Woordspel… Die Koek en die Eier

15 Sep

Die Koek en die Eier

 Die Koek-en Tee Klub vergader elke week. Elke Donderdag om tien-uur in die Roostuin Koffiewinkel, op die hoek van Kerk-en Marais Strate. Die binnehuisversiering grens aan die absurde, want van elke gordyn tot die bekleedsel, ja selfs die breekware is deurdruk met rose van elke kleur en vorm denkbaar. Die koffiewinkel het nie ’n regte roostuin nie en oordaad aan die binnekant moes opmaak vir waar spasie aan die buitekant nie waarde aan die koffiewinkel se naam kon heg nie.

Die klublede begin arriveer om kwart voor tien. Sommige enkel en ander in pare. Die klub het twintig jaar gelede met ’n handjievol dames begin. Soos hul mans oor die jare afgetree het, het hulle mans ook die byeenkoms begin bywoon. Daar is selfs van die boere wat die tydjie van hul plase afknip elke Donderdagoggend. Die tannies dra swaar aan die oorlaaide borde van elke denkbare soet- en soutigheid wat met meel en eiers aanmekaargeslaan kan word. Die ooms wat saam met die tannies arriveer mag nie die borde dra nie. Elke Tannie wil self haar meesterstuk die winkel indra. Die ander moet weet wie die skepper van elke spesifieke meesterstuk is.

Die tannies koek saam aan die eenkant van die koffiewinkel. Die geklingel van teekoppies en silwer vurkies in fyn bordjies is net-net hoorbaar bo die deurmekaar gekletsery. Natuurlik word die dames van die dorp wat nie die byeenkoms kan bywoon nie sleg beskinner. ”Oooo, arme Marie. Wat gaan sy doen?” ”Vertel bietjie?” ”Het jy nie gehoor nie? Haar jongste, Wanda, is mos in die ander tyd.” ”Wat vertel jy my vrou?” ”Ja, en ek het verneem die klein tert weet nie wie die pappa is nie.” ”Ek het nog altyd geweet daardie dogter gaan tot niks kom nie”, en so aan.

Die ooms skaar hulle in die oorkanste hoek, so ver moontlik van die tannies af. Daardie gekekkel moet hulle op ’n daaglikse basis by die huis ook deurmaak, want op die dae wat die klub nie bymekaarkom nie, is wanneer die tannies oor en weer bymekaarkom vir tee. Kleiner en eksklusiewer groepies. Mens het ook mos nou die geleendheid nodig om nuus oor die ander klublede aan mekaar oor te dra. Daarom sit die ooms onder bolle van hulle pyprook, eenkant. So af en toe is daar ’n woordjie oor die weer, of die afgelope Saterdag se rugbywedstryd en die blinde skeidsregter. Maar meerendeels is dit stil. Hemels om omring te wees met mansmense waar jy nie aanhoudend iets hoef te sê nie.

Eintlik is die ooms so stil, want sekere gesprekke word op die koöperasie se stoep gevoer. Hulle het al geleer dat die tannies se ore baie fyn ingestel is, en dat hulle die bo-menslike gawe besit om alles te hoor wat die ooms oor praat, ja, selfs bo die skreiende kekkelkoor. Hulle sal by die koöperasie onderwerpe bespreek soos die nuwe intrekker op die dorp, Santie, wat die huis oorkant die kerk gekoop het. ‘n Boheemse skilder vanuit die stad met kort rokkies en baie lang bene.

Skielik is daar stilte in die Roostuin Koffiewinkel toe die klokkie bokant die deur ’n nuwe aankoms aankondig. Die tannies, want Santie staan in die deur met die mees kunstig versierde drie-laag koek, die gelyke wat hulle seker tien jaar terug op die jaarlikse basaar gesien het, voordat Tant Jannie daardie jaar aan haar hart beswyk het. Die ooms, want hulle het nog nooit so ’n kort rokkie in die dorp gesien nie. Nie in die oggend of in die aand nie, en definiteif nie op die jaarlikse basaar nie.

Dit is asof Santie oor die pienk-en-wit blokkiesvloer sweef in die rigting van die koektafel wat alreeds swaar dra aan al die gebak. Die tannies gemesmereer deur die rooi-en-wit skepping in Santie se hande. Die ooms se oë vasgenael op die bene wat lyk asof hulle nie eers die grond raak nie. Oom Piet het selfs sy bril opgesit.

Santie plaas heel behendig die koek op die hoogste staander, in die middel van die tafel neer. Die tafel staan in die middel, so amper halfpad tussen die ooms en die tannies. Die tannies begin die ooms aangluur totdat hulle een-een gedwonge hulle blikke van die bene na die koek verskuif. Mevrou Dominee, as voorsitster van die klub staan nader om Santie te verwelkom na haar eerste klub-bywoning. Mevrou Dominee het haar aangeplakte glimlag op. Sy praat oor ditjies en datjies as verwelkoming…. maar in haar binneste is sy hewiglik ontsteld oor die koek wat al die tannies soos amateurs laat lyk, en oor die rokkie wat al die ooms soos seuntjies-voor-kersaand laat lyk.

”Ek het ’n voëltjie hoor fluit dat iemand verjaar vandag,” kom dit al pruilend en kokketterig oor Santie se rooi lippe as sy in die rigting van Oom Paul kyk. Oom Paul bloos bloedrooi, maar wonder tegelyketyd of hy die gelukkige ontvanger van ’n soen gaan wees. Jackpot! Die ander ooms gaan so jaloers wees.

”Voor ons vir Oom Paul gaan sing, en ek hom ’n soentjie gaan gee, moet ons eers die kersies aansteek.” Santie bring ’n boksie Lion vuurhoutjies tevoorskyn, en begin om stadig en stelselmatig die 10 kersies aan te steek. Sy wag tot die groter, middelste kersie op die boonste laag goed brand, voor sy omdraai en met ’n kyk na die ooms en tannies die eerste noot met ’n fluweelsagte altstem insit.

”Veels geluk liewe Oom Paul, omdat….”

Die ontploffing verander die Roostuin Koffiewinkel binne ’n oogwink in ’n gruwelfliek stel. Glaskerwe word in duisende stukkies uit die vensters geruk en konfettie op die sypaadjie op die hoek van Kerk- en Marais Strate neer. Die porselein koppies, pierings en bordjies reën in miljoene brokkies neer. Die ooms en tannies lê verfrommel in verskillende vorme van dood. Party sonder arms, ander sonder bene, ander sonder arms en bene. Daar sit spatsels bloed en stukke koek en tert oor die geel roosmotief muurpapier. Dit is doodstil. Dit is vyf sekondes na die ontploffing.

Die selfmoordbrief was in die volgende dag se oggendkoerant.

”This selfless act of heroism against the farmers would hopefully proof to in future revolutionize the chicken industry. Hopefully our deaths will proof to not be in vain and battery chickens will soon be a thing of the past. These animals are our source of meat and eggs under atrocious circumstances. Long life the free-range chicken!”

15 Responses to “Woordspel… Die Koek en die Eier”

  1. meermin September 15, 2009 at 9:21 vm #

    Môre jy op my blog is foto’s van my twee katte wat hierdie naweek deur iemand vergiftig is, nogal TWO STEP! Hulle was die mooiste mooiste katte met die allermooiste blou ogies!!

    • demoerin September 15, 2009 at 9:40 vm #

      Agge nee meermin. Sulke mense verdien marteling!

  2. MaanKind September 15, 2009 at 9:33 vm #

    Aangename kennis!

    • demoerin September 15, 2009 at 9:39 vm #

      Welkom in die blogosfeer!

  3. Dellie September 15, 2009 at 10:06 vm #

    Sjoe! Very nice! Jy’t my uitgeboul met die einde! Weet nie of ek nou verward of geskok is nie.

    • demoerin September 15, 2009 at 10:08 vm #

      My denke is maar partykeer bietjie makabre. Dalk kyk ek te veel sulkie movies?😆

  4. Girl van die Suburbs September 15, 2009 at 10:07 vm #

    Miskien moet ek net laag le…. Ek het jou vragies beantwoord…. maar ek hoop dis nou dit! ❓

  5. Girl van die Suburbs September 15, 2009 at 10:17 vm #

    Wahahahha… Lekker man! Net jammer oom Paul het toe nooit sy soen gekry nie…

  6. rosalindfranklin September 15, 2009 at 1:32 nm #

    Ek is absoluut mal hieroor, kiep-kiep lekkerrrrrrr!

  7. betsieboop September 15, 2009 at 2:41 nm #

    jeez — hier sit en wag dat die girly vir die ouballie ‘n soentjie moet gee maar helaas — sy blaas hom toe moerlandspant toe !

    ek luve jou stories dmi!

  8. BB September 16, 2009 at 12:42 nm #

    Ek is seriously steeds in ‘n toestand van😯 – you got a seriously grrrrrrrreeeeeeaaaaaaat script mind DMI!!

    • demoerin September 16, 2009 at 12:44 nm #

      😆 Amper lees ek daar sick mind…. bwahahaha

  9. MaanKind September 16, 2009 at 1:51 nm #

    En hier wag ek dat Santie en oom Paul…

    • demoerin September 17, 2009 at 6:35 vm #

      My mind werk nie in “happy-ending mode” nie😆

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: