‘n KORTverhaal….

17 Aug

Liniale en Canned-Fruit Bottels

 Die salon is volgepak vir ‘n Saterdagmiddag. Die haarkapstertjies en wassertjies en tee-aandraertjies beweeg soos miere op Redbull oor die wit-en-swart blokkiesvloere. Die reuk van salon-sjampoe, perm-lotion en haarsproei hang swaar in die lug. Daar hang ook iets anders in die lug. Die dames loer onderlangs vir mekaar, en wonder wie die eerste skuif gaan maak.

 Die eienares voel dis haar plig om die eerste woorde te spreek. Sy loer egter skuins na die twee meisies wie se hare getof word vir die matriekafskeid, en wonder of die tipe storie vir hulle maagdelike-ore bedoel is. Sy staan op agter die toonbank, soos ‘n wafferse Burgermeester wat na die podium toe opgeroep is. Die middagson deur die venster verlig die salon in ‘n sagte rooi. Dit is die strale wat deur haar robot-rooi hare skyn.

 Die dames skuif reg. Hier kom ’n ding! Die tannie met die geleerde sykouse en palletmes-grimering skuif die droër oor haar kop so bietjie op. Mevrou Dominee beduie aan die haarwassertjie om die water bietjie kleiner te draai. Sy het vandag weer haar Saterdaguitrusting aan. Die ligblou snyerspakkie met sykouse, wit polvye en ouma se erflating-pêrels.

 ”Ek hoor hulle verbind omtrent agt lyke met die storie.”

 ”Ek het weer gehoor tot vyftien!” kom dit van die prokureur se wulpse sekretaresse waar sy in die wagarea deur ’n ou Sarie blaai. Haar mooi gevormde bene steek oorkruis by ’n swart mini-rompie uit. Sy speel immers nog twee keer ‘n week netbal op die buurdorp om die lyfie so te hou, en haar moeder het altyd gesê : “If you’ve got it, flaunt it.”

 Die vloer is geopen en dit klink asof ‘n swerm swaeltjies na die winter teruggekeer het. “Vyftien! Is daar ooit mansmense in die dorp oor?” “Ek het altyd gedink daar is ‘n slang in die gras met daardie Martie saam” “Ja-nee, al die geld wat sy darem maar in die boetiek gespandeer het.” “Ja, en dit nogal sonder ‘n werk!” “Ek hoor sy het die mans se, wel, privaatdele afgesny en in bottels gebêre.”

 Die matriekdogters bloos skarlakenrooi en maak of hulle by die venster uitstaar.

 ”Goeie genugtig vrou, vertel jy my nou ’n ding.” “Blykbaar was haar dienste, wel, hoe sal ons nou sê, baie eksklusief.” “Hoe eksklusief kan jou lyf verkoop nou regtig wees,” kom dit van die haarwassertjie.

 Met ’n klein kuggie maak Mevrou Dominee haar keel skoon, ” Potensiële kliënte moes ’n aansoekvorm invul.” ” ’n Aansoekvorm?” kom dit van onder die droër. ”En nie net dit nie,” sy loer na die twee matriekmeisies, en fluister sagter agter haar hand, ”Sy het ook ’n liniaal in haar handsak gedra.” ”Wat seg jy?” kom dit vir die eerste keer van die halfdowe tannie met die purple-rinse uit die hoekie. ”’n Liniaal tannie.” ”Is Martie dan ’n onderwyseres?”

 ”Wel een ding is verseker, gelukkig is sy nou agter tralies!” “Kry mense nog die doodstraf?” “Gelukkig is sy gevang terwyl daar nog mans in die dorp oor is.” “Wat gaan hulle nou met al daai bottels, julle weet wat doen?” “Seker maar die grafte oopmaak, sodat die lyke weer volledig is?”

 In die negentiende putjie van die dorp se buiteklub is ‘n bedroewige groepie van 10 manne om ‘n tafel. Die Bulle het so pas die Griekwas met ‘n punt geklop. Daar is egter meer as dit agter die lang gesigte, Martie.

 Dominee skuif sy Coke op die sigaret-gebrandmerkte tafel rond. Hy is in sy Saterdagpak, die bloue, maar met sy Griekwas ondersteunershemp onderaan. Miskien sal een van die ouens wat ‘n alkoholiese drankie geniet eerste praat.

 Die Sersant voel hy moet dalk eerste iets sê. Hy het immers die arrestasie gedoen. Dominee sit en wonder oor die klad wat oor die dorp se naam gaan kom as die koerante die storie beetkry, hy het ten minste al vyf daardie mans eervol begrawe. Die Prokureur wonder of hy die ander moet vertel dat Martie van sy dienste vir haar verdediging gebruik gaan maak. Die Dokter-Cum-Staatspatoloog wonder wat die mediese raad van die vervalste doodsertifikate gaan sê.

 “Nog ‘n rondte koegman!” kom dit van die Supermarkeienaar aan die anderkant van die tafel. Hy voel nou tevrede, hy het iets gesê. Sy seun is een van die teraardebesteldes. Die Slagter sit en besin oor wanneer Martie een van sy messe uit die slaghuis gegaps het. Die Apteker en Boetiekeienaar dink aan hoeveel verlore winste aan een arrestasie toegeskryf sal kan word. Die Magistraat beplan wanneer die saak in die hof sal kan verskyn. Die bakker staar half verwilderd met sy hartseergedagtes by die venster uit, terwyl hy ingedagte aan sy sigaret trek. Martie is sy suster.

 Ten minste vyf van die mans om die tafel is eintlik heel verlig dat hulle ”te kort geskiet” het met hulle aansoeke. Dit is geheime vir graf toe gaan daardie. Ten minste 3 voel heel tevrede dat hulle aansoekvorms nog veilig in hulle onderklere laaie versteek is.

 ”Nou ja toe Menere, ek moet nog die laaste van my preek gaan voorberei vir more”, kondig Dominee aan toe hy opstaan, en sy hand in sy binnesak indruk om die geld vir sy twee Cokes uit te haal. Tussen die papiernote is daar een van Martie se kenmerkende pienk aansoekvorms. Die ander manne maak of hulle dit nie raaksien nie.

 Die salon is besig om leeg te loop, en Santie die leerling-haarkapster is besig om die blond, brunet, swart en rooi haarsnippers op te vee. Sy doen dit half motories, terwyl sy aan haar beste vriendin en nuwe vennoot, Martie, in die koue polisiesel dink. Ten minste is twee van die skinderbrokkies korrek, dit is nou die stories oor die canned-fruit bottels en die liniaal. Haar selfoon piep ’n onthou-boodskap. Dit is vyf-uur.

 Santie moet onthou om by die supermark te stop vir ’n liniaal.

8 Responses to “‘n KORTverhaal….”

  1. Girl van die Suburbs Augustus 17, 2009 at 11:42 vm #

    Jippie, die oukie skop nog! Hoop die lendepes is nou onder beheer!😀

    Dit is classic.. Regtig mal hieroor!

    ‘n Liniaal is dus nou die inding?😕

  2. meermin Augustus 17, 2009 at 12:48 nm #

    Dmi ek hoop en glo dat jy beter voel, oulike stukkie hierdie hoor🙂

  3. Sonkind Augustus 17, 2009 at 1:55 nm #

    WoW!!! Lekker storie! Skryf nog.

  4. demoerin Augustus 18, 2009 at 6:58 vm #

    Sommer ietsie wat ek gister uitgedink het terwyl ek veronderstel was om niks te doen nie. Groot pret egter!

  5. betsieboop Augustus 18, 2009 at 9:15 vm #

    😆 dmi you’ve got talent bru !!!

    ons gaan hopelik nog sulke lekker stories kry om te lees?

  6. Girl van die Suburbs Augustus 18, 2009 at 10:50 nm #

    Hier kom ek vriendelik in gehuppel, opsoek na Hoofstuk twee… Opskud oukie!😀

    • demoerin Augustus 19, 2009 at 7:14 vm #

      Dit is ‘n kortverhaal… geen hoofstukke. Maar kyk maar uit vir ‘n nuwe een so af en toe.

  7. boendoe Augustus 19, 2009 at 7:29 vm #

    Oulik, DMI! 😆

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: