Woordspel…. ‘n Nuwe Dag: Altyd

20 Oct

Gaan bietjie wild in my wêreld….. hier is darem ‘n woordspel.

Oseas 2 022

‘n Nuwe Dag: Altyd

Die lug word gekleur in skakerings van rooi en oranje. Son steek sy kop uit daar waar die horison en die see ontmoet, en ’n nuwe dag word gebaar. Die lig glinster op die water en word met die ritme van die see met ‘n gedruis op die Durbanse strand uitgestort. Op die pier is ’n swart silhoeët ge-ets teen die nuwe lig.

Trane laat ‘n hartseer spoor oor haar wange. Dit rol vrylik. Ongestoord. Stil. Haar hart voel nog in twee, maar met elke sekonde herinner haar brein haar aan die nuwe. Een. Saam is nou saam met gister in die geskiedenis, en uit vandag spruit die nuwe gevoel van alleen. Liefde en drome lê vasgeys op die bors van haar toekoms in ’n koue lykshuis. Sy keer haar rug op die see en stap die doodsmars na haar kar om die reëlings te begin tref om stukkies van haar geskiedenis te begrawe.

Oggendson maak strepies deur die blinders op sy rekenaarskerm. Son is omvou deur helderblou lug, skoongewas deur gisteraand se Johannesburg donderstorm. Hy staar nikssiende voor hom uit. Bekommernis is geplant in diep vore op sy voorkop. Die mooi is daar buite, binnekant die spasieuse hoekkantoor hang spyt soos stank in die lug. Teleurstelling en pyn borrel soos braaksel in sy keelgat op.

Dit is 10h55. Oor vyf minute gaan hy vir die eerste keer in dertig jaar afdankings moet doen. Al 100 personeellede. Die maatskappy wat sy lewe en welfaard tot gister toe nog verteenwoordig het, gaan more sy deure finaal sluit, agter die rug van die balju. Resessie het nog ’n slagoffer op sy kerfstok gemerk. Hy staan sukkel-sukkel uit die gemaklike leerstoel op en loop langsaam in die rigting van die raadsaal. Die laaste week het twintig jaar by sy vyftig gevoeg.

Middagson brand fel op die teerstrate van Bloemfontein neer. Die paar mense op straat  volg flink die skadu’s van koeltebome met sakdoeke in die hand om die glinsterende sweet op voorkoppe af te vee. Die stad is genadeloos omvou in hittegolwe wat oor die strate spoel met geen teken van wolkverligting op die vier horisonne nie.

Binnekant die wit lugversorgde hospitaalmuree sit ‘n man skuinserig op die kant van ’n vrou se bed. Sy een voet op die grond geplant, die ander een hangende in die lig. Trane stort uit beide se oë. Vreugde. Na tien jaar se probeerslae en talle miskrame lê daar nou ’n bondeltjie toegevou in haar arms. ’n Gesonde baba. ’n Kuur vir tien jaar se terminale hartseer.

Sonsondergang verf geel, oranje en rooi oor die koue Atlanties aan die Kaapse kus. Son trek stadig sy kombers oor die dag, en nag sprinkel blink sterre oor die hemelboog.

Op die patio van ’n restaurant staan ’n man in ’n swart pak en ’n vrou in ’n spierwit rok en tuur na waar die maanstreep die horison ontmoet. Die rigtingwyser  na ’n nuwe lewe. Saam. Hulle klink hul sjampanje glase en draai hul na waar die bruilofgaste die nuwe toekomsband vier.

’n Paar uur later is dit stil oor Suid-Afrika. Donker. Rustig.

Son sal more weer skyn. 

30 Responses to “Woordspel…. ‘n Nuwe Dag: Altyd”

  1. Sonkind Oktober 20, 2009 at 11:59 vm #

    Son skyn mos maar altyd weer. Iewers.

    • demoerin Oktober 20, 2009 at 1:40 nm #

      Yip. Die hele tyd. Partykeer leen ons hom net bietjie vir ‘n ander land.

  2. Girl van die Suburbs Oktober 20, 2009 at 1:17 nm #

    Oukie!!!!

    Jy sal maak dat ek tjank!

    Hoop en liefde… is regtig al waaroor die lewe gaan.

    Ek sien uit na my nuwe begin….. wat al reeds begin het!

    • demoerin Oktober 20, 2009 at 1:41 nm #

      Nee man, ek soek nie nog trane op my gewete ook nie!

      • Girl van die Suburbs Oktober 20, 2009 at 1:46 nm #

        “Liefde en drome lê vasgeys op die bors van haar toekoms in ’n koue lykshuis.”

        Hoe sad is dit,… dit sal maak laat ek tjank!

        • demoerin Oktober 20, 2009 at 4:00 nm #

          Noudat jy dit so uitlig dink ek dit is nogal ‘n moer cool beskrywing.

        • Emil Oktober 20, 2009 at 4:42 nm #

          Dit kan woorde in ‘n song wees!!!

        • Girl van die Suburbs Oktober 21, 2009 at 8:55 vm #

          Wel…dan se ek maar liewer niks oor die doodmars nie!

  3. meermin Oktober 20, 2009 at 1:24 nm #

    Jy sal mos dat al my make up smeer … lekker dag vir jou!

    • demoerin Oktober 20, 2009 at 1:42 nm #

      Soos ek vir girlie geantwoord het, genoeg ek het die klomp werk op my gewete…. nie dit ook nog nie!😉

  4. Rustig Oktober 20, 2009 at 2:36 nm #

    Die son sien alles!😉 Ek sien ek is ook in die storie op die einde. Hou daarvan!😆

    • demoerin Oktober 20, 2009 at 3:28 nm #

      😆 Amper dog ek jy praat van die troue!

  5. Vlam Oktober 20, 2009 at 4:02 nm #

    Elke mens se lewe is ‘n storie. Fascinating. 😉

    • demoerin Oktober 20, 2009 at 4:32 nm #

      Yip, en almal onder dieselfde son wat vanaand gaan ondergaan en more weer gaan opkom.

  6. Emil Oktober 20, 2009 at 4:47 nm #

    Die inskrywing is wonderskoon. Daar is werklik vir my beeldskone simbole in versteek. En eksotiese idiome. Daai lykshuis sin klink werklik soos ‘n frase uit ‘n song.

    • demoerin Oktober 20, 2009 at 4:54 nm #

      Dankie. Ek geniet dit nogal as ek kans kry…. en natuurlik my brein in sesde rat kan kry!
      Miskien moet ek met BB oor ‘n song praat😉

  7. Dellie Oktober 20, 2009 at 6:16 nm #

    Wow! Jy kan toor met woorde Demoerin. Baie, baie nice.😉

  8. boervrou Oktober 20, 2009 at 6:22 nm #

    NIce, met elke nuwe sonopkoms, kom nuwe hoop en ‘n nuwe begin.

  9. Wipneus! Oktober 21, 2009 at 7:37 vm #

    Ek sê mos nog altyd jy het ‘n talent vir skryf en jy kan toor met woorde. Baie nice Dm 🙂

  10. demoerin Oktober 21, 2009 at 12:12 nm #

    Paddas in prinse? Stel nie belang nie😆

  11. Die Brein Oktober 21, 2009 at 8:00 nm #

    Jy is `n diepmens en het werklik talent en vir `n mens wat nie baie tyd het nie is die `n meesterstuk.Welgedaan ou maat.

    • demoerin Oktober 22, 2009 at 6:46 vm #

      Hi Brein… bly om te sien jy lees nog, al skryf jy nie meer nie.
      Dankie, ek moet eintlik meer tyd daaraan spandeer, dan kan die stukke seker beter afgerond word😆

  12. Joh Oktober 27, 2009 at 6:14 nm #

    Jy kan toor met woorde, nê!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: