Kortverhaal: Die Klop

1 Sep

IMGP1068A

Die Klop

 Dit was skuins na sewe toe die klop aan die blou deur die huishouding in rep en roer dompel. Huisbesoek deur Dominee was nog altyd ‘n groot gebeurtenis. Een van enorme proporsies. “Naand Dominee, kom maar binne.” “Naand Mevrou.” ”Stap maar deur.” In die sitkamer met die blommetjies banke sit Meneer op sy gemakstoel. Mevrou neem plaas langs Dominee reg voor die koffietafel met die Royal Doulton teestel. Sy skink. Dominee maak keel skoon en lees ‘n stukkie. Twee kinders sit heel verveeld op die vloer aan Meneer se voete en hoop hulle word verskoon voor die nuwe Ninja reeks op die tv begin. Dominee sê Amen en die kinders word verskoon en Meneer staar na die stofmerke op die koffietafel en wonder wat Mevrou die hele dag doen. “Wat moet Dominee dink?”

 Dominee gesels nog stukkies oor die siek Tant Marie en die opkomende kerkbasaar waarvoor Mevrou tog weer moet bak. “Groot asseblief weer van daardie melkterte Mevrou.” “Seker Dominee,” antwoord Mevrou half senuwee-agtig want sy het die kyk in Meneer se oë gemerk. Vanaand kry Mevrou weer pak slae, want Meneer is immers ‘n Ouderling, en wat gaan die gemeente nou dink van sy lui vrou en die stowwerige koffietafel. Toe Mevrou die deur agter Dominee toemaak sak sy met haar rug teen die deur af, en sit haar hande voor haar gesig vir beskerming. Pleit help nie meer nie.

 Dit was agt uur toe die nuusberig begin het. Dit was ook agtuur toe daar ‘n klop aan die spierwit voordeur was. Pa staan langsaam op, want hy is nie ingenome as sy nuustyd onderbreek word nie. “Verwag jy iemand Ma?” “Nee, Pa. Wees net versigtig as jy die deur oopmaak my man.” Daar kom ‘n gil van die voordeur se kant af en Ma storm die gang af gewapen met ‘n koekroller. Dit is eers toe Ma om die hoek kom dat sy agterkom dat Pa se stem van die deur se kant af verander het in ’n opgewonde deurmekaarmoes van blydskap en trane.

 Voor haar oë in lewende lywe staan hul enigste dogter wie hulle twee jaar gelede al vir dood afgeskryf het. ”Matriekdogter Verdwyn” het die koerantopskrifte uitgebasuin  en die hartseer het diep spore op Ma en Pa se lewens gelaat, saam met die malwordende gewonder oor ontvoerders, moordenaars en mensehandel. Die eerste jaar was hel en die tweede jaar was stilswye. Die dogter staan onseker voor die deur. Die een waardeur sy duidsende kere al vantevore in-en-uit gegaan het. Sy steek haar hand na links uit en trek ‘n kleuter nader. “Ma en Pa, ek is so verskriklik jammer. Ontmoet julle kleindogter.”

 Om vyf minute voor nege is daar ’n ferm klop aan die groen deur. Twee keer. Twee kleuters huppel die trappe af oppad voordeur toe. Pappa is sekerlik by die huis en hy het al weer sy sleutels vergeet. Hy het nou al vir twee weke in ‘n ry elke aand gewerk. Maar Pappa het verduidelik dat die werk van ‘n polisie inspekteur soms in die nag moet gebeur, want dit is wanneer die boewe op hulle besigste is. Mamma keer hulle halfpad die gang af voor, en stuur hulle die kombuis binne. ”Skakel julle twee solank die ketel aan, en sit die bekers reg. ’n Viering verdien warm sjokolade met marshmallows.”

 Mamma gee nog so ‘n vinnige blik in die spieël in die voorportaal. Sy skuif ’n string hare in plek en trek haar rok reg, terwyl sy luister na die opgewonde stemme in die kombuis. Mamma sit haar hand op die deurknop en met die draai verskyn ’n groot verwelkomende glimlag op haar gesig. Die glimlag verander binne ’n oomblik in afgryse, en sy slaan die deur weer toe. As jy hom nie oopgemaak het nie, het dit mos nooit gebeur nie. Mamma gaan staan met haar rug teen die muur en bars in trane uit. ”Wat gaan sy die kinders vertel?” Die polisieman en –vrou aan die anderkant van die deur hoef niks te sê nie, want sy het die nuus in die vrou se oë gelees. Pappa is dood.

 Mamma sit agter die groen deur en probeer deur hartverskeurende snikke aan twee kleuters verduidelik wat ”dood” beteken.

Op die stoep voor die spierwit deur staan ’n opgewonde, herenigde gesin en babbel oor die nuwe toevoeging tot die familie.

Daar is weer ’n klop aan die blou deur. Dit is die ambulanspersoneel. Meneer het hierdie keer te vêr gegaan. Hy lê in ‘n plas bloed.

 Toe die klop om tien-uur aan die rooi deur kom staan ’n man al klaar gereed om die deur oop te maak. Verlig in die stoeplig staan ’n dame. Haar blonde hare is wild op haar kop gestapel. Haar knielengte swart stewels het blink goetertjies op. Tussen die stewels en haar rooi klou-mini-rokkie is ’n groot stuk visnetkouse-bobeen sigbaar. Haar lippe is rooi. Die man het egter niks klere aan nie. Sy kom doen ook huisbesoek, maar sy is nie die Dominee nie. 

8 Responses to “Kortverhaal: Die Klop”

  1. Emil September 1, 2009 at 11:16 vm #

    Die beelde, die beelde!

  2. Sonkind September 1, 2009 at 12:33 nm #

    Ons soek ‘n bundel!

  3. Girl van die Suburbs September 1, 2009 at 1:32 nm #

    Ag dis so sweet…. Hoe jy die “dame” van die nag beskryf… I laaik! 😀

    • demoerin September 1, 2009 at 2:11 nm #

      Sweet?

      • Girl van die Suburbs September 1, 2009 at 2:20 nm #

        Ja!… Ek hou van die “het blink goetertjies op”… wel dis wat my so laat dink het anyway…. 😉

        Is die blond nou ‘n verwerking uit jou onderbewusyn?🙄

        .

        • demoerin September 1, 2009 at 4:53 nm #

          Dalk as dit ‘n brunet was en my beskrywing het geklink soos Eva Langoria… dalkies dan miskien net.

  4. betsieboop September 2, 2009 at 10:42 vm #

    onwillekeurig (?) dink ek nou aan tommy knockers tommy knockers knocking on your door!

    tog te lekker om jou stories te lees. dankie dmi

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: