Kortverhaal: 15:50 Op Die Platform

26 Aug

Ek het ‘n nuwe kategorie begin – Woordspel – Waar ek met woorde gaan speel. Hier volg dan nou die tweede kortverhaaltjie….

14:55 Op Die Platform

 Op die platform sit ‘n middeljarige dame met ‘n blommetjiesrok, sykouse en hakskoene op die enigste houtbankie wat nog heel is. Sy sit reg in die middel, arms uitgestrek na die kante toe, met hande wat op die rooi houtplankie, die een tussen die groene en bloue, rus. ‘n Statige vorm in ewewig. Sy is nie haastig nie. Die trein bring ‘n man wat vreemd is van aangesig, maar bekend in woorde. ‘n Hoekie-vir-eensames ontmoeting deur ‘n brief in die VroueKeur bewerkstellig. Die trein is cupid se vlerke.

 Op die platform, leunend teen die enigste koelteboom, staan ‘n jongman en suig aan ‘n Camel. Hy staar nikssienend na die rookdampe wat hy uitblaas. Hierdie dorpie het te klein geword om hom en sy jarelange boesemvriend te huisves. Dit is nou die vriend wat hy gisteroggend in ’n vurige omhelsing met sy verloofde op sy eie bed betrap het. Hulle het nie klere aangehad nie. Die trein is die deksel op sy liefdesverhaal.

 Op die platform is ’n stel tweeling-dogtertjies met blonde wipstert-poniesterte. Hulle hou hande vas en sukkel om hulle bene van die opwinding stil te hou. Uit hulle onsamehangende gebabbel en gelag skyn hulle opwinding helder deur. Hulle is geklee in enerse somerrokkies met wit sokkies en blinkswart Sondagskoolskoene. Hulle pa was vir ’n hele week lank weg na die groot stad toe vir besigheid. Die trein is die draer van geskenke.

 Op die platform staan ‘n jong dame half verskans agter die Stasiemeester-rooibaksteen-kantoortjie se muur met ‘n swart wye-randhoed op, laag oor haar oë getrek. Die hoed het ‘n groot geel sonneblom op. Sy loer kort-kort senu-agtig heen en weer onder die hoed uit. Sy wil tog net ongesien hier wegkom. Vader en Moeder mag nie weet van die baba nie. Vader is ten minste die Dominee, en die floute sal Mevrou Dominee oorval oor die skaamte. Die trein is haar silwerspoor-ridder.

 Op die platform staan ’n bejaarde man met die blou uniform van ’n posman aan. Sy gesig is vriendelik en sy wit baard lyk soos die van Kersvader. Hier staan hy week in, en week uit, jaar in en jaar uit, elke Maandag vir die possak en wag. Dit is nou al 50 jaar, en vandag is die laaste keer. Hy tree af. Later vanmiddag nog sal hy die pos sorteer, sodat hy dit more nog kan aflewer. Hy probeer altyd vooruit skat. Vandag dink hy 25 briewe en 5 pakkies. Die trein is die dorp se boodskapper.

 Op die platform, met voete geplant op die laaste rytjie bakstene staan ’n man geklee in ’n withemp en denimbroek, met wit Nike drafskoene. Dit is sy doodspak. Hy het vandag die moed opgebou om hom voor die trein se rollende ysterwiele neer te vel. Een dag lank gelede was hy die bankbestuurder. Toe was hy die bankrower. Toe was hy die tronkvoël. Nou is hy die verwerpte alkoholis. Hy het niks meer om voor te lewe nie. Hy voel leeg. Die trein is sy doodsengel.

 Op die platform staan ‘n paartjie hand-om-die-lyf en giggel soos pasgetroudes. Hy met sy deftige bruin pak klere en blinkgepoetsde leerskoene, en sy in haar ligblou boetiek-pakkie, wit polvye en wit somershoed. ’n Wye verskeidenheid bagasie staan soos ’n vesting om hul gepak. Die portier staan soos ’n opgewende wekker en wag om te help met die oplaai.  Saterdag is hulle 25ste huweliksherdenking, en hulle spaar nou al vir 25 jaar vir hierdie oorsese vakansie. Die trein is hulle weer-begin.

 Op die platform staan ‘n nors man met ‘n swart pak en swart pet en silwer sakhorlosie in die hand. Hy loer eers na die sakhorlosie, en dan na die horlosie op die paal in die middel van die platform, reg langs die bankie met die blommetjies-rok dame. Hy doen dit ’n paar keer gevolg deur die skud van sy kop. Dieselfde paal het twee luidsprekers net onder die horlosie. Die een wys Noord en die ander een wys Suid. Hy is die Stasiemeester en glo aan stiptelikheid. Die telefoon is sy kantoor lui skril en hy verdwyn ongeerg by die deur in. Die trein is nooit op tyd nie. Die trein is sy weeklikse opwinding.

 Op die platform kom ’n geruis oor die luidsprekers. Dit is nou 15:05. Almal op die platform kyk op, en in die rigting van die luidsprekers. Selfs die jong dame met die swart-sonneblomhoed. In ‘n baie offisiële Stasiemeester-stem galm dit luid oor die platform: “Die trein is gekanselleer, want die steenkool het natgereën. Kom weer volgende week terug.”

 Op die platform staan daar ‘n paal met ‘n blink, witgesig horlosie op, bokant twee luidsprekers. Dit is nou 15:10. 

6 Responses to “Kortverhaal: 15:50 Op Die Platform”

  1. Sonkind Augustus 26, 2009 at 2:19 nm #

    Jy beskryf hier so goed dat ek die mense op die platform voor my geestesoog kan sien. Maar nou sal jy dit moet opvolg met volgende week se trein🙂

  2. demoerin Augustus 26, 2009 at 4:32 nm #

    Dit is net lekker speel… ek geniet dit!

  3. Girl van die Suburbs Augustus 26, 2009 at 10:11 nm #

    Ek laaik jou lekker-lees stories! Wonder of jy skryf oor mense in jou lewe? Hmmmm😕

  4. demoerin Augustus 27, 2009 at 7:36 vm #

    Girlie…. ek het al voorheen genoem dat my brein oortyd werk terwyl ek huistoe ry. Ek maak die dinge op soos wat ek aangaan…. en probeer altyd die visuele voorstel – Hoe dit in ‘n movie of op die verhoog sal lyk. Ongelukkig maak ek nie notas nie….

    • Girl van die Suburbs Augustus 27, 2009 at 8:43 vm #

      Jong… Ek sit vas genael vir die volgende ene… Ek vrek mos oor enige vorm van woordspel!😉

  5. betsieboop Augustus 27, 2009 at 2:53 nm #

    sjoe DMI ! nou gevoel ek is op daardie platform!

    ongelooflik! werklik! dankie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: