierdie twee se hormone bokspring. Sy lyk of sy nou net ’n make-over gehad het… en ek…. Ek lyk letterlik of ek agter ‘n bakkie in ‘n stofpad gesleep was,” dink Sandra vies “maar miskien kan dit later tot my voordeel wees.” Dis nou Sandra vir haarself en bogger die twee katoolse stoetbulle!
Die helikopter se lemme begin woer en verbreek die stilte wat na die ontploffing op die plaaswerf neergedaal het. Sandra en Andre is langs mekaar sit gemaak waar Tiaan hulle albei onder oog kan hou. Met die opstyg loer hy effe kant toe. ”Dit is die mooiste fokken pilot in die wêreld dié, of hoe sê ek Majoortjie?” klink dit bo die kajuitgeraas uit. Sy oë wil amper nie weer terug op sy twee gevangenes fokus nie, want Juliet se eina-klein rok het nog so bietjie hoër teen daardie ”wrap-my-legs-around-you” bene opgeskuif. Om dan nie eers te praat van daai twee borste wat dreig om los te breek nie. Tiaan begin glo sy dag word al beter. ”As ons net eers hier wegkom, kan jy later met die Majoortjie maak net wat jy wil. Ek belowe.” skree-fluister hy na Juliet se kant toe. Haar van oor-tot-oor glimlag bevestig dat sy hom gehoor het. Tiaan kry eintlik skielik vir André jammer, want hy weet nie of André al ‘n bloeddorstige nympho in sy lewe teëgekom het nie.
Aan die manier waarop Juliet die helikopter beheer, kan mens sien sy is nie net ’n mooi gesiggie nie. Andre kan sy oë nie van haar afhou nie en dis nie net omdat sy genoeglik sag op die oog is nie. Iets aan haar wil-wil vir hom bekend voorkom, maar dit beweeg op die buitenste rante van sy geheue. Nes die onthou wil deurbreek, verdwyn dit weer.
Dis meer as ‘n uur later wat Juliet die helikopter netjies neersit op ‘n verlate werf, iewers tussen groen heuwels. Hulle het meesal noordoos gevlieg en Andre het ‘n vermoede hulle is iewers in Lesotho.
“Ek het vir Paulo laat weet ons is oppad nadat ek jou sms gekry het. Hy sou kom seker maak hier is genoeg voorraad vir ‘n paar dae en hy het ook ekstra wapens laat haal. En wagte om dié twee op te pas, terwyl ek en jy ons reëlings tref. Maar vir vanaand is dit net eers ons vier. Ek soek die vroumens toegesluit in die onderste kamer, maar die Majoor kom in die kamer langs myne” en Juliet kom vlei haarself letterlik teenaan Andre, druk haar borste teen sy lyf en beweeg dan stadig, tergend met haar vingers oor sy mond, oor sy bors en af, af, af. Toe sy sy reaksie voel, bars sy uit van die lag. “Ai ai, Majoor, ek kan nie wag nie. Ek dink ek en jy gaan heelwat pret hê. Dalk besluit jy nog om minder edel te wees en saam met my weg te loop.”
Sandra lyk asof sy enige oomblik gaan ontplof van woede, maar Andre kyk eerder nie vir haar nie. Hy is reeds so de moer in vir homself oor sy reaksie, maar hy wonder of hy nie dalk deur saam te speel, twee vlieë met een klap kan doodmaak nie.
Sandra word onseremonieël in ‘n kamer ingeboender. Sy kan sien hierdie huis word dikwels gebruik, waarvoor is sy nie seker nie, maar as sy na die sekuriteit kyk blyk dit dat heelwat mense dalk al hule laaste ure hier spandeer het. Die kamer is verbasend gerieflik. “Eintlik meer as gerieflik” dink Sandra. Amper soos ‘n vyfster hotel eerder. Definitief ‘n vrou se hand hier betrokke. “Bly om te sien jy approve” sê Tiaan as hy haar in die rigting van die hemelbed stuur. “Wat de moer?” wonder Sandra, “Is hierdie man stapelgek?” Dit is heel duidelik dat Juliet hierdie manne witwarm in die broek het, en dat ‘n gemaklike “Nee” nie die ding gaan doen nie. “Ag whatever,” peins Sandra by haarself “que sera sera.” Dit sal darem nie die eerste keer wees wat sy sal moet “fake” met Tiaan nie, en saamspeel blyk nie juis ‘n keuse te wees nie, en net dalkies kan die situasie iewers in haar guns uitdraai. “Ter wille van oorlewing” dink sy hardop terwyl Sandra die afstandbeheer van die cd-speler probeer baasraak. “Liefling, kan ons nie maar vergeet en vergewe…” koer Gé oor die luidsprekers. Sandra is eintlik naby aan uitbars van die lag toe sy omdraai, en die gesig wat haar begroet sou in ander omstandighede die lag in histerie verander het. Daar staan Tiaan, klaar in sy verjaarsdagpakkie en duidelik gereed vir aksie, met ’n pistool op haar gerig. ”Liefling, ek kan nie sonder jou verder lewe, dit weet jy goed……”
Dit het nie veel oorredingsvermoë van Juliet vereis om Andre te kry om van sy klere ontslae te raak nie. Hy lê huidiglik sonder ’n draadjie klere, met sy hande en voete aan die bed vasgebind, oopgespalk soos ’n man op ’n middeleeuse martelkonstruksie. Juliet het by ’n deur in verdwyn. Gedagtes aan wat moontlik gaan volg is besig om hom tot raserny te dryf en hy voel soos ’n vyfjarige voor sy verjaarsdagpartytjie. Alle opwinding ys meteens as Juliet by die deur instap, geklee in ‘n swart leer pakkie met opryg-stewels….. en ‘n swart katsweep in elke hand.Uit die aangrensende kamer blêr ”Bend me, shape me, anyway you want me….” oor die radio.
Hoofstuk 5
Tiaan het Sandra se hande in sy hittige haas rofweg vasgewoel aan die koperraam van die hemelbed. Ten spyte van sy drif en lus, bly Tiaan ‘n uitstekende lover en Sandra sou amper die ondervinding kon geniet as sy nie besef het dat hierdie “lean back and enjoy the ride” dalk baie moontlik haar laaste een kan wees nie. Sy besef dat sy op geen manier vir Tiaan moet ‘trigger’ nie. Sy maak dus die gepaste geluide terwyl sy onder hom wriemel, net genoeg sodat hy nie moet agterkom sy is besig om haar hande los te woel nie. Weereens bedank sy Andre vir hul destydse lakenkaskenades. Skielik voel sy hoe die toue skietgee. Sy het reeds opgemerk dat die bedlamp haar enigste moontlike, bereikbare wapen is en sy weet dat sy blitsig sal moet optree en haar tyd goed sal moet kies.
Deur al hul tye saam, het sy Tiaan se ritme goed leer ken en toe sy aanvoel dat hy by omdraai verby is, skiet haar hand uit na die lamp. In een beweging ruk sy dit op en laat dit met alle geweld op sy kop neerkom. Sandra sou amper kon lag vir die uitdrukking wat oor Tiaan se gesig skuif op die oomblik wat hy klimaks bereik en tersefdertyd die slag teen sy kop voel. Sy hou egter aan slaan met alles in haar en dis eers toe haar arm doodeenvoudig nie meer krag oor het nie, dat sy besef hy lê lankal reeds doodstil bo-op haar. Sy byt die histerie terug en stoot hom af gewalg van haar af, gryp haar klere en tree so ver as moontlik weg van die bed.
Sandra klem haar klere in haar vuiste vas as sy met wydgerekte oë die skoktoneel voor haar aanskou. Tiaan lê in plasse van sy eie bloed. Die bloed is besig om die lakens te deurweek en die eerste druppels is al besig om op die blinkgepoetsde houtvloer te val. Snaaks genoeg is daar ’n kalmte wat oor haar kom terwyl sy haar klere blitsig aantrek. ”Ek het ’n man vermoor” dink sy ” en dit is onrusbarend dat ek niks voel nie.” ” Nee,” sê sy hardop vir haarself ” ek het Tiaan vermoor, die duiwel met mensmombakkies.” Op daardie oomblik word Sandra teruggeruk na die werklikheid, want iewers in die huis hoor sy die pleitgille van ’n man, André.
Sandra tel die pistool op waar André hom neergesit het, en beweeg versigtig by die deur uit. Die houtvloere kraak onder haar voete, en elke stappie klink asof dit oor luidsprekers deur die huis eggo. Sandra volg die klank van musiek wat kort-kort deur ’n gil onderbreuk word. ”As Juliet vir André so kan laat gil, wil ek liewers nie wonder wat sy aanvang nie” dink Sandra en sy beweeg ietwat vinniger, minder versigtig in daardie rigting. Die kamerdeur is oop, en as Sandra om die deur loer besef sy dat die kamer met ’n deur aan ’n ander een verbind is, en dit is daarvandaan wat die gille kom. Sy beweeg suutjies deur die kamer na die ander deur. Rhinestone Cowboy vul die kamer om haar as sy die bizarre toneel voor haar aanskou. Juliet se rug is na Sandra gedraai, waar sy wydsbeen oor Tiaan sit en uit volle bors saam met Neil Diamond sing. André se gebonde hande en voete, veroorsaak dat sy gewriemel die mattras soos ‘n meganiese bul laat bokspring. Juliet ry soos ’n wafferse ruiter, en elke keer as sy die woord ”cowboy” sing kom die katswepe met geweld op André se naaktheid neer.
Sandra staan vir oomblikke totaal versteen, maar toe Andre weer sy kop ruk, terwyl hy ineenkrul van die pyn, besef sy dit is nou tot hiertoe en nie verder nie. Sy rig die pistool op Juliet se bokspringende lyf en gil bo die musiek uit. “Hou op! Hou op! Of ek skiet jou vrek!”
Sy beweeg in die rigting van die musiektoestel, sonder om haar oë van Juliet en Andre af te haal. Dit lyk in elk geval of Juliet in ‘n orgasmiese beswyming is en geensins besef dat sy en Andre nie meer alleen in die kamer is nie. Dis eers toe Sandra die klank driftig afskakel, wat Juliet stadig tot bedaring kom, amper soos ‘n ruiter wat sy perd intrek op ‘n drafstap. Die vroumens se aksies is so bizar dat Sandra begin voel sy speel in een of ander derderangse pornografiese film en enige oomblik gaan die regisseur “cut” skree.
“Klim van hom af en staan eenkant toe, anders sweer ek, ek skiet jou sonder om ‘n oog te knip!” Sandra voel die histerie in haar opstoot, maar sy byt verbete op haar tande en haar oë verlaat Juliet nie een oomblik nie. Dié is besig om haarself stadig af te lig, en Andre besef deur die pynnewels dat hy moet wegkom van die nimfomaan af, voor sy hom gryp en as skans gebruik. Sandra se enigste voordeel is die pistool in haar hand, maar Andre vertrou die wildekat Juliet nie vir een oomblik nie.
“Toe Juffie, beweeg stadig om die bed en maak sy hande en voete los.” Sandra se hande bewe soos wat sy die pistool in beide vuiste vasklem. Sy dink egter Juliet kan die vasberadenheid in haar oë sien, en dat sy nie besig is om leë dreigemente te maak nie. Sandra is reg om te skiet, en hou haar oë en die pistool op Juliet gerig terwyl sy stadig en metodies om die bed beweeg en André se hande en voete bevry. Sandra en André se oë ontmoet vlugtig, en dit is met nuwe woede dat Sandra nie net verligting nie, maar ook ’n tikkie teleurstelling in André se oë bespeur. ”Tipiese man nê André” snou sy hom toe, ” Big Boy vind die hele situasie opwindend! Jy beter vinnig ’n broek aankry voordat ek myself vererg en daardie kroonjuwele van jou maan toe blaas!” ”Maan toe blaas” was blykbaar die towerwoorde, want soos blits staan André langs Sandra…. met ‘n broek aan.
Dit is met die kortstondige verloor van konsentrasie wat Juliet egter die kans gebruik om soos ‘n wildekat verby Sandra en André te snel en deur die deur, die donker gang in te verdwyn. ”Fokkit” swets Sandra hardop, ”daar dompel jou lustigheid ons alweer in die kak!”
Sandra wil agter die tierkat aan, maar André kry haar aan die arm beet en hou haar terug. Dis asof die feit dat hy nou weer sy broek aan het, hom sy outoriteit teruggee. “Nee, los haar!”
Sandra wil nog teëpraat, maar André praat driftig bo-oor haar besware; “Sy het vir Tiaan gesê daar is twee wagte wat more hierheen kom. Ek en jy het geen idee hoe ver weg van hier daardie wagte op die oomblik is nie. Ons kan nie tyd mors om haar te probeer vaskeer en intussen ken sy die huis soos die palm van haar hand en het sy tien teen een reeds hulp ontbied nie. Kom! Ons moet hier wegkom. Met dié woorde gryp André die wapen wat Juliet gedurende hul sekskapade eenkant neergesit het en sleep Sandra na die voordeur se kant. Van Juliet is daar geen teken nie en toe André die deur versigtig oopmaak, lê die werf onheilspellend stil voor hulle.
André meet met sy oë die afstand na die skuur ‘n ent van die huis af. Van hier af kan hy sien daar staan een of ander bakkie in die skuur. Oor sleutels bekommer hy hom nie, want voor die staat van hom ‘n beroepsoldaat gemaak het, was “hot wire” sy spesialiteit. Hy kyk vir Sandra en vir ‘n paar sekondes sien sy die omgee duidelik in sy oë. “Kom Sans, ons gaan hardloop. Al gebeur wat, al hoor jy wat, hou net aan hardloop. Glo my, dis vrek moeilik om ‘n bewegende teiken raak te skiet “ Die eens bekende troetelnaam vang Sandra heel onverhoeds, maar voor sy ‘n tweede keer daaraan kan dink, gryp André haar aan die hand en begin verwoed hardloop. Sandra haal uit om by te bly en verwag enige oomblik om ‘n skoot te hoor, maar hulle bereik die skuur sonder enige voorval en sy wonder of dit ne dalk te goed is om waar te wees nie.
Sandra hyg nog na haar asem terwyl Tiaan aan haar beduie om net daar agter die bakkie te bly. Met ’n geoefende oog fynkam André die bakkie van links na regs, bo na onder. Hy kyk vir enige ploftoestelle of opsporingsstelsels. Tevrede beduie hy vir Sandra om in te klim en vas te gordel. André vroetel met die drade onder die stuur en binne oomblikke hoes-hoes die bakkie aan die brand. Naas ”Sans” is dit een van die mooiste geluide wat Sandra vandag nog gehoor het. Die bakkie is moontlik net vir gebruik op die plaas, definitief nie ’n onlangse model nie. André gooi die bakkie in tru-rat en vlieg by die skuur uit. Die hoofligte wil nie aanskakel nie, maar daar is nie nou tyd vir bekommer nie, al wat hy weet is dat hulle moet wegkom, en so spoedig moontlik. Die werf is stikdonker, en André slaan ’n rigting in, met geen idee of dit die regte een is nie. Gelukkig skyn ‘n helder volmaan en hy kan plek-plek obstruksies uitmaak.
Toe Juliet die bakkie in die skuur hoor het sy net radiokontak met die wagte verbreek. Sy het hulle vertel om die helikopter te kry en te vergeet van ry die volgende oggend. ”Desprerate times, calls for desperate measures” sug sy terwyl sy by die venster uitkyk en sien hoe André die verkeerde rigting inslaan.
Sandra het intussen ook uitgeklim en voor hy iets kan se, praat sy; “Ons sal moet roer as ons tussen daardie bosse wil kom voor die tierkat ons optel met die helikopter. Ten spyte van wat gebeur het, is ek bly dis saam met jou wat ek hier is en niemand anders nie.” en sy glimlag net effens. Andre gee haar hand ‘n druk en toe hardloop hulle na die bosse omtrent 200 meter verder, terwyl die helikopter se verblindernde lig reeds besig is om die veld om hulle al helderder te verlig
Die sweephale oor Andre se lyf brand soos helvuur, en plek-plek slaan die effense bloeding deur sy wit hemp. Daar is egter nie tyd om nou daaroor te bekommer nie, want hy is nou deel van die bos, en die dierinstink dink slegs aan oorlewing. Na omtrent 100 meter se hardloop half-sleep Andre al vir Sandra. Tussen haar gehyg na asem hoor Andre hoe Sandra iets van rus prewel. ”Nie nou nie” kry hy dit skaars uit. Dit was op hierdie oomblik toe hulle die ra-ta-ta van die eerste outomatiese geweervuur hoor. Toe Andre effens omkyk in die hardloop merk hy die bakkie in die soeklig, besig om met koeëls gepeper te word. Die skielike knal van die petroltenk en daaropvolgende vuurwolk verlig die omgewing in dieselfde oomblik as wat Andre oor ’n klip struikel en hy, met Sandra bo op hom, in ’n sloot neerslaan. Toe Andre Sandra se hare uit sy gesig vee, en die wêreld om hom uit die sloot bekyk, sien hy net bome ge-ets teen die donker nag. Hulle het dit gemaak.
Die ontploffing het Juliet vir ’n oomblik verblind, maar waar sy gedink het sy gewaar beweging sien sy nou niks. Juliet besef dat die bome perfekte beskerming bied, en dat die helikopter nie van veel nut in die nag sal wees nie. Sy beduie aan die vlieënier om te land terwyl sy ammunisie herlaai. ”Kom ouens, jagseisoen is oop. Wees net versigtig vir die gewonde dier!”
Sonder dat sy besef wat sy doen, begin Sandra Andre soen, driftig, asof sy aan haarself wil bevestig dat sy nog lewe. Andre wil-wil eers protesteer, maar dan voel hy die byna vergete gevoel van teerheid wat hy altyd vir Sandra gevoel het, terugvloei en hy begin haar liefkoos. Sy hande is meteens oral oor haar en hy kan nie gou genoeg naby genoeg aan haar kom nie. Dis ‘n heel ander gevoel as saam met die Juliet-tierkat. Hoe meer hulle hande mekaar verken en die ou-ou gevoelens terugspoel, hoe sagter, maar dringender word sy bewegings. En daar, in die middel van die gemors waarin Sandra hulle laat beland het, kry nie net twee lywe mekaar nie, maar ook twee harte. Daar is ‘n wereld se verskil in hulle saamkom, want die liefde wat elkeen so lank ontken het, laat hom in hierdie gevaarlike omstandighede doodeenvoudig nie meer misken nie. “Ek is lief vir jou. Ek is nog al die tyd lief vir jou. En jammer oor die ding met…” fluister Andre in Sandra se hare, maar sy keer hom voor hy kan klaar praat. “Sjt, sjt – ek wil nie nou daarvan hoor nie. Ek het jou ook lief, ek het net so verdomp aangejaag. As ons hier uitkom, lewendig hier uitkom, moenie ooit weer dat ek so aanjaag nie.” Andre hou haar styf vas, maar toe sy weer iets wil se, druk hy sy hand saggies oor haar mond. Sy geoefende ore het ‘n beweging skuins regs van hulle gehoor, maar darem nog nie te naby nie.
Andre beduie vir Sandra om tjoepstil te bly. ”Elke keer as iets goed gebeur is die blerrie Juliet tussenin” dink Sandra by haarself. Sy hoor egter ook die takkies kraak en besef dat stilte tog maar die beste uitweg op nog bietjie oorlewing is, alhoewel sy op hierdie oomblik eerder Andre se klere van sy lyf af sou wou skeur. Sy voel Andre se hartklop teen hare. Sandra voel hoe kalmte oor haar vloei. Andre hou die omgewing bokant die sloot dop, en verwag om Juliet se gesig enige oomblik oor die rant te sien verskyn.
Juliet en haar makkers het uitgesprei om ’n groter area te kan fynkam. Juliet dra haar pistool vasgeklem in albei hande, haar oë in konsentrasie op die grond voor haar voete. Sy probeer so sag moontlik beweeg maar daar is stokkies, blare en klippies wat aanhoudend haar teenwoordigheid verklap. Meteens is daar ’n harde geklap van vlerke in die book regs van haar. Toe Sandra opkyk en met verligting sien dit is ’n uil wat opvlieg, verloor sy haar balans en val sy vooroor binne die sloot in en kom met ’n slag te lande bo-op Sandra en Andre.
Hoofstuk 6
Juliet het Sandra half winduit geval en gelukkig verhoed dit dat Sandra skree. Andre het gelukkig sy teenwoordigheid van gees behou en soos blits gryp hy die pistool uit Juliet se hande en ruk haar om, haar rug teen hom en sy hand oor haar mond. “Een geluid en ek blaas jou harsings uit.” fluister hy hard teen haar oor. Juliet kan nie veel meer doen as om haar oe te rek nie, want Andre het haar letterlik in ‘n staalgreep vas.
Sandra snak nog na asem, maar besef dat sy ook geen geluid moet maak nie. Nie sy of Andre weet waar Juliet se handlangers is nie. Sy voel egter op daardie oomblik baie lus om die groot-oog Juliet hier voor haar sommer ‘n paar ordentlike klappe te gee. “Sy is ons paspoort uit hierdie gemors. Kry ons wapens en bly agter my en haar.” se Andre en begin met Juliet steeds in sy greep, teen die sloot se wal uitklim. Sandra dek die agterhoede en voel meteens of daar oe oral is wat vir hulle loer.
Die stilte lê soos ‘n kombers oor die veld. Die enigste onderbreking is die geritsel van gras en klippertjies, van nagdiertjies wat skarrel voor die skimme van mense wat hulle omgewing betree. Sandra was nog nooit lief vir die veld nie, en gooi daarby nog donker en jy het ’n tydbom wat wag om te ontplof. Elke geluidjie word geamplifeer en visies van goggas, slange, muise en leeus is besig om in Sandra se gedagtes ’n doodsdans uit te voer. Sandra hou egter haar oë stip op Andre se rug voor haar, so asof sy doelgerigte stap die opwekker van haar energie is. Die trio beweeg dieper die nag in, verder weg van die helikopter af.
Omtrent vyftien minute later besluit een van Juliet se makkers dat dit dalk tyd is om te hergroepeer. Hy klim op ’n antieke boomstomp om bietjie hoogte te kry. ”Hooo-hooo” klink die uilroep in al vier die windrigtings in. Die teken om bymekaar te kom.
Andre hoor die roep. Hy voel die effense, kortstondige spierspanning in Juliet se arm, en besef dit moet haar makers wees.
Andre druk sy hand stywer oor Juliet se mond en fluister vir Sandra; ” Antwoord jy die roep, hulle sal waarskynlik nie die verskil in stemme agterkom net van jou roep nie.” Sandra het nog skaars die “Hooo-hooo” roep terugge-eggo, toe Andre die effense trekking in Juliet se gesig voel. Vir ‘n splitsekonde dink hy dat hy hom verbeel het dat sy glimlag, maar dan besef hy oombliklik dat hulle sopas ‘n ernstige faux pas gemaak het. Die antwoord roep wat juliet veronderstel was om te gee, was natuurlik iets heel anders. hy kan homself skop en kan nie glo dat hy so oonnosel was nie. Hy, van alle mense, moet mos darem die modus operandi kon uitwerk.
Hy besef dat hulle nou blitsig sal moet wegbeweeg en terselfdertyd moet plan sien om uit die bos te kom en by vervoer van een of ander aard.
Andre pluk Juliet op ‘n drafstap in ‘n rigting in. Sandra volg blindelings agterna toe sy besef dat daar nou iets fout moet wees. Die nagstilte word onderbreek met ’n hele aantal roepe wat uit verskillende rigtings eggo, en Sandra besef dat hulle uitgevang is. Die plan is dus om so vinnig moontlik van daardie punt af weg te kom. Andre en Juliet is definitief die fikste van die trio, en met brandende longe en lamseer bene raak Sandra met elke sekonde ’n bietjie verder agter. Op die oomblik wat Sandra besluit om ’n bietjie asem te skep en sy opkyk, besef sy met ’n verlammende gevoel dat sy alleen in die donker tussen die bome staan, en dat daar geen sien van Andre is nie. In die haas om weg te kom het Sandra agtergebly, en sy sak in ’n hopie op die grond neer. ’n Hulpelose lam wagtend vir die leeu uit die donker.
Skok is op Andre se gesig ge-ets, toe hy omkyk en besef Sandra is nie meer agter hulle nie. ”Bliksem” swets hy binnemonds. Met Juliet in tou beweeg Andre terug in die rigting vanwaar hulle gevlug het. Toe Andre met Juliet aan die arm om ’n boom gehardloop kom verstar hy in sy spore. Voor hom, in die lig van ’n flits staan Juliet se makkers, met hulle wapens op Sandra gerig.
“Skaakmat”, dink Andre. Juliet wriemel erg onder sy hand, wat nog steeds oor haar mond is, en hy besluit om te los. Dis tog doelloos om haar langer stil te probeer hou.
“Stadig nou, ouens,” praat sy met ‘n verbasende kalm stem. “Ons wil nie dat nog iemand per ongeluk seerkry hier nie.” Andre wil amper lag, want hy weet sy keer eintlik vir haar eie gat. Hy het nog steeds die pistool styf teen haar slape en sy besef een verkeerde beweging kan haar lewe kos. Voor sy verder kan praat, se hy, “Kyk, ouens, ons het elkeen iets wat die ander een wil he. So, ek reken ons moet nou maar onderhandel. Eerstens, julle beweeg voor en neem ons terug na die huis. Ek sal volg met Juliet. Een skewe beweging en ek blaas haar maan toe. En moenie dink ek worry te veel oor daai pop nie, sy het my tot nou toe nog net verdomp moeite gegee. Die ‘iets” wat ek wil he, is eintlik die bloudrukke. Andre sien hoe Sandra se kop opruk, maar hy hoop maar sy sal saamspeel. Toe sy bitsig terugbyt, “Vlieg in jou hel in. Ek het nie gevra jy moet agter my aankarring nie.” wil hy amper bravo se en hy hoop hulle is oortuigend genoeg om die ander te laat glo dat daar verdeeldheid tussen hulle is. Hulle kan dalk net daardeur hul waaksaamheid verslap en dit sal tot sy en Sandra se voordeel wees.
So beweeg die groepie nou weer terug in die rigting van die huis. Andre kan net nie die gevoel dat die hele dag se rondhardloop dalk doelloos was, afskud nie. Een verkeerde beweging van sy of Sandra se kant af, gaan veroorsaak dat hierdie ouens losbrand en veroorsaak dat nie hy of Sandra vandag se sonsopkoms gaan sien nie. Hulle het waarskynlik verder weggekom as wat hy geskat het, want die pad terug huis toe voel baie lank…… of miskien is dit net sy lyf wat begin kapsie maak teen ’n daglange G.I. Joe sessie?
Die rooi van ’n nuwe dagbreek is stadig beter om die omgewing in te kleur. Die staptog begin nou makliker gaan aangesien die groepie voor hulle voete kan sien, en nie meer bekommerd hoef te wees oor al die rotse en boomwortels wat die veld in ’n obstruksie-lopie verander het nie. Andre kan aan die ligte geselsies en die manne se liggaamshoudings agterkom dat hulle al hoe meer gerus raak. Net wat hy wil hê. Die feit dat dinge dalkies net weer in hulle guns draai, lig Andre se gemoed sommer dadelik, en toe hulle die oopte om die huis binnestap fluit hy rustig die wysie van Die Wandellied……
Die aaklige klank van wapens wat oorgehaal word ruk die groepie egter terug tot die werklikheid. Hulle is omring deur ’n stuk of dertig mans in swart pakke, gewapen tot die ore toe. Andre kyk vlugtig na Juliet en merk geen erkenning in haar oë nie. Die sirkel maak effens oop aan die huis se kant, en ’n man spierwit Arabiese drag loop die sirkel binne met die bloudrukke onder sy arm, en ’n slinkse glimlag op sy lippe. ”Goeiemore dames en here, gooi ’n bietjie vir ons daardie wapens na die kante toe” beveel die man in perfekte Afrikaans.
Andre moet net keer of sy mond hang oop. Amjad! Nou waar de hel sal hy in die prentjie inpas? Hy het jare terug saam met hom aan ‘n projek gewerk en destyds het Die Organisasie vir Amjad gebruik juis omdat hy omtrent 9 tale magtig is. Maar hy het nooit op enige stadium die indruk gekry dat Amjad hom met enige onwettige dinge ophou nie en nou dit! En nogal vermom as Arabier!
Amjad se oe beweeg stadig oor die groepie, wat ewe gehoorsaam die wapens eenkant neergesit het. Sy oe gly van die een na die ander en kom slegs vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde op Andre tot stilstand, maar daar is absoluut geen erkenning in sy oe of enige trekking oor sy gelaat wat weggee dat hy Andre ken nie. Vir ‘n vlietende oomblik wonder Andre of hy hom dalk misgis met die man se identiteit, maar dan beweeg die Arabier se linkerhand op na sy gesig en hy vryf met sy wys- en middelvinger stadig heen en weer oor sy linkerslaap.
Andre se hart hou amper op met klop, want dit was destyds die teken tussen hulle twee toe hulle undercover aan die projek gewerk het en moes voorgee dat hulle mekaar nie ken nie. Hy besef dat hier iets heeltemal buite sy verwysingsraamwerk aan die gang is, maar dat Amjad hom met daardie teken wou gerusstel. En ineens kry hy Juliet en haar makkers jammer, want as Amjad hulle geidentifiseer het as die vyand, wag daar moeilike tye vir die nimfomaan en haar handlangers!
Wat Andre wel opgemerk het is erkenning in Sandra se oë. ”So Amjad het iets met hierdie bloudruk-deurmekaarspul te doen” dink Andre. Wat Andre nie kan pluis nie, is in watter gedeelte van hierdie legkaart Amjad inpas. Die oorspronlike eienaars, die oorspronklike diewe, Sandra se medepligtigde, ’n nuwe groep diewe, ’n regerings-instelling…. die opsies is eindeloos, en al wat Andre hoop is dat hy homself aan dieselfde kant van die draad as Amjad bevind, want die feit dat hulle voorheen brothers-in-arms was gaan geen verskil maak aan die stand van sake as hy, Andre, in die “vyand” se kraal wei nie.
Daar staan hulle nou, in ‘n ry en op hulle knieë met hulle hande agter hul rûe vasgebind. Die oggend son bak sommer vroeg al warm en Andre lek oor sy lippe. Hy het visies van ’n derderangse Western-fliek, met Arabiere in. Sandra was die gelukkige een, sy sit eenkant langs Amjad op ’n tuinstoel onder ’n groot boom. Hulle gesprek blyk vurig te wees, as Andre na nie handgebare oplet. Hulle is ongelukkig net te ver weg om die gesprek te kan volg. Al wat Andre hoop is dat Sandra koelkop bly, want hy weet Amjad sal nie twee keer dink voor hy ’n sneller trek nie, en hy was al ‘n getuie daartoe.



Cool! Kan nie wag om die res te lees nie!
The suspense is killing me!
Ek ook nie Krista, die wonderlike is jy weet nie in watter rigting jy gaan nie. Maak dit soveel pret. Suspense is killing me as well! Groot pret!
Jy het my ook ‘n hele paar draaiballe gegooi hoor! Maar ek geniet my gate uit. Elke aand moet ek eers die volgende paragraaf vir die Liefie voorlees
Ek geniet dit, kan nie wag vir die volgende hoofstuk nie!
Dis flippen great! Moenie te lank wag met die res nie ne!
Neeee! Nou moet ek weer wag.
Puik, is hoofstuk 3 al oppad?
[...] jy nog nie gelees het nie, Hoofstuk 1 kan jy HIER lees OF HIER by Demoerin. Ek het amper self in trane uitgebars toe Demoerin sommer my held wil laat doodgaan, maar gelukkig [...]
Ek geniet julle storie gate uit Dm!!
Dis fan-fokken-tasties!
Ek het gou kom loer of hier nie dalkies al ‘n volgende hoofstuk is nie – en toe sien ek my vorige comment is MIA!
Maar anyway, ek is mal oor julle storie. Kan nie wag vir die volgende hoofstuk nie!
Is dit nie al tyd vir Hoofstuk 3 nie???? Wag in spanning!!!
Wow! Gripping stuff! Soveel kinkels…
Julle mag maar
Dit lees so flippen lekker! Asof ek ‘n fliek kyk, vol aksie en spanning!
Nou toe, moenie dat ek julle uit die werk hou nie. Skrywe aan daai volgende hfst!!!
Baie nice julle 2. Ek wag ook inspanning vir die volgende hoofstuk.
[...] het hierdie lekker ding begin, en nou trek ek en Demoerin al by Hoofstuk 3. Ek het gedog brandewyn het nie brieke nie, maar dit lyk my brandewyn is ‘n [...]
Heita!! Dis moer cool!!! NOG NOG NOG!!!!!
Ek hoop julle is HARD besig om te skryf. Net toe dit lekker raak toe stop dit. KOM KOM roer daardie vingers en tik…… asb!!!!!!
Dit is BAIE nice
Wa is Hoofstuk 5, meer as ‘n week is al verby, ek wag in spanning!!!!!!!
…………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………..
Sjoe maar julle is opgewerk…. wag tot more!
Nice, nice, nice! Fokkit, moet net nie nou ophou nie!
[...] Sonkind en Demoerin Hoofstuk 5 [...]
Die storie is great, ek kan nie wag vir die volgende hoofstuk nie.
Heeeehaaaaa! Sluwe onderwater seks en B-rated aksietonele speel in my kop af! Lekkerrrrrrrrrr………
Wanneer kom hoofstuk 7 nou, het ons nie al lank genoeg gewag nie???????????
Ek en sonkind rus bietjie.
Ek dink julle het lank genoeg gerus. Roer die boude!!
PS: Ek moet seker maar weer ‘n geduld pilletjie gaan sluk………
Amanda – ek het “writers block” – gee kans. Binnekort spring ek weer met ‘n spoed weg en gooi al DMI se planne omver met die karakters